Click Christiana | Geskiedenis: Hervormde Gemeente Christiana 70 Jaar (1936-2006)

GESKIEDENIS: Artikels & Dokumente

Hervormde Gemeente Christiana 70 Jaar (1936-2006)

Hervormde Gemeente Christiana (1936 - 2006)
Hervormde Gemeente Christiana (1936 - 2006)

INHOUDSOPSAWE

- Stigting
- PM Smith
- NJ van Schalkwyk
- JW Rhoda
- HG van der Westhuizen
- WJ Bezuidenhout
- PJ van der Merwe
- MM Seymore
- WH Steyn
- PR Buitendach
- JCG Janse van Vuuren
- BM Dupper
- Feesvierings
- Program

VOORWOORD

Nadat ds BM Dupper van die Gemeente Christiana my op 3 Maart 2006 geskakel het om met Christiana se sewentigjarige fees 'n paar gedagtes te kom uitspreek, het ek op die gedagte gekom om gou 'n paar historiese punte aan te teken. Omdat die fees al reeds oor 'n bietjie meer as 'n maand sou wees, was die tydsfaktor volledig téén 'n grondige navorsing van die geskiedenis. Nogtans is die kerkargief in Pretoria dadelik genader vir die ou notuleboeke. Daar was egter geen notuleboek van Christiana in die argief nie! Uit die argief is ds Dupper dadelik op 14 Maart geskakel, maar ook hy het geen kennis gedra waar die notuleboeke sou wees nie. 'n Soektog by die huidige skriba, Kobus Kotzee en die vorige skribas, het ook niks opgelewer nie.

Ds JP van den Berg, Stigter van die Gemeente
Ds JP van den Berg. Stigter van die Gemeente

In die jongste jare publiseer die Almanak ook nie meer die name van ouderlinge en diakens nie. Op die telefoniese oproepe na ds PM Smith, WH Steyn, PJ van der Merwe, LMP Swanepoel, BM Dupper, en andere soos die skriba, Kobus Kotzee en die dogter van 'n vorige skriba, Alta Snyders, het ons meestal vinnige reaksie gekry. Aan almal my hartlike dank. So moes ons maar ploeg met dié osse wat ons het.

Veral ds PM Smith moet in die besonder genoem word. Nadat hy nie in Pretoria by sy woning opgespoor kon word nie, is by sy seun, ds PM Smith jr vasgestel dat hy by sy woning in Oranjeville is. Toe hy daar opgespoor word, was hy gewillig om sy herinnering neer te skryf. By die opmerking dat hy nou tyd het om tog gou die stukkie te skryf want hy hou nog vakansie, het die agt-en-tagtig-jarige heftig gereageer dat hy nie vakansie hou nie maar die tuin in orde kry! Tog het hy terug in Pretoria weldra sy bydrae gestuur. Dit is vir ons baie werd, nie alleen omdat hy op 19 Februarie 2006 al 88 jaar oud was nie, maar ook omdat Christiana sy eerste gemeente was, en hy Christiana se eerste predikant. Graag dra ons hierdie geskriffie aan hom op.

- Prof dr HG van der Westhuizen, 10 April 2006

Opgedra aan ds PM Smith (sr)

Die dorp Christiana soos ook Chrissiesmeer is vernoem na president MW Pretorius se dogter Christina Johanna Petronella (Chrissie).

Reeds op die Algemene Kerkvergadering van November 1879 is die Gemeente Bloemhof, met Christiana as verste wyk van Potchefstroom, gestig. Intussen het die mislukte kerkvereniging van 1885/6 gebeur sodat Bloemhof op 8 Julie 1916 herstig is en Christiana op 24 April 1936. Dit was vir my en my vrou altyd iets besonders dat ons eerste gemeente waar ons gewoon het, Vaalharts, in haar geboortejaar gestig is, en die ander gemeente, Christiana, in ons kombinasie, waar ek georden is, in my geboortejaar. Gemeentes van ons Kerk wat in 1936 gestig is, is Morgenzon (9 April), Christiana (24 April), Springs (15 Mei), Bothaville (23 Mei), Carolina (05 Des). Aan hulle stuur Christiana seënwense.

Ds Dirk van der Hoff, wat my oupa wie se naam ek dra, Hendrik Gerhardus Stoltz, gedoop het, die broer van genl Piet Cronjé se eerste vrou, het vér uitgereik na die Wes-Transvaal. As eerste predikant in die Oor-Vaalse gebied het hy natuurlik in alle windrigtings gewerk. Maar op 'n besondere band met die Wes-Transvaal wys die Van der Hoff-familiebetrekkinge wat hulle in Wes-Transvaal gevestig het. Vanweë die kerkvereniging onder andere ís baie Van der Hoffs vandag NG lidmate. Ds Van der Hoff is op 9 Oktober 1881 oorlede, 80 jaar voor my oudste gebore is. Sy vrou Anna Maria van Otterloo is in 1897, op 80-jarige ouderdom, hier op Christiana begrawe. Haar graf, intussen op inisiatief waarskynlik van prof SP Engelbrecht weer gerestoureer, is nog onder ons.

STIGTING

Christiana, gestig in 1936 met 40 belydende en 90 dooplidmate, het onder die Ring van Potchefstroom geressorteer met ds Jac P van den Berg, later gekwalifiseer as advokaat, van Makwassie, as eerste konsulent. Op die stigtingsvergadering was die Gereformeerde kerk stampvol met die burgemeester en ander hooggeplaastes, Hervormers, NH of G gemeentelede (die Verenigde Kerk) en Gereformeerdes. Dit was in die ou kerkie want die huidige Gereformeerde kerk hier skuins oorkant ons is eers in die begin van die sestigerjare van die vorige eeu gebou. Skrywer was self teenwoordig met die ingebruikneming met ds De Wet Kruger as prediker. Met die stigting was die ringsvoorsitter, van Potchefstroom, ds JP van den Berg, voorsitter van die stigtingsvergadering. Die ringskriba, was ds WFH Huyzers. Ds CS van Heerden Steenekamp van Zeerust het ook groete oorgebring. Hy het 'n paar maande later skrywer in die Gemeente Goede Hoop op Halifax gedoop. Op die stigtingsvergadering van Saterdag 24 April 1936 om 2.30 nm, het broeder DJML van der Hoff voorgestel dat die gemeente gestig word. Dit is gesekondeer deur DJG Bezuidenhout. Die verbintenis met die Van der Hoffs is dus in 'n verskeidenheid opsigte. Die twee eerste diakens was P Gouws en G Combrinck. Laasgenoemde is as die eerste skriba gekies maar alle korrespondensie moes na die geleerde konsulent op Bosmansrust gaan! Die twee eerste ouderlinge was oom Piet de la Rey en oom Gert Bezuidenhout. Ek het hulle beide 26 jaar later leer ken. Oom Piet was toe nog 'n ouderling in Christiana en Oom Gert 'n ouderling in Wolmaransstad. Oom Piet se vrou het 'n pleister oor haar onderlip gedra wat kanker gehad het. Ek het Oom Piet begrawe en daardie dag ook hulle grootmaakkind ontmoet, Kalahari Prinsloo, toe bestuurder van Noord-Wes Koöperasie. Oom Gert se broer, Oom Josef, was wel toe nog in Christiana. Die ander broer, Oom Koen, het later uit Wolmaransstad verhuis na Natal, waar hy die stiefvader van ds Jan Hendrik Brandt geword het.

