Die Gemeente in Wording 1870 - 1898

Christina Petronella Meyer, gebore Pretorius, enigste kind en dogter van Staatspresident M W Pretorius, na wie die dorp Christiana vernoem is.
HOOFSTUK 1
HISTORIESE AGTERGROND
Voordat die Groot Trek 'n aanvang geneem het, is drie ekspedisies - ook bekend as die Kommissietrekke - in 1834 uitgestuur om die ongetemde en grootliks nog onbekende binnelande te verken. Die eerste, onder leiding van J A Pretorius, het na die dorre gebied ten weste van die samevloeiing van die Vaal- en Oranjeriviere gegaan. 'n Tweede, van wie H Scholtz die leier was, het die hooglande ten weste van die Drakensberge besoek. Die derde was onder leiding van P L Uys, wat drie jaar later self 'n trekleier sou word. Hy het die gebied aan die oostekant van die Drakensberge, tans bekend as Natal, gaan verken.
Oor die rapporte van hierdie drie kommissies is weinig bekend, maar tog wel dat die eersgenoemde geselskap die Noordweste as "'n droë, waterlose, onherbergsame sandwêreld" beskryf het. Waarskynlik om dié rede gaan die pad van die Groot Trek op die spore van die laasgenoemde twee ekspedisies. Dit lyk ook redelik voor-die-hand-liggend dat dit aan hierdie bevinding te wyte was dat die blanke beskawing in die gebied wat deur J A Pretorius besoek is, in verhouding met die ander gebiede, enigsins later eers deurgedring het. Oor die streek, waar Kimberley teen 1870 tot stand sou kom, skryf Brian Roberts soos volg: "In more ways than one could it be described as a no man's land; lying between the Great Karoo to the South, the undulating grasslands to the north-east and the Kalahari desert to the north-west". Ook 'n ander faktor het tot die vermelde toedrag van sake bygedra. Die streek tussen die Vaal- en die Hartsrivier is heeltemal ontvolk deur die moord- en plundertogte van die Matabele. Handelaars en jagters beweer dat die Barolong, wat onder Sifonela hul hoofstad in die omgewing van Makwassie gehad het, die wyk geneem het voor die Matabele en "niemand, behalwe die twee konings, Moselekatse en die leeu, het hier geregeer nie". Wes-Transvaal was 'n toneel van doodsbeendere en verwoeste krale. In Januarie 1837, enkele maande na die slag van Vegkop, waar die Voortrekkers deur 'n oormag van die Matabele aangeval is, is 'n strafekspedisie onder leiding van Andries Hendrik Potgieter en Gert Maritz teen die Matabele onderneem en is hulle by Mosega verslaan. 'n Paar maande later trek 'n tweede strafekspedisie onder leiding van Potgieter en Piet Uys teen Moselekatse op en dien hom 'n gedugte neerlaag toe. Daarna het die hele Matabelemag die gebied verlaat en hulle oorkant die Limpoporivier gaan vestig.
Skrywers beweer dat impi's van die Barolong die Potgieterkommando op albei ekspedisies ondersteun en deels ook bygedra het tot die vernietiging van die Matabelemag in die slag van Kapain tussen 4 en 12 November 1837. Na dié slag het verskillende swart stamme na Potgieter gekom om verblyfplek van hom te verkry. Hy het aan hul versoek voldoen en aan hulle bepaalde gronde in die omgewing van die latere dorpe Bloemhof en Christiana aangewys. Ongelukkig het die verhouding tussen wit en swart nie altyd so goed gebly nie, en moes 'n kommando onder bevel van Paul Kruger teen 1858 gestuur word om teen die Barolong op te tree. In 'n daaropvolgende skermutseling is hul destydse leiers, Gaseboni, gedood. 'n Jaar later moes die Vrystaatse regering ook 'n strafekspedisie stuur teen 'n sekere Scheel Kobus wat in die streek tussen die Vaal- en die Hartsrivier gewoon en moorddadige aanvalle op boere in die Wes-Vrystaat gemaak het.
