Historiese Agtergrond
INLEIDING
Die geskiedenis van die verre Wes-Transvaal, waarvan die huidige distrik Christiana deel uitmaak, staan in die nouste verband met die moeilikhede waarmee die Suid-Afrikaanse Republiek tussen 1837 en 1884 aan die wesgrens te kampe gehad het. Hierdie grens is nie minder as sewemaal verander en die onsekerheid en onveiligheid het nie permanente bewoning in die hand gewerk nie. Oorsake vir die onaantreklikheid en gevolgelike yl bewoning van die Christianase distrik gedurende die tweede helfte van die negentiende eeu, moet veral gevind word in die lae reënval, die teisterende droogtes en veesiektes.
Die pioniers van hierdie gebied het vir byna 'n halfeeu te kampe gehad met 'n groot naturellebevolking waarvan die vernaamste die Batlapin, die Barolong en die Koranas was. Voordat die onderlinge twiste van hierdie en ander naturella opgelos is, het die streek geen vrede geken nie.
VOOR DIE KOMS VAN DIE BLANKE
Voor die uitdelgsoorloë van Tjaka was die Barolong, en die Batlapin die gesamentlike bewoners van die gebied tussen die Vaal- en Hartsrivier. Die Barolong, onder Sifonela wat hulle hoofstad in die omgewing van Makwassie gehad het, is oor die Vaalrivier verdrywe deur Moletani, opperhoof van die Bataung-stam. Sifonela het kort hierna gesneuwel en is opgevolg deur Moroko nadat die stam teruggekeer het. Hulle is toe deur die bendes van Moselekatse aangeval, en nadat die stam vir 'n tydlank in die omgewing Taung vertoef het, het hulle na Blesberg vertrek waar hulle ongeveer in 1833 aangekom het. Hier het die Voortrekkers onder Potgieter hulle in 1838 aangetref.
Die streek tussen die Vaal en die Harts is heeltemal ontvolk deur die moord- en plundertogte van die Matabele. Handelaars en jagters beweer dat die Barolong die Wyk geneem het voor die Matebele en niemand, behalwe die twee konings, Moselekatse en die leeu, het hier geregeer nie. Al die stamme het hulle grond verloor deur die verowerings van die Matabele, en die Wes-Tranvaal was 'n toneel van doodsbeendere en verwoeste krale.
Impis van die Barolong het die Potgieter-Kommando ondersteun en deels bygedra tot die vernietiging van die Matebelemag in die slag van Kapain tussen 4 en 12 November 1837.
Nadat die verskillende stamme verneem het dat Moselekatse verslaan en verdrywe is deur die Emigrante-Boere, het hulle uit alle oorde na Potgieter gekom om verblyfplekke van hom te verkry. Ook het die Batlapin in 1839 hulle hoof, Mahoera, na Potgieter gestuur om woonplek te kry. Hy het bepaalde gronde gedeeltelik ten ooste van die Hartsrivier aan hulle toegeken en hier het hulle onder Tao gewoon. Aan Gaseboni en Matlabani is die gebied ten ooste van die Harts in die later geproklameerde distrik Bloemhof aangewys. Volgens ou inwoners was die plaas Matlabani's Oude Stad, wat ongeveer 12 myl noord-wes van Christiana geleë is, sy hoofstad.
DIE EERSTE PIONIERS VAN DIE HUIDIGE CHRISTIANASE DISTRIK
Die bekendste en invloedrykste van die eerste permanente inwoners van hierdie distrik was D. P. Verwey wat op die plaas Witgatboom, ongeveer 10 myl noord-oos van die teenswoordige Christiana gaan woon het. Transport van die plaas is op 29 September 1871 aan hom uitgemaak. Verwey moes teen die middel van die negentiende eeu hier gevestig gewees het, want op 30 Augustus 1850 was hy mede-ondertekenaar van 'n verdrag van vriendskap en bondgenootskap tussen kommandant-generaal A. W. J. Pretorius en Willem Schirjoen, kaptein van die Koranas. Drie jaar later, op 20 April 1853, het genoemde Verwey vir H. S. Lombaard, lid van die Uitvoerende Raad, in kennis gestel dat die Koranas na die Vetrivierstreek gevlug het. Verwey het terselfdertyd versoek dat die Komdt.-Generaal die gebied langs die Vaal moet besoek.