Die volgende jaar het B Lubbe ouderling in oom Gert Bezuidenhout se plek geword en M Massijn diaken in G Combrinck se plek. Die tweede skriba, toe ook kassier, was J Rosenblatt. Hy het die kerk gebou en die hoeksteen is op 26 Februarie 1939 deur ds Jac P van den Berg gelê. Die steen is geskenk deur J Rosenblatt. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog wat op 1 September 1939 begin het en tot op 2 September 1945 geduur het, kon geen kerke gebou word nie. Om sement, sink en ander boumateriaal te kry, was haas onmoontlik. Om te mag bou moes jy 'n boupermit van die Eerste Minister, genl JC Smuts, se kantoor ontvang. Ek is in besit van so 'n brief wat 'n permit weier. Gelukkig dat Christiana se kerkbouprojek net voor die oorlog reeds aan die gang was, en waarskynlik, weens 'n bestaande gebou, was die omvang van die bouery nie omvangryk nie.

Toe die gemeente so vier/vyf jaar oud is, het dit drasties gegroei, verdubbel. Seker met die voorreg van 'n kerkgebou? In 1941 was daar 100 belydende lidmate. Omdat ook die sieletal van 90 na 150 vermeerder het, was dit nie net ou mense wat ingetrek het nie. Daar het 'n superintendent van Sondagskool by gekom: A Joubert, 'n koster H Croucamp en nog 'n ouderling, ook laasgenoemde. Die drie diakens was J Fourie, P Sauer en G Gouws. Die eerste orreliste was mev (ds) Jac van den Berg.

In 1942 het die getalle opgeskiet na sieletal 260 en belydende getal 125, ingedeel in vier wyke. 'n Ouderling W Breedt het by gekom en 'n diaken J de la Rey. 1943 se Almanak toon 'n daling na 150 sieletal en 100 belydendes. Tog was daar nou al vyf wyke met oudl M Malan wat by kom en hy word ook superintendent van Sondagskool, en diakens M Prinsloo, J Rosenblatt en D Bezuidenhout.

Ds AS Geyser van Heilbron word eerste konsulent, en ds Jac van den Berg wat na Bloemfontein verhuis het, tweede konsulent. Briedenhann was in hierdie jare koster. Die kosters het oor die algemeen maar vir kort rukkies gedien.

PM SMITH (1944-1946)

Prof PM Smith is op 22 Januarie 1944 op Christiana georden. Die gemeente was toe 8 jaar oud. Ds Smith het op Christiana gewoon, maar hy het die kombinasie Christiana - Bloemhof - Vaalharts bedien. Vaalharts was toe 4 jaar oud, gestig op 17 Augustus 1940, deur ds JD Storm. Omdat Christiana 'n pastorie in Robynstraat moes koop het dit in daardie swaar, arm en skaars tyd van die Tweede Wêreldoorlog maar swaar gegaan. Ds Smith het sy eerste verlof na 'n jaar geneem op 1 tot 31 Januarie om sommer ook op 3 Januarie te trou. Hierdie eerste vrou is na 20 jaar op 4 April 1965 oorlede. Op versoek van die Algemene Kerkvergadering in 1945 het ds PM Smith die Gemeente Dordrecht op die derde en vierde naweek van Augustus 1945 besoek. Ds Smith het in 1946 'n beroep na Dordrecht aanvaar. Hy was 'n hardwerkende predikant in die gemeente. Hy het grondige aandag aan sy preekwerk en huisbesoek gegee. Daarby het hy alles altyd netjies georden en ordelikheid gehandhaaf. Mev P Prinsloo het in hierdie dae as orreliste van die gemeente begin. Nadat ds PM Smith vertrek het, was ds PW Venter van Klerksdorp eerste konsulent en ds Jac P van den Berg van Bloemfontein steeds tweede. Ds PJJ Venter van Makwassie het ds PW Venter as eerste konsulent opgevolg. Mnr M Prinsloo het teen 1948 kassier van die gemeente geword. Ds PM Smith onthou sy tyd 60 jaar gelede nog klaar en duidelik.

Gedurende 1943 is daar 'n kombinasie gevorm tussen Bloemhof, Chrisitiana en Vaalharts en is besluit om 'n predikant na die kombinasie te beroep. 'n Beroep is op proponent PM Smith uitgebring, met woonplek in Christiana. Hy is in Desember 1943 tot die bediening toegelaat en beroepbaar gestel en het terselfdertyd nog ander beroepe en toeseggings ontvang. Ds PJJ Venter, 'n familiepredikant van die Smith familie, wat self 'n beroep na Bosmansrust Gemeente aanvaar het, het die beroep na Christiana so benader: Wie eenmaal die water van die Vaalrivier gedrink het, sal dit altyd weer wil drink. Die proponent het die beroep na die kombinasie Bloemhof, Christiana en Vaalharts aanvaar.

Die naweek van 23-24 Januarie 1944 het 'n groep 'n treinrit van Leeudoringstad na Christiana aanvaar. Hulle was ds PJJ Venter, JD Storm en proponent PM Smith en sy familie. Waarom 'n treinrit? Motorkarre was maar nog skaars. Brandstof was gerantsoeneer tydens die Tweede Wêreldoorlog en dus nog skaarser. Jy moes koepons hê om petrol te koop en 'n permit om 'n band te koop.

Op Christiana is die aankomelinge hartlik verwelkom en 'n deftige onthaal vind toe plaas.

Die ordening van prof Smith word gelei deur ds Jac van den Berg, konsulent van Christiana en predikant van Bloemfontein. Hy was predikant van Bosmansrust waar PM Smith na kategese in Wolmaransstad, sy hoërskoolgemeente, onder leiding van ds FJZ Booysen gekatkiseer het, en geloofsbelydenis gedoen het by ds Van den Berg. Hy het ook 'n groot aandeel gehad in PM Smith se besluit om predikant te word.

Op dieselfde dag na sy ordening lewer PM Smith sy intreepreek met die teks uit Handelinge 8:35: En Philippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. Ds Smith het dit as sy ideaal gehad om hierdie grondslag vir sy prediking te stel.

Sondagmiddag het PM Smith by die dankseggingsdiens sy eerste doopbediening waargeneem en wel van Helgard Petrus Prinsloo seun van ouderling en mevrou Prinsloo. Die doopouers het hom ook peetpa gemaak van die dopeling.

Die naweek het omtrent al die besoekers in die hotel tuisgegaan maar Sondagmiddag het ouderling Thys Malan se vrou Hannetjie die nuwe dominee kom haal na hulle huis in Forsmanstraat waar hy voortaan tuis sou gaan want daar was nog nie 'n pastorie nie. Maar so het 'n vriendskap begin wat in die vyftigerjare in Pretoria voortgesit is.

