Sport
Die mense van Christiana het nog altyd intens belang gestel in sport, en het die gemeenskap verskeie sportlui opgelewer wat diep spore in Suid-Afrikaanse sport getrap het.
Flip Geel (1939) was Christiana se eerste Rugby Springbok, en na hom het Johan Claassen verdere roem vir Christiana verdien eers as Springbok, toe Springbokkaptein en tans as Nasionale Keurder. Op verskeie geleenthede het hy ook opgetree as breier en bestuurder van Springbokspanne.
J. J. (Pine) Pienaar, wie hoof van 'n handelskool in Christiana was, sou in alle waarskynlikheid vleuel teen die 1928 All Blacks gespeel het, maar het net voor die toetse 'n ernstige besering opgedoen.
Ander rugbyspelers wat net-net Springbokkleure misgeloop het was Louis (Rooi) Theron en Johan Claassen se twee broers, Ernest en Wilhelm.
Die eerste Springbok, wat verbintenis gehad het met Christiana, was die atleet, Piet Blignault, wie S.A. in 1895 verteenwoordig het op die Engelse Kampioenskappe as naelloper. Mnr. Blignault het gewoon te Diamantstraat 2.
Die bekendste atleet wat Christiana opgelewer het was John Nelson, wie veral as spiesgooier uitgeblink het. Sy gooi van 215'6" met die senior spies te Pretoria op 15 April 1963 is die 17e beste gooi wat ooit deur 'n Suid-Afrikaner gemaak is.
Ook is sy 216'0½" te Queenstown op 21 April 1962 met die Junior spies, die 10e beste Junior poging ooit deur 'n Suid-Afrikaner.
William Smith het verskeie male deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe as 110 meter hekkiesloper.
Lionel Rutherford, 'n diamantkoper wie lank op Christiana gewoon het, was in 1903 een van die stigterslede van die S.A. Lawn Tennis Union.
Een van die dapperste sportmanne in Christiana se geskiedenis is Willem Strauss, voormalige S.A. Polisie stasiebevelvoerder, wie nadat hy binne 'n tydperk van 21 maande drie opehart operasies ondergaan het, kans gesien het om tennis te speel terwyl hy 'n kunsklep in die hart gehad het.
Christiana beskik oor uitmuntende fasiliteite vir sportsoorte soos Tennis, Gholf, Voetbal, Rolbal. Jukskei, Pluimbal, Hengel, Watersport en Netbal. Die S.A.Polisie het ook 'n Ringtennisklub.