Volgens oorlewering was die volgende van die eerste bewoners van die verre Wes-Trans:
Cornelius Bezuidenhout het effens wes van die Bamboesspruit gaan woon. Dit was waarskynlik hierdre Bezuidenhout aan wie veldkornet Crause van Bloemhof op 17 Januarie 1870 'n gesertifiseerde skadelys vir 315 beeste, gewaardeer teen £3 stuk, uitgereik het.
Jan van Wyk het hom op Leeufontein, tans Wolmaransstadse distrik, gaan vestig.
Cornelius Coetzee het intrek geneem naby die teenswoordige Grasslands.
Dirk Kotze en Jan Lubbe het hulle op die plase Zevenfontein en Sterkfontein onderskeidelik gevestig.
Pieter van Niekerk, ook bekend as Pieter Voortrekker, was die eerste bewoner van die plaas Klipfontein waarop Bloemhof gestig is.
ONRUS AAN DIE WESGRENS
Teen 1858 was daar soveel onrus aan die wesgrens van Transvaal dat 'n kommando, onder bevel van Paul Kruger, gestuur is teen die Barolong en in 'n botsing met hierdie stam, het hulle hoof, Gaseboni, gesneuwel. Mahoera is toe as opperhoof van die Barolong erken, maar hy is 'n boete van 3,000 stuks grootvee, opgelê. Gedurende die volgende jaar moes die Vrystaatse Regering 'n strafekspidisie teen Scheel Kobus, wat ook in die streek tussen die Vaal en die Harts gewoon het, stuur vir sy moordadige aanvalt op boere in Wes-Vrystaat.
Hierdie gebied het egter nog nie tot rus gekom nie en ten einde die gesag van die Republiek nader aan die toneel van woeling te bring, is die dorp Bloemhof in 1866 geproklameer. Landdros William Best en veldkornet H. C. Weber was die eerste ampsdraers van die Republiek in hierdie distrik. Eers in 1869 het staatspresident M. W. Pretorius voorgestel om Bloemhof tot afsonderlike distrik te verklaar en die proklamasie wat hierdie stap bekragtig het, is op 19 Junie 1869 uitgevaardig.
Die onderlinge twiste tussen die Barolong en Batlapin en die gevare wat hiermee vir die blanke bevolking gepaard gegaan het, het die regering laat besluit om 'n kommissie te benoem bestaande uit die Staatspresident M. W. Pretorius, H. C. Vermaak, J. W. Viljoen, W. Best en H. V. Weber om 'n vergadering met die inboorlinghoofde te belê met die doel om die ontevredenheid en twiste in die Bloemhofse distrik uit die weg te ruim. Hierdie vergadering is gehou op die plaas Witgatboom en die eienaar, Vervey, is omrede sy kennis van die streek uitgenooi om die besprekings by te woon. Hoewel die besprekings 'n week lank, van 19 tot 26 Februarie 1869, geduur het, is geen oplossing vir die moeilikhede gevind nie.
DIE STIGTING VAN BLOEMHOF EN CHRISTIANA
Bloemhof is op 28 Maart 1866 deur die Volksraad tot dorp verklaar, maar die wenslikheid om 'n dorp op die plaas Klipfontein te stig, moes vantevore ter sprake gewees het want op 11 Februarie 1865 het veldkornet C. Coetzee aan die regering geskryf om te verneeem of bepaalde die reg het om 'n kerk op Klipfontein te bou aangsien die regering besluit het om nie 'n dorp op die plaas aan te lê nie. "Hulle zyn Romeinen en Lutherjanen". Op 7 April 1866 het die Volksraad besluit om 'n adjunk-landdros op die nuwe dorp aan te stel, maar hy sou verantwoordelik wees aan die landdros op Potchefstroom. Op 7 Januarie 1867 is William Best as landdros op Bloemhof benoem.
Skaars drie jaar na die stigting van Bloemhof, en wel 30 September 1869, het kommandant J. W. Viljoen, veldkornet H. C. Weber en landdros W. Best 'n versoek dat 'n dorp aan die westekant van die Vaalrivier op die plaas Zoutpansdrift aangelê word, aan die regering gerig. Hulle het voorgestel dat die dorp se naam Christiana moet wees. Op 30 Oktober 1869 is Best se brief voor die Uitvoerende Raad gelê en is besluit om goedkeuring aan die stigting van die dorp te heg. Die Volksraad het sy goedkeuring aan hie stap verleen op 4 Junie van die volgende jaar.
