Diamant Oppi Sif - Herklaas Mountjoy
Herklaas Mountjoy is gebore op 31 Desember 1917 op 'n plaas in die Barkly-Oos distrik. Sy vader was 'n Ier en getroud met 'n Afrikaanse nooi Brits.
Hy word groot as plaasseun in Barkly-Oos en in 1936 matrikuleer hy. Na matriek werk hy as winkelklerk in Barkly-Oos, studeer verder in administrasie en word assistent stadsklerk, met pligte van tesourier tot 1940. Gedurende 1940 is Boelie Marais in Christiana oorlede en Herklaas word aangestel as assistent stadsklerk van Christiana.
In 1942 word Herklaas op jong ouderdom van 25 die stadsklerk van Christiana. 'n Pos waarin hy op sy besondere, toegewyde manier homself met welslae uitgeleef het. Hy tree in 1982 na 40 jaar se ononderbroke diens af.
Dit moet onthou word dat Christiana as plattelandse dorpie tot die jare 1940 gekenmerk was met stofstrate, perdekarre en donkies. Die erwe was groot (standaard burgerreg erwe). Die dorpsraad het in 1908 besluit om alle strate met 17 Kaapse voet aan albei kante smaller te maak sodat ruimte geskep word om bome aan te plant. Die standaard wydtes was 100 K vt Oos-Wes en 75 K vt Noord-Suid strate. Hierdie onwettige byvoeging het groot onmin veroorsaak, ook toe die dorpsraad besluit om op aandrang van die stadsklerk die grense terug te skuif.
Die 17 K vt stroke was in die plek van enige normale dienste en besproeiingskanale. Hierdie enorme taak is deur die munisipaliteit in 1968 voltooi. 'n Besproeiingskanaal - met 'n skenking van 6000 Gulden van Nederland - word 'n grondkanaal en gedurende laat 1800 na die dorp gebou om besproeiingswater te voorsien aan 1270 erwe. Hierdie kanaal word in 1942 met behulp van 'n ingenieur, J Unger, vervang met 'n betonkanaal sowel as 'n turbineskema om die boonste gedeelte van die dorp te voorsien. Herklaas speel ook hier sy rol. Die turbine word in 1966 vervang met 'n elektriese pomp.
In daardie vroeë jare was daar geen permanente rioolstelsel nie en word die emmerstelsel deur 'n kontrakteur met donkiespanne hanteer. Vele komiese staaltjies dateer uit daardie tyd, maar vir 'n stadsklerk in daardie tyd is elke insident 'n nagmerrie, want alle klagtes het na hom toe gekom.
Die eerste elektrisiteit in Christiana is ontvang van 'n kragstasie gebou in 1937, maar 'n mens moet verstaan dat die verspreiding gebrekkig was. Oom Herklaas noem graag die naam van Fanie Jacobs wat in beheer was en wonderlike werk gedoen het. Laat 1940 is 'n kragbron van Koffiefontein aangekoop. Die groot masjien is persoonlik deur die stadsklerk en 'n sekere Botha en Karel Gouws per vragmotor na Christiana vervoer waar dit gebruik is totdat ESKOM in 1967 krag voorsien, want die verbruik in Christiana het veelvoudig vermeerder.
Dit is interessant om te weet dat die plaas Prospect (5115 morg) in die 1940's aangekoop is vir £3762-00. Die totale dorpsgronde (11 400 morg) is verdeel in 49 weikampe nadat 810 morg aan die staat geskenk is vir ontwikkeling van die Kruitbad (tans bekend as Protea Hotel Christiana). Ook met die totstandkoming en ontwikkeling van die vakansie-oord het die stadsklerk 'n besondere rol gespeel. 'n Mens kan nie anders as om sy rol en deelname aan die teer van strate en randstene ook te noem nie.
Hy het selfs 'n kwekery aangelê vir die kweek van boompies om aangeplant te word op verskeie sypaadjies.
So het oom Herklaas Mountjoy saam met Christiana en omgewing geleef en homself nooit gespaar nie. Oom Herklaas se vrou Lisa, 'n nooi Hanekom, het hom in Januarie 2008 ontval. 'n Verlies wat sekerlik diep spore en eensaamheid laat na 'n huwelik van 65 jaar.
Oom Herklaas woon steeds in Christiana en is op 90-jarige leeftyd 'n toonbeeld van logiese denke en helder geheue. Boekdele kan geskryf word oor sy toewyding, insig en eerlikheid. Ons bring hulde aan Herklaas Mountjoy vir sy enorme bydrae in die 40 jaar as stadsklerk van Christiana.
Oom Herklaas is op 10 Januarie 2012 oorlede. Die meerderheid van die foto's, dokumente en inligtingstukke wat op hierdie webwerf gebubliseer word is deur hom geskenk. Hy het tydens sy jare as stadsklerk baie inligting rondom Christiana versamel en bewaar.
