Hoër Huishoudskool
Die geskiedenis van hierdie skool dateer vanaf 17 Januarie 1929. Toe het dit 'n dagskool geword wat ontstaan het uit vroeëre Voortsettingsaandklasse. Dit het onder die bestuur van 'n plaaslike Voorsettingsraad gestaan en het sorteer onder die destydse Unie-Onderwysdepartement.
Vanaf 1 Julie 1930 neem die Unie-Onderwysdepartement hierdie gesubsidieerde dagskool direk onder sy beheer en nou word dit die Handel- en huishoudskool genoem, met mnr. J. J. Pienaar as hoof. Daar was geen skoolgebou beskikbaar nie en 'n ou kerkgebou van die plaaslike N.G. Kerk word hiervoor ingeruim.
Aan die einde van die eerste kwartaal 1937 skei die twee afdelings. Die handelsafdeling verskuif na Potchefstroom met mnr. J. J. Pienaar as hoof. Die huishoudkundige afdeling trek oor na die nuwe geboue wat hiervoor deur die Departement opgerig is en wat, met latere toevoegings, nog in gebruik is.
Vanaf die tweede kwartaal 1937 bestaan die huidige Huishoudskool dus. Mej. Armstrong-Smith was die eerste prinsipale.
Vanaf 1 April 1968 is die skool oorgeplaas onder beheer van die Transvaalse Onderwysdepartement. Die leergange bied 'n uitstekende opleiding aan vir praktiese vakke in Huishoudkunde soos Kleremakery, Kookkuns en Huisbestuur, sowel as akademiese vakke soos Engels, Afrikaans, Geskiedenis, Algemene Wiskunde, Handel, Tik, Fisiologie en Algemene Wetenskap. Daar bestaan 'n sterk moontlikheid dat die huidige Standerd 8 in 1971 hier kan aangaan na standerd nege en natuurlik die jaar daarop na Matriek.
Die skool bied koshuisakkommodasie aan omtrent 110 dogters asook inwonende personeel. Voorsiening is ook gemaak vir sportaangeleenthede soos swem, tennis, ringtennis, atletiek en netbal.
Soos die leuse van die skool aandui: "Haar lig sal skyn", so is ook die strewe, want 'n dogter wat hierdie kursus in praktiese vakke deurloop het, is in staat om haar plek te vul in die samelewing.