In die vertoog van bogenoemde amptenare dat die dorp aangelê word, is nie aangedui waarom die naam Christiana moet wees nie.
Cachet beweer dat Christiana na Christina Pretorius genoem is, maar L. V. Praagh voer aan dat die naam ontleen is aan Christiaan Hattingh, die eerste eienaar van die plaas Zoutpansdrift. Dit kan egter aanvaar word dat die dorp wel vernoem is na Christina Petronella Pretorius. Haar seun, Kol. I. J. Meyer skryf op 22 April 1963 aan die Stadsklerk van Christiana:
"My moeder, Christiana (sic) Petronella Pretorius, wat te Potchefstroom gebore is, is die enigste kind van Wyle my grootvader, Marthinus Wessel Pretorius, Staatspresident van die S.A.R. 1857-1860; 1864-1871 en van die O.V.S. 1860-1863. Aangesien die inkomste en fondse van Staatskas destyds maar skaars was, het my moeder merendeels gratis opgetree as Sekretaris van die Staatspresident. In ongeveer 1868 is sy in geselskap van 'n McCordindale, familie van Ermelo distrik, per seilskip na Engeland en Skotland. Die reis heen en weer het ongeveer ses maande geduur.
Met haar vertrek uit Skotland het vriende en bewonderaars 'n pragtige, groot bybel aan haar oorhandig. My moeder met haar drie dogters het dwarsdeur die konsentrasiekamp, gedurende die Anglo-Boere Oorlog daarin geslaag om die bybel sodanig weg te steek dat dit behoue gebly het en dit is tans in die Potchefstroomse Museum.
Uit haar huwelik is gebore twee seuns, Marthinus Wessel Pretorius Meyer en Kol. Izak Johannes Meyer; en drie dogters, Alletta Magdalena (Malherbe), Christina Petronella (Roode) en Ada Amelia (Siemelink). Die feit dat die dorp Christiana na haar vernoem is, is beide deur my grootvader, President Pretorius, en my moeder aan my persoonlik meegedeel". Hoewel die landdros op Bloemhof onverwyld van die Volksraad se besluit om die nuwe dorp aan te lê in kennis gestel is, het enige maande verloop voordat iets verder aan die uitvoering van die Volksraad se besluite gedoen is.
In Augustus 1870 het die landmeter-generaal, Magnus Forsman, persoonlik afgereis om die opmeting van die dorp te doen en op 28 Januarie van die volgende jaar stel hy die regering in kennis dat hy vanaf Augustus tot die middel van Oktober besig was met opmeting. "ln tegenwoordigheid van den landdros van Bloemhof besloot Zyn Hooged. de President, wie in Septembermaand Christiana bezocht, dat de dorosblokken moeten verder westwaarts verschoud worden om een groter aantal watererven te krygen". Op 25 November het Forsman die plan van die dorp aan die Bloemhofse landdros oorhandig en daarna het hy hom besig gehou om "de blokken in erven te verdelen en met doornhoutpennen, welke rysmieren niet bederven", aan te wys.
CHRISTIANA WORD DIE SETEL VAN DIE BLOEMHOFSE DISTRIK
In sy brief van 30 September 1869, waarin voorgestel is dat Christiana aangelê word, het landdros Best ook aan die hand gedoen "om den zetel van den landdrost van dit distrik naar gezegd ambten naar verplicht zal zyn een maande Iyksch hof te Bloemhof te houden". Hierdie voorstel het hy gedoen "omdat naturellen, na 15 dagen uitstel van den landdrost van Bloemhof te hebben verkregen, om de door hen verschuldigde oorlogskosten van 1858 te betalen, en (in) gebreken zyn gebleven dezelve te doen". Nadat nog vertoë met 'n derglike inhoud tot die regering gerig is, het die raad ingewillig om aan die versoek te voldoen, en nog voor die einde van die jaar het die verskuiwing van die landdroskantoor na Christiana plaasgevind. Daniel Webster is tot vrederegter op Bloemhof benoem en Best het die eerste landdros van Christiana geword. Best het aanvanklik beswaar gemaak teen hierdie benoeming aangesien hy 'n woonhuis teen 'n koste van ongeveer £500 laat oprig het op Bloemhof. Om hierdie onkoste te vergoed het hy versoek dat 'n plaas aan hom toegeken word.