BLOEMHOF EN CHRISTIANA AS DORPE GEPROKLAMEER
Die distrik Bloemhof is in 1866 as dorp geproklameer ten einde die gesag van die Zuid- Afrikaansche Republiek nader aan die toneel van onrus en woeling aan die Wesgrens te bring. Op 7 Januarie 1867 is die heer William Best as landdros van Bloemhof aangewys. Minder as drie jaar later, op 30 September 1869, rig kommandant J W Viljoen, veldkornet H C Weber en landdros W Best 'n versoek aan die regering van die Z A Republiek om 'n dorpie aan te lê by Zoutpansdrift aan die westekant van Vaalrivier. Hulle stel terselfdertyd voor dat die naam Christiana aan die nuwe dorpie gegee sou word. Volgens oorlewering moet ons aanneem dat Christina Petronella, die enigste kind van president Marthinus Wessel Pretorius en kleindogter van Andries Wessel Pretorius, die held van Bloedrivier, so vernoem sou word. Op 30 Oktober 1869 word Best se brief met dié versoek voorgelê aan die Uitvoerende Raad van die Z A Republiek, wat sy goedkeuring heg aan die stigting van die dorp. Landdros Best word dienooreenkomstig verwittig. Hy laat nie gras onder sy voete groei nie en as hy op 21 April 1870 in Pretoria is, gebruik hy die geleentheid om Die Regulatiën voor het nieuwe dorp Christiana aan die regering voor te lê. Die volgende dag neem die Uitvoerende Raad hierdie regulasies in behandeling en na enkele wysigings word dit, tesame met 'n plan vir die uitleg van die dorp, goedgekeur. Terselfdertyd word ooreengekom dat die dorpsgronde 'n oppervlakte van 10 000 morge sou beslaan. Op 4 Junie 1870 word die maatreëls in verband met die stigting van Christiana, wat tot dusver deur die Uitvoerende Raad geneem is, aan die Volksraad voorgelê en, na heelwat bespreking, op 7 Junie goedgekeur. Op 23 Junie word vervolgens besluit om die Landmeter-generaal te gelas om sonder versuim die dorp Christiana op te meet of te laat opmeet. Landmeter-generaal Magnus Forsman het persoonlik na Christiana gereis en gedurende September en Oktober 1870 vind ons hom besig met die opmeet en uitleg van die dorp. Op 25 November 1870 is die eerste erwe verkoop. Die here Viljoen, Weber en Best het reeds in hul versoek van 30 September 1869 die wenslikheid van die verskuiwing van die landdroskantoor van Bloemhof na Christiana geopper. Op 21 Oktober 1870 word 'n dergelike versoekskrif, afkomstig van 'n groot aantal burgers uit die distrik van Bloemhof aan die Uitvoerende Raad voorgelê. Die Uitvoerende Raad vereenselwig hom met die versoek en nog voor die einde van 1870 word die landdroskantoor van Bloemhof na Christiana verskuif. Terwyl William Best landdros word op Christiana, word 'n vrederegter in die persoon van Daniel Webster in Bloemhof geplaas.
CHRISTIANA - 'N LEWENSVATBARE DORP
In 'n kort historiese oorsig van die gemeente, waarskynlik geskryf deur ds D J Streicher, wat toe daar predikant was, word in 1952 na Christiana verwys as die gemeente "op die wal van die Vaalrivier... aan die uiterste vingerpunt van Wes-Transvaal". Tot die lewensvatbaarheid van dié jong dorpie sou Vaalrivier van die begin af 'n onberekenbare bydrae lewer. Maar daar kom iets by. Slegs 113 kilometer suid van Christiana het Kimberley ook in 1870 tot stand gekom. Die opspraakwekkende ontdekking van diamante by die Colesbergkoppie, waar die bekende Kimberley-myn onmiddellik daarna ontgin word, het heel gou duisende mense uit alle dele van ons land én die buiteland na Kimberley gelok. Aanvanklik is predikante van tyd tot tyd deur die Kaapse en Vrystaatse kerk gestuur om na die geestelike heil van die groeiende delwersbevolking in Kimberley om te sien, maar eerlank ontstaan twee gemeentes: Du Toitspan in 1872 en Vooruitzicht, wat later Kimberley geword het, in dieselfde jaar. Langs die Vaalrivier op het die diamantkoors verder versprei en hom weldra ook in Christiana laat voel. Trouens, reeds teen 1869 was dit bekend dat ryk diamantgrond in die omgewing van Christiana geleë was. Op 6 Julie 1871 stel William Best die regering in kennis dat hy reeds 17 kleims verkoop het, en daeliks verdere aansoeke om kleims ontvang. 'n Delwerskomitee, bestaande uit M Wickelhausen, I C Cawood, I de la Rey en I H F Hiezman, wat ook as sekretaris opgetree het, het die Delver's Regulatiën Christiana, Zuid- Afrikaansche Republiek opgestel en dit is voorgelê aan die Uitvoerende Raad wat dit met enkele wysigings goedgekeur het. Die dorp Christiana was goed van die grond af.