Toe breek Maandagoggend aan. Nou is daar 'n predikant in die gemeente: waar en waarmee moet hy begin? Maar net na ontbyt kom ouderling Croukamp aan en versoek die nuwe dominee om 'n lidmaat wat baie siek is te besoek. Dit was die begin van huis- en siekbesoek wat altyd 'n hoë prioriteit gebly het.

Die mense van Christiana was altyd baie hartlik en hegte vriendskapsbande het nie uitgebly nie. Naas die Malan en Prinsloo gesinne word tussen baie ander nog die Rosenblatt gesin - Lief en Marthie genoem. Hy was die man wat verantwoordelik was vir die oprigting van die kerk wat vandag nog gebruik word. Hulle het oorkant die Vaalrivier op die Rooiplaas gewoon. Die eerste besoek aan hulle het met 'n skoolperdekar gebeur wat die drie seuns en dogter skool toe gebring het. Een van die seuns, Morris, was een van die eerste katkisante wat na die begin in Christiana geloofsbelydenis gedoen het. Wonderlik was dit dat Helgard Prinsloo, Morris en Josef Rosenblatt, asook Fiena Louw gebore Malan in wie se ouerhuis die nuwe predikant loseer het, teenwoordig was by die herdenking van PM Smith se sestigjarige ampsbediening op 24 Januarie 2004 in Pretoria. Albei, Thys Malan en Lief Rosenblatt, is deur PM Smith in Pretoria en Edenvale begrawe.

Ter afsluiting berig ds PM Smith op 27 Maart 2006 soos volg: My verloofde Ria Cloete uit universiteitsdae het in Bloemhof onderwys gegee. In 1945 het 'n ou universiteitsvriend prof PS Dreyer op Bloemhof in die ou kerkie ons in die huwelik bevestig. Waar sal ons woon? Lief Rosenblatt neem die leiding. Op 'n Saterdagoggend woon ons twee 'n uitverkoping in Robynstraat, Christiana by. Op aanbeveling van Lief besluit ons om die huis, wat ook verkoop moet word, vir 'n pastorie te koop. Daar het ons baie gelukkig gewoon totdat ons in 1946 na die kombinasie Dordrecht- Cathcart verhuis het. Dit was Lief Rosenblatt wat ons na ons nuwe werkkring vergesel het en ons "afgegee" het. Dankie Christiana wat onder andere ons geleer het hoe om predikantspaar van 'n gemeente van die Here te wees. Van harte geluk met u 70ste verjaarsdag. Die Here seën u.

NJ VAN SCHALKWYK (1949-1952)

Gedurende 1947 en 1948 het konsulente die gemeente bedien. In 1947 was dit ds PJJ Venter van Makwassie. Die skriba was oudl MJ Malan en die kassier oudl. PJ de la Rey. Lou Geldenhuys was toe al diaken.

Ds NJ van Schalkwyk van Benoni is in Januarie 1949 ontvang. Sy totale traktement en lewenskoste, soos dit destyds genoem is, was £50 (R100) per maand. Hy het ook op Christiana gewoon, in Christianastraat in sy eie huis. Die kombinasie was nog dieselfde. Bloemhof moes drie/agste van die koste dra, Vaalharts vier/agste en Christiana een/agste (£6:5 oftewel R12:50). Ds Van Schalkwyk het 'n kartoelae van £130 (R260) per jaar uit die kombinasie ontvang. Vaalharts wou in Maart en April 1950 uit die kombinasie tree omdat hulle groei gestrem word weens te veel werk vir een predikant in die kombinasie. In plaas van uittree, is die dominee se reistoelae van £130 (R260) per jaar verhoog na £205 (R410) per jaar. Tog het Vaalharts op 23 Februarie 1951 uit die kombinasie getree, want Kimberley het sedert 1950 ook begin om diensbeurte van ds Van Schalkwyk te ontvang. In 1952 is ds Van Schalkwyk na Silverton. Hy is reeds oorlede.

Van die einde veertigerjare af was ds MM Grobler van Wolmaransstad die eerste konsulent. Die skriba was diaken TL Le Roux, die superintendent van Sondagskool. HJ Matthews het as ouderling by gekom. In 1950 het mev C Gouws die orrel bespeel.

Gedurende 1952 het diaken Lou Geldenhuys skriba geword en vir baie jare daarna. Die koster was toe L Holtzhausen en die eerste konsulent, nadat ds Van Schalkwyk verhuis het, was ds JA Smit van Vaalharts. 1953 het 'n verandering in konsulentskap gebring: ds PARC van Wyk van Wolmaransstad was eerste, en ds JA Smit van Vaalharts tweede. Mev M Prinsloo het weer teruggekom as orreliste.

Aangesien sommige predikante 'n bedrag geld vooruit, nog voor hulle gearriveer het, geleen het, was daar soms probleme vir Christiana om dié skuld ingevorder te kry - selfs lank na die predikant al verhuis het. Oom Lou Geldenhuys het my gevra wat ek van so 'n situasie dink. Aan die een kant was daar destyds groot finansiële nood, veral vir proponente. Aan die ander kant het ek gesê dat 'n bank eerder graag aan 'n edele predikant met die sekuriteit van 'n gemeente 'n lening sal gee as aan 'n arm boer. As 'n predikant dus nie eers deur 'n bank gehelp wil word nie, is dit vir 'n gemeente 'n groot risiko om aan hom geld te leen. Maar selfs ná hierdie raad, het die verskynsel hom tog weer herhaal.

Van 1954 af het diaken P Kúhn op die kerkraad gekom. In 1955 het ouderling D de Bruyn by gekom. Van 1953 tot 1955 was die gemeente dus weer net van konsulente afhanklik.

JW RHODA (1956-1961)

Van 1956 af het G Visser en P Jacquire as diakens by gekom. In 1958 het mev Visser koster geword, en in 1959 G Oberholzer. Ouderling P de la Rey was vir baie jare die amptelike voorleser. In 1960 het as diakens by gekom WJ Wessels en J de Klerk. Die eerste konsulent was toe ds JC de Lange van Wolmaransstad, en tweede ds JP Labuschagne van Leeudoringstad. Van 1961 af was mev A Lombaard die koster, en het as ouderling by gekom oom Nic van der Westhuizen, as diakens ook 'n N van der Westhuizen en J Maritz.

Reeds van 11 Desember 1954 af is Christiana weer en ook saam met Kimberley in die kombinasie met Vaalharts opgeneem. Van 11 Maart 1956 af was prop JW Rhoda, toe op Vaalharts georden, die predikant. Omdat die geleerde vriend JP van den Berg, woordvoerder van Kimberley was, het 'n probleem met ds Rhoda gemaak dat Kimberley op 25 Mei 1957 uit die kombinasie getree het. In 1961 het ds Rhoda die beroep na Eendracht aangeneem. Hy is reeds oorlede.