ONTWIKKELING VAN CHRISTIANA 1870-1873
Op 25 November 1870 het die eerste verkoping van erwe op Christiana plaasgevind en 55 is van die hand gesit vir £1929, o.a. 12 aan M. Forsman en 9 aan John Kock. Op 15 November 1871 is 'n verdere 50 teen 'n insetprys van £25 aangebied en op 25 Augustus 1875 is nog 25 per publieke veiling verkoop.
Uit Forsman se brief van 28 Januarie 1871 blyk dit dat die regering van plan was om 'n besproeiingsskema vir 'n gedeelte van die nuwe dorp se erwe daar te stel en in November 1871 het die Volksraad £3000 beskikbaar gestel vir die uithaal van 'n watervoor. Die enigste tender vir die werk was die van ene Schutte. Hy was egter nie in Staat om die kontrak na te kom nie en slegs 1200 treë van die geraamde 6,000 treë is voltooi. Eers in 1875 is die tender aan J. van Zyl toegeken en hy het die werk voltooi.
Die eerste inkomste van die nuwe dorp was afkomstig van 'n dranklisensie (bottelmaat) wat aan Pieter de la Rey toegeken is op 3 Februarie 1871 en die eerste uitgawes het £7-10-0 beloop vir die oprigting van 'n skutkraal.
Vanaf 1 Maart 1873 is 'n gebou op erf 627 van M. C. Genis teen £5 per maand gehuur om as landdroskantoor, poskantoor en tronk te dien.
DIE ONTDEKKING VAN DIAMANTE
Die geskiedenis van Christiana, Bloemhof en omstreke staan in die nouste verband met die ontdekking van diamante langs die Vaalrivier en die daaropvolgende ontginning van 'n groot gebied wat in die afgelope 100 jaar miljoene ponde aan diamante opgelewer het.
Die eerste ontdekking van spoeldiamante is op Klipdrift gedoen in 1868 en in die volgende jaar al was dit bekend dat ryk diamantgrond in die omgewing van Christiana te vinde was.
Op 6 Julie 1871 het Best die regering in kennis gestel dat hy 17 kleims verkoop het en dat aansoeke om meer daeliks ontvang word. Om die delwers en naturelle te beheer het hy versoek dat 20 polisie en 6 of 8 konstabels op die dorp geplaas word. 'n Delwerskomitee bestaande uit M. Wickelhausen, I. C. Cawood, I. de la Rey, met I. H. F. Hiezman as sekretaris, het die "Delver's Regulatiën Christiana, Zuid-Afrikaanse Republiek," opgestel en dit is aan die Uitvoerende Raad voorgelê, wat dit met enkele wysigings goedgekeur het.
Die ontdekking van diamante in die Bloemhofse distrik het nie alleen tot die ontginning van die gebied gelei nie, maar die gevolge van die ontdekking van hierdie rykdom in Transvaal het die Suid-Afrikaanse Republiek tot in sy grondslae geskud en daarby tot die grootste verwarring op die wesgrens gelei. Dit is dus nodig om korteliks die gebeurtenisse wat tot die Keate-Uitspraak gelei het en die gevolge daarvan op die verloop van gebeurtenisse in die Bloemhofse distrik te skets. Die regering van die S.A. Republiek het nie die minste twyfel gekoester dat die gebied waar die delwers op Klipdrift en omgewing gekonsentreer het onder sy jurisdiksie gestaan het nie, maar om die posisie aan die wêreld en veral aan die delwers, bekend te maak, het president Pretorius die gebied besoek en deur proklamasie herhaal dat "de westelyke grenslyn van het distrikt Bloemhof voorlopig zal zyn vanwaar Hartsrivier in Vaalrivier loopt, met Hartsrivier op tot waar de noordwestelyke loop van Hartsrivier boven de poort inloopt, en vandaar noordwaarts tot aan de Zwartrand". Die agente wat die saak vir die Griekwas, Barolong en Batlapin behartig het, het nie stilgesit nie, maar die aanspraak van hierdie inboorlinge op die betwiste gebied deeglik laat geld. Dit het gou duidelik geword dat dit nie meer 'n kwessie tussen die inboorlingstamme en die Zuid-Afrikaanse Republiek was nie, maar wel tussen die Republiek en die Britse Regering. Die Transvaalse landdros op Hebron en die delwerskomitee het intussen die gesag van die Republiek uitgeoefen en sake het behoorlik hulle gang gegaan.