DIE KERK OP DIE TONEEL
In dankbaarheid teenoor die Koning van die kerk, sou dit gestel kon word dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk, wat in 1652 saam met Jan van Riebeeck en sy geselskap na die Kaap gekom het, die uitbreidende beskawing na die binnelande van Afrika op die voet gevolg het. So sien ons dit in die totstandkoming van gemeentes soos Tulbagh (1743), Swartland (1745), Graaf- Reinet (1792), Swellendam (1798), George (1813), Uitenhage (1817), Beaufort-wes (1819), Somerset-Oos (1825) en Colesberg (1826) (Stigtingsdatums in hakies agter die naam). In die vorige paragraaf is melding gemaak van Kimberley, waar diamante ontdek is in 1870 en die eerste twee gemeentes in 1872 gestig is. Dit sou ook die patroon in Bloemhof en Christiana wees. Bloemhof is die oudste gemeente in die verre Wes-Transvaal en is in 1870 reeds gestig te wyte aan 'n yl bevolking en 'n heersende tekort aan predikante, is daar aan die begin van die gemeente se geskiedenis meermale met lang vakatures geworstel. So het daar eers 18 jaar na die gemeente se stigting vir die eerste keer 'n verteenwoordigende leraar van Bloemhof by 'n sinode verskyn. Hy was ds G J Malherbe wat in 1886 met oplegging van hande in Bloemhof bevestig is. Hy word opgevolg deur ds W F Knobel, wat die gemeente van 1892 tot 1896 bedien. Die derde leraar sou ook sy bediening daar begin. Hy was ds K T van den Heever, wat in 1896 gelegitimeer en op 1 Mei 1897 met oplegging van hande in Bloemhof bevestig is.
CHRISTIANA TWEE KEER GESTIG
Christiana was van die begin af deel van die gemeente Bloemhof en een van die plekke waar gereeld buitedienste gehou is. Ds G F C Faustman, predikant van Schweizer-Reneke, was konsulent van Bloemhof en het in hierdie hoedanigheid by tye ook in Christiana die Woord verkondig en selfs die sakramente bedien. Christiana is tewens reeds enkele jare voor 1898, wat vandag as die amptelike stigtingsdatum van die gemeente aangegee word, as selfstandige gemeente gestig. Die tyd het egter geleer dat Christiana nog nie vir 'n onafhanklike bestaan ryp was nie, en daarom het dit in 1895 weer deel van Bloemhof geword. Dit blyk uit 'n berig in De Kerkbode van 2 Junie 1898: "De gemeente Christiana, Z A R, die sedert 1895 een deel van de gemeente Bloemhof heeft uitgemaakt, is thans wederom tot eene afzonderlijke gemeente gesticht. Een bazaar bij die gelegenheid gehouden bracht 101 pond op; en di Van der Spuy en J Strasheim verblijden de gemeente door hunne overkomst en hunne prediking bij de avondmaalsdiensten. Die stigting van Christiana het dus kort voor 2 Junie 1889 plaasgevind." Die kerkraadsnotule van 9 Julie 1904 bevestig dit en stel die datum op 7 Mei 1898. Ds J W G Strasheim, toe predikant van Klerksdorp, het by die afstigting leiding geneem. Daarom word in bostaande berig van hom melding gemaak. Hy en die ander vermelde leraar, waarskynlik ds S J van der Spuy van Zeerust, het volgens die berig ten tye van die afstigting die Woord verkondig en die nagmaal bedien. Nadere besonderhede in verband met die afstigting is ongelukkig nie beskikbaar nie, aangesien die vroegste geskrewe notules saam met ander stukke tydens die Tweede Vryheidsoorlog deur brand vernietig is.
VERWYSINGS
Van der Watt. P B: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834- 1866: 31
Geskiedenis van Kakamas deur Wyle Meester: 1. Hierdie Ongepubliseerde manuskrip in die Kaapse Kerkargief is Waarskynlik skrif gestel deur mnr M J Oosthuizen wat van 1919 tot 1950 skoolhoof van Kakamas was. In die gemeenskap van Kakamas is algemeen van hom gepraat as "Meester Oosthuizen". Vgl Hopkins, H C: Kakamas - Uit die Wildernis 'n lushof: 143-147
Roberts, B: Kimberley Turbulent City: 3, 4
Christiana Eeufees 1870-1970: 4
Venter, E A: Ons Geskiedenisalbum: 108
Christiana Eeufees 1870-1970:4, 5
Christiana Eeufees 1870-1970:5
Die geskiedenis van Christiana soos opgestel met die besoek van die poskoets 20 Februarie 1952 (Hierna verkort weergegee: Geskiedenis van Christiana 1952): 1
Geskiedenis van Christiana 1952: 1
Geskiedenis van Christiana 1952: 1
Olivier, P L: Ons Gemeentelike Feesalbum 1952: 431
Christiana Eeufees 1870-1970: 8
Olivier, P L: a w: 416
Eeufeesuitgawe Kweekskool Stellenbosch 1859-1959 (Hierna verkort: Eeufeesuitgawe Stellenbosch 1959): 125
De Kerkbode 2 Junie 1898: 338
Kerkraadsnotule N G Kerk Christiana (Hierna verkort: Kerkraadsnotule): 9 Julie 1904 Eeufeesuitgawe Stellenbosch 1959: 121; Olivier p L: a w 415 Christiana Eeufees 1870.1970: 16