Woord Vooraf (100 Genadejare met Christus)
Op 'n aand in Februarie 1942 het ek as 'n eerste jaar student in die Abraham Fischer Tehuis by die destydse UKOVS in Bloemfontein aangekom. Die paar mede-"groenkoppe" wat ek daardie aand leer ken het, het vir die volgende drie jaar, én in die jare daarna onder my beste vriende getel. Een van hulle was Fanie Jooste, toe afkomstig van Koppies. Hy het sy lewe aan die onderwys gewy; was later onderhoof en waarnemende hoof aan die Hoërskool Fort Beaufort, en nog later dosent en uiteindelik mede-departementshoof in Opvoedkunde aan die Potchefstroomse Onderwyskollege. Hierdie lojale vriend is op 6 Junie 1922 op Christiana gebore. Dit was 'n vroeë verbintenis met dié dorp aan die Vaalrivier.
Drie jaar later, op 20 Februarie 1945, het ek en my klas- en kamermaat, Piet Grobler, by die Eendrag-losieshuis bo in Dorpstraat op Stellenbosch aangekom. Ons is om die huis geneem na twee kamers in die agterplaas waar ons losies bespreek was. By die eerste deur het ons ingestap. Dit sou ek en Piet se kamer vir die jaar wees. Toe het ons by die deur langsaan geklop en ingeloer. 'n Man het skuins oor die bed gelê, en, toe hy Piet sien en hoor, dadelik orent gekom. Hulle het mekaar geken van Potchefstroom en Pretoria, waar albei tevore studeer het. Piet het my voorgestel aan Sarel Eloff, toe al 'n man met 'n meestersgraad in Sosiologie, en besig met sy doktorsgraad. Dit het Piet my dadelik meegedeel. Trouens, het hy verder vertel, Sarel het ook al as lektor aan die PUK vir CHO opgetree. Uit sy eie sou Sarel dit dié dag seker nie gesê het nie. Ek het hom dadelik ervaar as 'n sterk persoonlikheid, effens stug en uitgesproke ten opsigte van die dinge waarvan hy oortuig is. So sou ek hom later ook, veral as debatteerder in sinodes meemaak: altyd 'n betroubare medestander én 'n gedugte teëstander.
Ek het die Here later in my lewe dikwels gedank vir sy wonderlike beskikking dat Sarel Eloff die eerste student moes wees wat ek op Stellenbosch sou ontmoet. Ouer as ekself, en meer ervare, sou hy in die daaropvolgende jare 'n onberekenbare invloed op my lewe uitoefen. Op 'n kwartaal na, het ons die vier jaar op Stellenbosch saam loseer, saam studeer, en in 1948 saam MTh-grade verwerf. Dit was 'n verdere en veel hegter binding met Christiana, waar Sarel se vrome ouers in Rivierstraat gewoon het. Tydens ons studiejare het ek 'n keer op Christiana met Geloftefees gehelp en dit was 'n verdere geleentheid om met Christiana en sy mense kennis te maak.
In die lig van die voornoemde sal die leser iets verstaan van die gewaarwordinge in my hart toe Prof E P J Kleynhans die huidige leraar van Christiana my op 'n môre in 1997 skakel om te hoor of ek verantwoordelikheid vir 'n bundel met Christiana se aanstaande eeufeesviering kan aanvaar.
Vanweë die gebruiklike beperkte oplaag wat daarvan gedruk word, is die publikasie van 'n gedenkboek 'n duur onderneming. Miskien is dit die rede waarom so iets nog nie tevore in die geskiedenis van Christiana aangepak is nie. En tog is daar rede vir so 'n onderneming, nie alleen as 'n gebaar van diepe erkentlikheid teenoor hulle wat vóór ons in die strydperk was nie, maar ook as uitdrukking van die opwellende dankbaarheid van ons hart teenoor die troue Verbondsgod wat sy gemeente oor die afgelope honderd jaar in sy genade bewaar, gedra en gebruik het.