1961 was 'n belangrike jaar. Van toe af moes die kerkboeke jaarliks na die Kerk se interne oudit gaan. En op 14 Februarie, Valentynsdag, 1961, is die desimale geldstelsel ingevoer in Suid-Afrika. Op 31 Mei 1961 is die Republiek van Suid-Afrika gebore. Die eerste Republiekfees, toe die Republiek een jaar oud was, is by die laerskool Soutpan gevier op Dinsdag 29 Mei 1962 om 11.30vm. Die Hoof was mnr Potgieter en die teks van ds Van der Westhuizen se wydingsdiens Romeine 13:4 - Want hy dra die swaard nie verniet nie. Hierdie skool tussen Christiana en Bloemhof, was binne die gemeentegrense van Christiana. Sulke dienste is destyds op die Kerkwet, hoofstuk VII, art 1 gebaseer: By belangrike gebeurtenisse in die lewe van die Kerk, staat en volk kan daar buitengewone kerkdienste gehou word... En van 1961 af het Christiana nie meer onder die Ring van Potchefstroom geressorteer nie, maar onder die nuwe Ring van Maquassi.

HG VAN DER WESTHUIZEN (1962-1964)

Op 6 Januarie 1962 is prop HG van der Westhuizen op Christiana georden. By die ordening met handoplegging was ds JC de Lange, die konsulent van Wolmaransstad af, wat ook die diens gelei het, ds JP Labuschagne van Leeudoringstad en ds Peet van Jaarsveld van Schweizer-Reneke. Laasgenoemde het sowat 'n half eeu daarna steeds aan ds Van der Westhuizen gevra, wanneer hy hom sien, of hy nog onthou watter teks hy (Van Jaarsveld) aan hom (Van der Westhuizen) met die ordening meegegee het: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak (Spr 3:6).

Ds Van der Westhuizen het op Hartswater gebly en vandaar na Christiana gereis vir twee dienste op die toegedeelde Sondae. En van daar vir die aanddiens na Kimberley, wat egter nie in die kombinasie van Vaalharts-Christiana was nie. In hierdie tyd is Kimberley se kerk gebou, maar die dienste was nog in AVBOB-saal gehou. Net nadat ds Peet van Jaarsveld die hoeksteen op Kimberley gelê het, het ds HG van der Westhuizen die kerkbou hanteer saam met ouderling en skriba Hannes van der Westhuizen - totdat die inwyding moes plaasvind in November 1964. Maar op die nippertjie brand die meubelfabriek met Kimberley se banke en preekstoel af op Queenstown!

Die eerste nag, Saterdag 6 Januarie 1962, het die Van der Westhuizens in die Vaalhotel geslaap, kamer nr 1, net langs die dansbaan! Hulle oudste, Hardus, was toe byna 3 maande en sy bottelmelk is suur en daar is nêrens vars melk te kry nie! Boonop het die muskiete verder gesorg dat omtrent niks geslaap is nie. Die intreepreek was op 7 Januarie, sommer Nagmaal ook, oor 2 Konings 4:23: Waarom gaan jy vandag na hom? Dit is geen nuwemaan of sabbat nie. En sy antwoord: Wees maar gerus.

Gereelde slaapplek, buiten met huisbesoek wanneer aan huise van die ouderling geslaap is, was by oom Dawid de Bruyn-hulle, by oom Nic van der Westhuizen-hulle, by mnr Streep Prinsloo-hulle in die koshuis, en by oom Lou Geldenhuys-hulle op die plaas Skoonheid, en by tant Attie van Rensburg. Die eerste keer was by diaken Piet Maritz-hulle. Met huisbesoek het Piet van Deventer in die Vrystaat gesê dat hy nie verwag dat die dominee so ver moet ry, van Hartswater af om by hom elke keer huisbesoek te doen nie. En dat daar ook nie verwag moet word dat hy elke keer in die kerk moet wees nie! Ds Van der Westhuizen het gesê dat hy elke keer by hom huisbesoek sál kom doen. Mettertyd was die Van Deventers gereeld in die kerk en toe ds Van der Westhuizen in November 1964 op Hartswater afskeid neem, was die Van Deventers eerste daar, en met 'n pragtige geskenk, 'n muurhorlosie wat nou na 42 jaar steeds die tyd aangee. Piet van Deventer is 'n swaer van die bekende dr Wally Grant.

In 1962 was die lidmatetal 70, siele 114; in 1963 siele 151 en lidmate 100. In 1964 siele 202 en lidmate 140 - verdubbel in drie jaar! As ouderlinge het by gekom B van der Vyver en G Britz, as diakens W Botha, en D de Koker. Oudl Van der Vyver het ds Van der Westhuizen gevra om vir hom 'n tafelgebed te skryf. Hy en sy vrou het altyd met hulle enigste ryding, 'n drietonvragmotor, kerk toe gekom. Hulle het op die pad na Hertzogville gewoon. 'n Redelike nuutjie in hierdie tyd was 'n kolporteur, diaken N van der Westhuizen; en 'n jeugvereniging met Hannes Els as voorsitter en mev Marie Els as sekretaresse. 'n NHSV het nog nie tot stand gekom nie. Nogtans het die susters hard gewerk en daar is veral straatbasaars gehou. Onder die diakens het K Barnard by gekom. Die eerste konsulent ná ds JC de Lange se vertrek toe die sneeu wit gelê op 20 Junie 1964 was ds Hennie Visser van Wolmaransstad; die tweede was ds CJS van Niekerk van Ottosdal. Ds Tienie Grobler van Ottosdal was ook voorheen vir 'n tyd tweede konsulent.

Omdat daar baie bejaarde mense in Christiana gaan woon het, was daar tye dat die dominee byna élke Maandag van Hartswater af moes ry vir 'n begrafnis op Christiana. So was ds Van der Westhuizen se eerste begrafnis op Christiana pas 'n week na sy ordening en wel dié van mev Visser, die grootmoeder van ds Gert en Faan Visser. Dat baie bejaardes op Christiana gaan woon het, is nie te danke aan 'n goeie klimaat nie. Inteendeel, Christiana is 'n koue plek en nat aan die Vaalrivier. Maar behuising en water was goedkoop!

Ds Van der Westhuizen se laaste dienste op Christiana was met die Nagmaal op 1 November 1964. Die Nagmaalsteks was Johannes 12:24: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Die dankseggingsdiens net daarna, wat ook die afskeidsdiens was, was oor Matteus 28:20: En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

WJ BEZUIDENHOUT (1965-1969)

Van Augustus 1965 af het ds WJ Bezuidenhout van Vaalharts af die gemeente bedien. In hierdie tyd is 'n NHSV in die lewe geroep met mev D Bezuidenhout as voorsitster en mev B Stear as sekretaresse. As ouderling het P van Niekerk by gekom en as diaken H Els. Intussen het mev S van Wyk koster geword opgevolg deur G Beukes; G Labuschagne het as ouderling by gekom en as diakens L van Deventer en J Barnard. Na ds Bezuidenhout se vertrek in 1969 was die lidmate 132 (siele 178). Nuwe name onder die ouderlinge was toe R Coertze; CJ Joubert, SA Fourie en WH Labuschagne; onder die diakens DH Jacobs, EJ Lombaard en A Brand. Die jeugvereniging was ook tot niet. Die NHSV is gelei deur mev HA van Deventer en haar sekretaresse, mev P Kuhn.