Landdros Best en veldkornet Crause van Bloemhof het die delwerye op Klipdrift in Junie 1870 besoek en daarna het Best aan die regering berig dat hulle vriendelik ontvang is deur die delwers, hoewel "een of twee deugnieten op die Transvaalsch Regering scholden".
Op 11 Oktober 1870 het die Uitvoerende Raad die Britse Hoë-Kommissaris, sir Henry Barkly, in kennis gestel dat dit die wens van die Republiek was dat die moeilikheid op die wesgrens op vriendskaplike wyse besleg moes word, en as sake sover sou gaan dat die geskil vir beslissing voor 'n arbitrasiehof gelê moes word, beloof die Republiek daarin sy heelhanige steun en samewerking. In Februarie 1871 het Barkly, Pretorius, Niklaas Waterboer en die vernaamste Batlapin en Barolonghoofde op Klipdrift ontmoet en 'n ooreenkoms dat die grenskwessie aan 'n arbitrasiehof voorgelê moes word, is bereik. Landdros A. A. O'Reilly van Wakkerstroom en J. C. Campbell, spesiale verteenwoordiger van die Britse Regering op die delwerye is onderskeidelik deur die Republiek en Waterboer as arbiters benoem. Ingeval die arbiters nie eenstemmigheid bereik het nie. sou die finale uitspraak aan die luit.-goewerneur van Natal opgedra word.
DIE KEATE-UITSPRAAK EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Die hof het sy sittings op Bloemhof gehou. Die geboutjie waarin die saak gedien het, bestaan nie meer nie, maar was geleë op die noordelike wal van die Vaalrivier, baie na aan die plek waar tans die laagwaterbrug is.
Nadat byna twee en 'n half maande aan die aanhoor van getuienisse, mondeling sowel as dokumentêr, bestee is, kon die arbiters nie eenstemmigheid bereik nie en op 17 Oktober 1871 het Keate sy uitspraak bekend gemaak.
Deur sy toekenning is 8,000 vierkante myl van die Z.A. Republiek geneem "insluitende die hele geproklameerde distrik van Bloemhof en 'n groot deel van die Maricose- en Potchefstroomse distrikte, in sommige waarvan die oudste boereplase geleë was". Die dorpe Bloemhof en Christiana is dus aan die Barolong en Batlapin toegeken.
Op 25 November 1870 het die eersle verkoping van erwe op Christiana plaasgevind en terwyl op die uitspraak van die hof gewag is, moes die tweede paaiemente op die erwe betaal word. Landdros Best het die regering op 11 Julie, dus drie maande voor Keate sy bevinding gemaak het, verwittig dat kopers weier om die koopvoorwaardes na te om voordat die uitspraak van die arbitrasiehof bekend was. Best se kennisgewing van enkele weke tevore, nl. dat as die eerste paaiemente nie Voor 1 Julie betaal was nie, die per erwe publieke veiling verkoop sou word, het dus geen krag gehad nie.
Die verwarring wat deur die Uitspraak geskep is op die wesgrens blyk ook uit die tergende houding van sommige naturelle. Terwyl die boere voor die uitspraak in betreklike vrede met die inboorlinge gelewe het, moes D. Verwey die landdros op Christiana in Desember in kennis stel dat Matlabani hom met 400 beeste en 1000 skape op sy skoonseun, Antonie de Beer, se plaas gevestig het met die die gevolg dat De Beer moes trek.
T. F. Burgers het die eed van getrouheid as president van die Z. A. Republiek op 1 Julie 1872 afgelê. Met die grootste ywer het die nuwe president hom in die diplomatieke stryd met die Kaapse Goewerneur gewerp. Die dèpêche van Burgers van 31 Augustus 1874 het feitlik die doodsklok oor die Keate-Uitspraak gelui en die uitspraak is nooit deur die Z. A. Republiek erken nie.
Met die konvensie van London in 1884 het die Transvaal feitlik die hele betwiste gebied teruggekry en die bevriende stamme het grotendeels binne die gebied van die Transvaal geval.
Die wesgrensmoeilikhede wat veral deur die ontdekking van diamante veroorsaak is en oor ruim 14 jaar gestrek het, was nouliks opgelos of nuwe verwikkelings in die verre Wes-Transvaal het tot die oorlog teen Massou, hoof van die Koranas, gelei. Massou het gesneuwel in die oorlog van 1885 en die vernietiging van die Koranagevaar het rus en vrede vir hierdie gebied van Transvaal ingelui.




