Hy Kry Al Sy Weiveld Gratis

Mnr. Nico Uys is die boer met die mooi "Voortrekkerbaard". Hy het vanjaar sy grootste oes in 25 jaar ingesamel - op weiveld wat hy verniet kry.
'n Onderwyser-boer het "weiveld" wat oor 28 myl langs die Vaalrivier strek. Sy "vee" is nie beeste of skape nie, maar bye. Hy het vanjaar sy beste oes in 25 jaar ingesamel en vir sy weiveld betaal hy nie. Mense gee dit graag aan hom.
'n Hoërskoolonderwyser van Christiana het met bye begin boer sodat hy 'n byinkomste kan hê as hy die dag aftree. Geleidelik het sy boerdery egter só uitgebrei dat hy vanjaar tussen 50 en 75 pond skoon heuning uit elk van 200 korwe gehaal het. Sy gemiddelde was 25 tot 27 pond per kassie. Van een vlak raampie het hy 5½ pond skoon heuning gekry. Hy verkoop sy heuning in groot maat teen 17c per pond.
Hierdie byeboer is mnr. Nico Uys van William Alexanderstraat, Christiana. Hy sê dat hy in die 25 jaar dat hy met bye boer nog nooit so 'n ryk oes soos vanjaar ingesamel het nie.
Sy bye se "weiveld" strek al langs die Vaalrivier tot in Noord-Kaapland oor 'n afstand van 28 myl en hy samel sy hoof-oes in die lente in, gewoonlik so van 10 Oktober af.
Die bye haal hul nektar meestal uit die bloubos, hoewel hulle vanjaar ook sterk gewerk het op die groot verskeidenheid veldblomme wat daar ná die goeie reëns was.
Volgens mnr. Uys is dit baie belangrik om nie die omgewing met bye te oorlaai nie. Dit is om dié rede dat hy die weiveld verbreed het en die meeste van sy korwe in die Vaalharts-nedersetting het. Hy groepeer sy korwe tien-tien in 'n bepaalde gebied. Die mense is maar te bly om hom van weiveld te voorsien, want die bestuiwing van vrugte en groente deur die bye lewer beter en groter oeste.
HOËR GEHALTE
Mnr. Uys sê dat heuning van 'n heelwat hoër gehalte in streke met 'n lae reënval geproduseer word. Waar die reënval hoog is, is die vogpersentasie in die heuning ook hoog. Daarom is sy heuning baie dikker as dié wat bv. in Engeland geproduseer word. 'n Bewys hiervan is die feit dat die uitswaaimasjien, wat hy uit Engeland ingevoer het, in ons land 'n dikker uitlaatpyp onderaan die opgaartenk moes kry. Die Engelse pyp van driekwartduim moet met een van twee duim vervang word.
Die uitswaaimasjien is toegerus met 'n wrywingskyf wat die boer in staat stel om die uitswaaiwerk teen 90 omwentelinge per minuut te begin en die o.p.m. geleidelik op te skuif na 300 namate die raampies leër word. Die stadiger swaai aan die begin voorkom dat die koeke breek. Later moet dit vinniger gaan om die heuning gouer uit die koek te haal.
Die vol raampies word eers met 'n stoommes (waardeur warm water sirkuleer) ontseël voor dit uitgeswaai word en dan, as die raampies leeg is, met byewas en al terug in die korf geplaas. Dit verminder die bye se werk om weer 'n koek te maak en stel hulle in staat om meer heuning te produseer.
RYP HEUNING
Die raampies word eers uit die korf gehaal as driekwart van die oppervlakte deur die bye toegeseël is. Dit is 'n teken dat die heuning nie meer groen is nie en nie sandsuiker sal vorm nie.
Mnr. Uys maak sy korwe self, waardeur hy heelwat geld bespaar. Hy gebruik afvalsink, wat hy van 'n fabriek koop, en ammunisie-kaste. Die kaste is van Birmaanse kiaat gemaak, 'n duursame houtsoort, wat hy ook goedkoop bekom.
Dit het egter nie altyd so voor die wind soos vanjaar gegaan nie. Toe mnr. Uys in die winter van 1965 sy korwe ondersoek het, het hy gevind dat in 50 daarvan nie 'n teelepel heuning was nie. Baie van die swerms het van honger gevrek. Gewoonlik laat hy 'n vol kassie heuning vir hulle agterbly, plus dié wat in die broeikaste is. Hy voer sy bye ook deur die winter, veral met heuning wat met was vermeng is en ook met suikerwater.

Die voorbladfoto van Mnr. Nico Uys met die "Voortrekkerbaard" vorm deel van die ikoniese voorblaaie te sien in die Landbouweekblad 100 'n eeu op die platteland versamelaarskoffietafeltydskrif.