Hoewel ds Bezuidenhout in 1970 weer na Vaalharts teruggekeer het, was dit nie in kombinasie met Christiana nie.

Die lidmatetal het drasties afgeneem na onder die 100 in 1972. Die gemeente moes van 1970 tot 1979 slegs met konsulente klaarkom. Die lidmate het in 1973 na 86 afgeneem, en daarna na 82.

Die ouderlinge het nuwe name by gekry: S Joubert, D Vermeulen, N van Wyk en Danie du Plooy. Laasgenoemde het werk probeer maak onder die jeug. By die diakens het A van der Merwe, I Stear, M van Niekerk en J Rossouw by gekom. Die lidmate het in 1976 weer gestyg tot bokant die 100.

Na Ds Bezuidenhout se tweede vertrek van Vaalharts af na Primrose-Oos op 30 November 1975, is ds LMP Swanepoel van Hendrina af na die Vaalhartskombinasie beroep. Ds Bezuidenhout wat in Christiana as 'n baie goedhartige mens beskou is, is ook al oorlede.

Ds Swanepoel is op 1 Februarie 1976 deur ds SP Pretorius bevestig. Maar die kombinasie met Vaalharts het toe nie meer bestaan nie. Ds Swanepoel wat Sondae om 3 nm dienste op Christiana gehou het, meen dat Vaalharts se predikant egter nie die eerste konsulent was nie. Die ringskommissie van Maquassi het met 'n ringsvisitasie op Vaalharts met ds CJS van Niekerk as voorsitter ernstig aangedring op hernude kombinasie tussen Christiana en Vaalharts. Die skriba van die ringskommissie was ds SP Pretorius. Die vergadering het tot middernag geduur maar die kombinasie het nie gerealiseer nie. Vaalharts se predikant was hoogstens die eerste konsulent van Christiana. Die kerkraadslede het redelik konstant gebly en die belydende getal lidmate net so om en by die honderd.

PJ VAN DER MERWE (1979-1980)

Van 1979 af was Christiana in kombinasie met Schweizer-Reneke met ds PJ van der Merwe as predikant. Eintlik was dit nie 'n kombinasie nie, soos ds Van der Merwe self hier verder vertel:

Kort nadat ek in 1975 in Schweizer-Reneke as predikant bevestig is, het die versoek van die kerkraad van Christiana gekom dat Schweizer-Reneke Gemeente en Christiana Gemeente sal kombineer. Die kerkraad van Schweizer-Reneke was nie baie gediend met hierdie voorstel nie. Hulle het gevoel dat die predikant nie na 'n kombinasiegemeente beroep is nie en dat dit onbillik sal wees om 'n kombinasie nou op hom af te dwing. Maar om die nood van Christiana enigermate tegemoet te kom, willig Schweizer-Reneke in om hulle predikant toe te laat om al die pastorale werk in Christiana te verrig met dien verstande dat sy werk in Christiana op geen manier 'n afskaling van sy verpligtinge in Schweizer- Reneke ten gevolg sal hê nie. Die ooreenkoms sal dan ook tussen Christiana en die predikant onderling wees.

Omdat ek dus nie na Christiana beroep is nie, het ek doodeenvoudig net as konsulent daar ingeval en met die pastoraat begin. Die volgende herinneringe bly my steeds by: Oom Louw Geldenhuys (ouderling):

Oom Louw was die skriba. Wat 'n besadigde en kalm mens was hy nie! Hy het sy skribaat met groot entoesiasme en presiesheid verrig en was baie goed vir my en my gesin. Ek het elke Sondag die erediens in die middag gehou. Toe hy vir die tweede agtereenvolgende Sondag vir my 'n lekker varsgeslagte skaapboud bring, maak ek ordentlikheidshalwe daarteen beswaar. Hy sê toe dat hy nie meer weet waarheen om met al die vleis te gaan nie want die tannie moet eenmaal per week vir haar bloeddruk die vars gal van 'n skaap drink. Ek was agterna bitter spyt dat ek later 'n ander beroep aangeneem het!

Oom Streep Prinsloo (ouderling):

Oom Streep was afgetrede skoolhoof en synde geletterd, moes hy die kassierswerk verrig. Hy was eintlik meer as 'n gewone kassier. Hy was ook met groot erns en verantwoordelikheid waghond oor die gemeente se bates. Op die kerkraad en in die gemeente het hy sy verworwe gesag bly behou aangesien hy vir almal meester gebly het en daar selfs nog heelwat van die middeljare geslag in die gemeente was wat voor hom vir 'n keer of wat gebuk het! Hy het egter nooit sy gesag misbruik nie en was 'n baie beminde persoon. Sy vrou was orreliste en sy het die gemeentesang met groot onderskeiding gelei.

Oom Dirk Vermeulen (ouderling):

Oom Dirk was 'n gepensioeneerde werker van Waterwese. Veral my kinders, wat toe nog klein was, sal hom lank onthou. Ons is gereeld genooi om Sondagaand by die Vermeulens te gaan eet. Dit was die dae voor die cholesterolvrese en jy het altyd lekker vet vleis by die Vermeulens kon eet Oom Dirk het 'n mak en geleerde hoenderhaan gehad wat hy dan tot aksie laat oorgaan het tot vermaak van die kinders.

My skoonvader het daardie jare in die Bosveld, Maasstroom se wêreld, gewoon. Sy jaggeweer was uitgeskiet. Ek koop toe by Oom Dirk sy langloop Lee Metford vir R30-00, synde kersgeskenk vir my skoonpa. Op die kolf staan nou nog met 'n stensil ingeëts DJ Vermeulen.

Oom Daantjie du Plooy (ouderling).

Oom Daantjie was ook 'n afgetrede werker van Waterwese. Anders as die meeste ander ouderlinge, het hy 'n vinnige humeur gehad. Hy het boonop ook 'n militaristiese voorkoms gehad met sy donker brillense en kaalkop! Oom Daantjie se woord was wet Hy het nie 'n stryery toegelaat nie. Op 'n kerkraadsvergadering het ek in 'n skerp konfrontasie met hom gekom. Dit het gegaan oor die voorbereidingsdiens op 'n Saterdagmiddag. Oom Daantjie was deel van 'n groep ouderlinge wat onder die indruk was dat die Bybel dit so bepaal het! Geen bespreking oor die moontlike verskuiwing daarvan na die Sondag is geduld nie. Ek is baie onvergenoegd huis toe. Met my tuiskoms het ek die skriba geskakel en hom ingelig dat ek nie verder met my werksaamhede sal voortgaan in Christiana nie. Eerskomende Sondag sal my afskeidspreek wees. Die Sondag daar aangekom, staan die hele kerkraad met hulle vrouens 'n erewag waardeur ek moes loop om by die konsistorie te kan inkom Hulle het my toegesing: Laat Heer U seën op hom daal... Onnodig om te sê dat daar toe niks van 'n afskeid gekom het nie!