Bewus van eie swakheid en die eise wat so 'n opdrag aan 'n skrywer stel, het ek dus tog ingestem om aan die versoek van Christiana te voldoen en dit van die begin af as 'n uitdagende voorreg gesien en ervaar. Daarom dank ek die leraar, kerkraad en gemeente vir die eer wat hulle my aangedoen het.
Toe die dorp Christiana in 1970 sy eeufees gevier het, het die plaaslike Stadsraad gesorg vir 'n mooi publikasie: Christiana Eeufees 1870-1970. As historiese verwysingsraamwerk vir die gemeente se geskiedenis kon ek daarvan, soos ook van die getikte stuk, Die geskiedenis van Christiana soos opgestel met die besoek van die Poskoets 20 Februarie 1952, met erkentlikheid en vrug gebruik maak. Omdat in die publikasie van 1970 redelik uitvoerig ingegaan is op die geskiedenis van die dorp en die plaaslike skole, het ek my in die onderhawige geskrif in hoofsaak by die geskiedenis van die gemeente bepaal en is, waar nodig en moontlik, slegs in die verbygaan na die onmiddellike milieu verwys.
Ten einde die gang van die geskiedenis na te vors, is in die eerste instansie van die primêre bronne gebruik gemaak: die kerkraadsnotules en ander relevante gemeentelike stukke. Dit is jammer dat die vroegste notules en ander boeke tydens die Tweede Vryheidsoorlog vernietig is. Die vroegste beskikbare notule is dié van die vergadering van 12 Januarie 1903. Vir die beskrywing van die periode 1898-1902 moes derhalwe gebruik gemaak word van karig beskikbare sekondêre bronne. Ek meen nietemin dat 'n redelike geheelbeeld van die gemeente se geskiedenis gevorm kon word. Ek boekstaaf graag my dank teenoor die Kaapse, Vrystaatse en Transvaalse Kerkargiewe vir hulp wat ek vandaar ontvang het. Daar is vier nog lewende oud-leraars van die gemeente en twaalf gemeenteseuns in die bediening met wie geskakel moes word. Ek het van hulle vriendelike hulpvaardigheid ervaar - ook en veral van die huidige leraar en sy gade, ds en mev J W Strümpher, en verskeie gemeentelede en oud-gemeentelede. Ek het waardering vir hulle steun en belangrike bydraes om my taak te kon volvoer. My besondere dank ook aan my skoonseun, dr Jannie Maree, van die WNNR Pretoria en 'n oud-student en buurman, dr Francois Tolmie, van die Fakulteit Teologie aan die UOVS, wat met bewonderenswaardige geduld vir my op betreklik "gevorderde" leeftyd met die vir my duistere geheime van 'n rekenaar vertroud gemaak het. En van 'n ander oud-student, dr Gerdrie van der Merwe van Kuruman, het ek, uit sy omvattende versameling van kerkhistoriese geskrifte, belangrike studiemateriaal bekom. My dank aan hom. Terwyl ek met deernis deur die bladsye van Christiana se veel-bewoë geskiedenis geblaai het, het ek telkens onwillekeurig gedink aan die gemeente van Smirna aan wie die Here Jesus ook 'n brief laat skryf het. "Ek ken julle verdrukking en julle armoede, en tog is julle ryk". So sê die Koning van die kerk aan hierdie gemeente en voeg dan bemoedigend daaraan toe: "Bly getrou tot die dood toe, en ek sal julle die lewe as kroon gee" (Openb 2:9,10). By die hartlike woord van gelukwensing van my kant, gee ek graag hierdie Skrifwoord aan Christiana by die herdenking van sy honderdste verjaarsdag.
Prof E P J Kleynhans
28 April 1998
Naskrif: Prof Kleynhans is onverwags op Saterdag 16 Mei 1998 oorlede. Met sy afsterwe was die manuskrip van hierdie boek reeds volledig voltooi. A1 wat nog gedoen moes word, was die proefleeswerk, finale redigering en die plasing van die foto's. Ek het dit na die beste van my vermoë probeer doen en vertrou dat daar nie te veel foute deurgeglip het nie. Omdat hierdie boek prof Kleynhans se laaste is, verskyn 'n kort huldeblyk aan hom agterin.
Dr Francois Tolmie
10 Junie 1998