Oom Adam Pretorius (diaken):

Op 'n keer, met 'n gemeentevergadering, word broeder Adam Pretorius tot diaken gekies. Oom Adam was op daardie stadium diep in die sewentig, sterk op pad na tagtig toe! In my gemoed was daar 'n ongelukkigheid oor die miskenning van Oom Adam se hoë ouderdom Hy het nietemin, soos hy dit gestel het: die beroep op hom aangeneem en ek dink, as hy nie intussen oorlede is nie, is hy vandag nog diaken!

Christiana se mense was nie ryk mense nie. Die meeste van hulle was afgetrede kleinboere of Waterwesepensioentrekkers. Die erwe was hoofsaakiik vol erwe met leibeurte uit die kanaal (Vaalrivier). Baie mense het vir 'n ekstra geldjie, groente agter in die erf geplant. Oom Adam het ook altyd iets in die grond gehad. Een Sondag kom hy met sy blou Toyota 1200 bakkie by die kerk aan, vol waatlemoene. Hy deel dit daar aan die kerkgangers uit. Tussen al die waatlemoene het 'n besondere groot waatlemoen gelê. Met 'n spyker is daarop uitgekrap: Dominee.

Oom Joof (Josef) Bezuidenhout

Oom Joof het alleen gewoon in sy huisie. Hy was ookal bejaard. Ek sal hom om een bepaalde rede vir baie lank onthou, dit is vir sy liefde vir spreuke en gesegdes. Op 'n keer doen ek en bogenoemde oom Adam by hom huisbesoek. Oom Adam vra vir hom of hy 'n bydraetjie het. Oom Joof steek sy twee voorvingers in die kleingeldsakkie voor aan sy broek, haal 'n vyftigsentstuk uit en gooi dit vir oom Adam. Oom Adam objekteer en verplig oom Joof om 'n meer respektabele offergawe te gee! In die argument sê oom Adam: Joof ek weet ek is maar eenvoudig en kom uit die veld van agter die donkies... Net daar berispe oom Joof hom met die woorde: Adam, moenie jouself verkleineer nie, daar is genoeg ander wat dit doen.

Oom Joof se eerste vrou is oorlede. Hy is toe weer getroud, maar nie met groot sukses nie. Omdat hy nie aan egskeiding geglo het nie, het hy 'n ander plan gemaak. Hy het die tannie in 'n ouetehuis in Bloemhof gesit! Terwyl ons daar sit, gewaar ons 'n mandjie, vol van die allerheerlikste vrugte. Hy is juis op pad Bloemhof toe om dit vir die tannie te neem. Toe oom Adam vir hom sê: Joof, sê groete vir jou vrou, antwoord hy: Adam, jy weet mos my vrou is dood! Jy het maar net een vrou en dit is die vrou van jou jeug!

In Christiana het ek vir die eerste en die laaste keer iets in die Kerk ervaar wat hom nooit weer herhaal het nie, naamlik dat daar van tug nie sprake hoef te wees nie. Tydens my twee jaar van werksaamheid aldaar, was daar nie een enkele geval van tug nie! Kerkbesoek was Sondag na Sondag so te sê 100%. Daar was nie een kerktrae lidmaat in die gemeente nie. As iemand verhinder is om die erediens by te woon, het hy daarvóór of daarná verskoning gemaak! Ék loop na al die jare nog steeds met die gedagte dat dit 'n gemeente is wat baie naby gekom het aan hoe die Heer wil hê 'n gemeente moet wees.

Toe ek in 1980 'n beroep aanneem, was die swaarste van die hele trek, die afskeid van Christiana se mense. Ek kry swaar om te huil, ek huil nie maklik nie, maar daardie dag op Christiana se kansel was dit die naaste aan huil wat ek gekom het sedert my babajare!

So het ds Van der Merwe 'n privaat ooreenkoms met Christiana aangegaan en vir twee jaar lank die bediening uitgevoer wat elke Sondag 'n diens om 4 nm ingesluit het. Die naam van ouderlinge J Bothma en Adam Pretorius kom in hierdie tyd by. Die lidmaattal het weer gestyg tot 110 in 1980.

MM SEYMORE (1981-1982)

Ds MM Seymore het reeds in 1979 en 1980 in die kombinasie Bloemhof- Makwassie gedien, wonende op Bloemhof. In 1981 is Christiana in hierdie kombinasie betrek. Vir 'n kwarteeu al is Christiana met sy 70-jarige fees nog steeds in kombinasie met Bloemhof, waar die pastorie nog steeds is.

Ds Seymore is in 1982 na Suidoos-Witbank toe waar hy in 1988 afgesit is. Die eerste vroue-diakens steek in hierdie tyd hulle kop uit: Mej M Pretorius en mej E Smith.

WH STEYN (1982-1983)

In 1982 kom ds WH Steyn op Bloemhof in die kombinasie. Die lidmaattal het intussen weer tot onder 100 gedaal. In 1983 het die kombinasie weer vakant geraak met ds Steyn wat by die Bybelgenootskap aangestel is as verteenwoordiger van ons Kerk. Daar het 'n ouderling J Cloete by gekom. Ds Steyn se herinneringsoorsig het opname in hierdie vlugskriffie verpas.

PR BUITENDACH (1984-1985)

In 1984 en 1985 is die vakature weer gevul met ds PR Buitendach. Hy was getroud met Oom Piet en Tannie Marietjie Basson, wat 'n groot rol in Vaalharts Gemeente gespeel het, se kleindogter. Gedurende sy tyd is daar al gedroom oor 'n saal vir die gemeente. Sedert 1990 is hy nie meer predikant van ons Kerk nie.

L Everton het as diaken by gekom. Die lidmatetal het in 1985 gestyg tot 119 (siele 167). J van Rensburg en J Snyders was bykomende ouderlinge. Terwyl daar nou al sewe wyke was, was die volgende ses persone die diakens. D Jacobs, H van Dewer, M de Beer, Tobie Stear, G Vorster en L Everton. Oom Adam Pretorius, ook kerkraadslid, was nou koster.

JCG JANSE VAN VUUREN (1986-1987)

Vervolgens het ds JCG Janse van Vuuren die vakature in 1986 in die kombinasie gevul - steeds met Bloemhof as woonplek. Ds Janse van Vuuren is die volgende jaar Klerksdorp toe en is van 1995 af nie meer predikant van ons Kerk nie. 'n Ouderling M Redelinghuys en diakens J Bester en JD van Staden, was nuwe name. Die lidmaattal het pragtig gestyg na 148 (197 siele); die rekord!

Terwyl die bekende name al die jare voortgaan: M Prinsloo, (beter bekend as Streep) - ouderling en kassier, mev PJ (Ronel) Prinsloo - orreliste, L Geldenhuys - vroeër jare lank skriba, toe nog ouderling, het daar steeds nuwe name by gekom soos D Wepener, M Nel (ouderlinge). Oom Lou Geldenhuys, oorlede in 1995, was uiteindelik 54 jaar kerkraadslid en 34 jaar skriba.

BM DUPPER (1988- )

Met die koms in 1988 van ds BM Dupper wat in 1985 te Tzaneen op 13 Januarie georden is, het die eerste langtermyn vir die kombinasie aangebreek. Tot vandag, 2006, bestaan die kombinasie 'n kwart eeu - 1981-2006. Gesien die feit dat Christiana reeds in 1879 en in 1916 met die twee stigtings van Bloemhof Gemeente 'n wyk van Bloemhof was, is dit gepas dat hulle nou so lank al weer in kombinasie is. Waar Bloemhof vanjaar op 8 Julie 90 jaar oud is en Christiana vanjaar op 24 April 70 jaar, is dit ook gepas dat ds Dupper wat die langste pastor loci, 18 jaar, van hierdie kombinasie is, albei feestelike geleenthede kan lei.

Ds Dupper het met 140 lidmate (siele 190) begin. 'n Nuwe naam onder die diakens, was J van der Hoff. C Bezuidenhout en C Herbst was ook nuwe name by die diakens en later ook A van Staden en N Swart. Mej E Jacobs was jeugdiaken. By die ouderlinge het in 1991 by gekom H van Tonder en J van Zyl.

In hierdie tyd is nie net L Geldenhuys as skriba vervang met J Bothma wat ook lank skriba gebly het nie, maar Prinsloo as kassier is vervang met mev D Wepener. Sy was ook kolporteur. In 1992 het mev HSC Dupper voorsitster van die NHSV geword. Mev A van Staden was sekretaresse van die NHSV asook kategesehoof. Die jeugverenigingvoorsitter was A Dippenaar. In 1993 het ds NJJ van Rensburg, emeritus, kategesehoof geword. Hy is die seun van prof SPJJ van Rensburg en broer van mev Mariana Dreyer, weduwee van dr AJG Dreyer. 1993 was waarskynlik mev Ronel Prinsloo se laaste jaar as orreliste, nabyna 'n halfeeu!

Waar die kerkgebou altyd op die h/v Eeufees- en Robynstraat gestaan het, het Eeufeestraat in 1994 in die Almanak vir een jaar die naam Dirkie Uys gekry? Nuwe name onder die kerkraad was: JC Willemse, JF Janse van Rensburg (ouderlinge) en onder die diakens: Jl de Wet, EJM Jacobs, EP Kruger, PJ Stopforth en F Swan. In 1996 kry ons die name van bykomende ouderlinge CN Coetzee, H Harris, NJJ van Rensburg; en diakens: drie Jacobse en twee Molle. In 1997 het 'n nuwe ouderling JAL van Zyl ook skriba geword. Die kassier was nou JF Jansen van Rensburg. HC van der Riet was ook 'n nuwe ouderling.

Met die inkoms van sekretariële beamptes wat sommer skriba, kassier en skriba vir registrasie is, was mev L van Zyl dit van 1999 af. Opmerklik is hoe die getal tussen belydende lede en siele rondom die eeuwisseling gekrimp het. In 1999 was die belydende lede 101 en die siele 115. Dit wil sê 14 kinders! In 2001 111 siele en 103 belydende lede, dit wil sê maar 10 kinders! Na mev Prinsloo het die orrelistes gewissel: 1999 - me D Nieuwoudt; 2000: me M Jacobs; 2001: I van den Berg; 2003: me J Prinsloo.

Die dienstyd het verskuif na 8 vm. In 2004 het Kobus Kotzee sekretariële beampte geword. In die feesjaar 2006, sê die Almanak dat daar 81 belydende lede is en 96 siele, dit wil sê 15 kinders.

Ds Dupper gee op versoek op 11 April 2006 die volgende oorsig van sy agtien jaar as predikant van Christiana:

Ek was nog nooit voorheen op Christiana nie. My Pa was lank gelede daar toe hy nog maar 'n jong kind was (1930's) om sy ouma, Puffey, se begrafnis by te woon. Die sustergemeente, Bloemhof was ook vir my 'n totaal vreemde plek. In Oktober 1988 arriveer ons gesin van vier (nou is ons ses) van ons eerste gemeente, Tzaneen, net na die groot vloede van daardie jaar in die groen landskap langs die Vaalrivier.

Van 'n gemeente met nagenoeg agt honderd belydende lidmate bevind ons ons skielik in die midde van twee klein gemeentes op redelik afgeleë afstande van groter sentra - in die verste suidwestelike hoekie van die ou Transvaal. Dit verg aanpassing om eers die kleiner opset gewoond te raak want wanneer die hele gemeente van Christiana byeen is, is dit byna soveel mense as wat in ons vorige gemeente op die kerkraad gedien het.

Gou het ons begin besef dat getalle nie die Kerk kerk laat wees nié. Die manier waarop 'n klein gemeente, soos Christiana, kerk is en gelowig gehoorsaam leef, verskil niks van wat in groter gemeentes die geval is nie. Inteendeel.

Mettertyd sou Christiana in die besonder duidelik toon dat die liefde van Christus diep in hulle harte woon. Gou word ons deel van die een groot geloofsgesin van Christiana al is ons nie binne die grense van die gemeente woonagtig nie. Dit is tot vandag toe opmerklik hoe lief Christiana se lidmate en ampsdraers ons het Die band wat daar binne die gemeente tussen lidmate bestaan, is ook anders as wat in enige ander gemeente aangetref word. Dit is waarskynlik omdat lidmate van die gemeente nie elke dag die predikant en sy gesin op straat of elders raakloop of raaksien nie dat gereelde kommunikasie met die pastoriegesin jaloers in stand gehou word. Dit was veral in tye van nood, by die dood van dierbares of een of ander ongeluk wat die pastorie getref het, opvallend hoe Christiana se lidmate daarop gereageer het Die meer opvallende is dat oud-lidmate wat nie eers meer op die dorp woonagtig was nie en reeds jare gelede verhuis het, deur voortgesette verbintenis, nie noodwendig met die pastorie nie, tog telkens te hore gekom het van gebeure in die gemeente en pastorie en dadelik daarop reageer het.

Omgekeerd is dit natuurlik ook waar dat die pastorie ook voortdurend op hoogte is met wat in die lewens van oud-lidmate gebeur deur die voortgesette verbintenisse wat daar tussen lidmate bestaan. Lidmate wat so ver as in die noorde van Namibië woon. Dit spreek van die hegte bande wat in die gemeente bestaan.

Baie van die lidmate is op Christiana gebore en is steeds daar of het selfs na dekades teruggekeer. Dit is waarom daar 'n baie sterk unieke karakter in die gemeente voortleef. Dit is nie altyd vir enige nuweling maklik om agter die kap van die byl te kom nie. Dinge word net anders gedoen op Christiana en tradisies word nog hoog geag sonder om verkramp daaraan vas te kleef. Tog is daar nie sprake van 'n heersende patriarg of selfs 'n matriarg soos dikwels die geval in kleiner gemeentes is nie. Hier is veel meer sprake van 'n kollektiewe samehorigheid - veral tussen die lidmate wat nouer betrokke is by eredienste en andersins ook nou met die gemeente verbind is. Omdat geleenthede vir vinnige vergaderings nie altyd bestaan nie aangesien die predikant nie altgd teenwoordig kan wees nie as gevolg van die afstand en verpligtinge by die sustergemeente, het die lidmate tot 'n baie hoë mate geleer om self vir baie sake verantwoordelikheid te neem. 'n Kollektiewe verantwoordelikheidsin is baie duidelik in die gemeente aanwesig. Die kerkraad kan vinnig konsensus bereik oor 'n dringende saak dit ten uitvoer bring en later in die konsistorie op 'n Sondag voor die erediens rapporteer dat die saak reeds afgehandel is. Sprekende voorbeelde daarvan is wanneer die banksaldo nie te rooskleurig lyk nie. Waar 'n ander gemeente of kerkraad waarskynlik die volgende Sondag in die konsistorie of by 'n volgende vergadering op optrede sou besluit, word daar eerder die volgende Sondag gerapporteer dat die probleem vinnig reggestel is deur 'n straatverkoping te reël, lidmate te nader om dringend hulp te verleen of dat die een of ander plan beraam is om die probleem daar en dan die hoof te bied. Dit is een van die dinge wat ons self hier aangetref het en gelukkig nie probeer verander het nie. Dit sou die pragtige inisiatiewe wat voortdurend na vore kom verseker in die kiem gesmoor het en van die gemeente dalk 'n domineesgemeente gemaak het. Dit is onteenseglik gelukkig nie van die gemeente waar nie.

Die gemeente is nie baie lief vir geld nie en die oorgrote meerderheid lidmate is nie vermoënde mense nie maar elkeen het 'n absolute hekel daarin dat die gemeente se bankrekening in die rooi moet gaan Daarom het dit oor die jare feitlik nooit gebeur nie. Hoewel daar nooit onbeperkte fondse beskikbaar was nie was daar nooit niks nie en kom die gemeente al die jare steeds sy verpligtinge sekuur na.

Dit is daarom baie eg bedoel as die Gemeente Christiana bely dat die Heer van die kerk sy kerk in stand hou. Male sonder tal, selfs wanneer ons moedeloos was of radeloos (ja dit het ook al gebeur), was daar onverwagte uitkomste. 'n Basaar wat bo verwagting oplewer. 'n Lidmaat wat reageer op selfs 'n terloopse opmerking oor die finansiële situasie. 'n Fondsinsamelingspoging wat bo verwagting presteer. Maar telkens die lidmate wat besef het dat daar nood is en elkeen sy beste nog beter gaan doen het. Ons kan nie genoeg waardering hê vir elke lidmaat se volgehoue offervaardigheid nie.

Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Christiana is nie die grootste Kerk in Christiana nie. Uit staaltjies wat 'n vorige kassier, oudl Streep Prinsloo, vertel het kan mens die afleiding maak dat dit maar 'n redelik onbekende kerk in die vroeër dae was. Ek weet nie veel van die vroeë geskiedenis van die Kerk in die geweste nie maar kan my goed voorstel dat ou predikante soos ds Dirk van der Hoff en andere in die dae voor die motorkar hier sporadies eredienste gehou het. Volgens dr Wim Dreyer in sy boek Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika - die eerste 250jaar - 1652 tot 1902 op bl 154 is Bloemhof, wat voorheen 'n wyk van Potchefstroom was, in 1879 deur die Algemene Kerkvergadering as gemeente erken. Dit dui daarop dat daar vroeg reeds kerklike bedrywighede van die Hervormde Kerk hier plaasgevind het. Volgens die meegaande kaart op bl 155 word die grense van die gestigte Gemeente baie wyd getrek en sluit dit Christiana in. Dit het seker baie daarmee te doen dat van die direkte nasate van ds Van der Hoff steeds op die dorp woon - hoewel hulle nie meer Hervormers is nie (tragies) - aangesien dit vroeg reeds vir hulle 'n bekende dorp was. Min besef dat die weduwee van ds Dirk van der Hoff op Christiana in die ou kerkhof begrawe lê. Ek het enkele jare gelede die graf opgespoor en 'n foto daarvan is in die konsistorie te sien. Dit is so dat van die predikante van Potchefstroom, Klerksdorp en elders daardie dae met die trein besoeke aan Christiana gebring het.

Die oudkassier, Streep Prinsloo, vertel dat hy in 1941 as onderwyser na Christiana gepos is in 'n sogenaamde oorlogspos Hy vertel dat tussen Wolmaransstad en Christiana daar nog sewe en dertig plaashekke was. Sy vrou, Nellie, was ook vir etlike jare (meer as veertíg jaar) orrelis van die gemeente. By sy aankoms in die dorp het hy by navraag nie kon uitvind waar en watter een die Hervormde Kerk se kerk op die dorp was nie. Dit was eers by verdere navraag dat hy besef het die Hervormde Kerk staan as die Rosenblatt Kerk bekend. Die ene Rosenblatt het die bestaande kerkgebou vroeër blykbaar eers as woonhuis en later as stoor vir sy delwerytoerusting gebruik. Na onmin met die NG Kerk ontstaan het, het hy hom na die Hervormers gewend en die gebou geskenk as kerkplek vir die gemeente. Ek het geen idee waar die gemeente voor die tyd vir eredienste vergader het nie - in die dae vandat die streek Bloemhof as gemeente in 1879 erken is nie. Ek veronderstel dat daar sekerlik soos op die ander dorpe ook op Christiana in daardie vroeë jare kerk gehou is. Vanweë sy jarelange verbintenis aan die skool en die talle kinders wat deur sy hande gegaan het en sy toegewyde verbintenis aan die Hervormde Kerk, was dit daarom ook te wagte dat die gemeente kort voor lank as Streep se Kerk bekend gestaan het.

Nooit was dit 'n groot of finansieel sterk gemeente nie. Maar een ding is seker, en dis vandag selfs meer so, die gemeente staan sy plek in die gemeenskap van Christiana vol By al die predikante en lidmate van elkeen van die ander kerke op die dorp is daar 'n besondere waardering vir die Hervormers. Dit is duidelik uit die goeie ondersteuning tydens ons basaars en ander funksies maar veral wanneer ons kerssangdienste, paassangdienste of ander geleenthede vier. Dis of die stemmige, karaktervolle eredienste, waar lidmate self nog geleentheid kry om die kerklied te sing en die hartlike samesyn tydens en na sulke geleenthede, onweerstaanbaar is vir daardie besoekers. Dalk is dit ook daaraan toe te skryf dat Christiana Gemeente se lidmate geen front voorhou om te wil wees wat hulle nie is nie. Met die grootste respek kan mens sê dat dié gemeente niks het om op te roem nie behalwe om in alle nederigheid in Christus te roem en hulle heil voortdurend by Hom te soek. Mag dit die vernaamste kenmerk van die gemeente bly!

Die gemeente was nog nooit in sy totale bestaan daartoe in staat om sonder 'n ander gemeente selfstandig te bestaan nie. Ek sê nou nooit maar dalk eens op 'n tyd vir 'n kort rukkie of rukkies. Die enigste predikant wat in pastorie-eiendom van die gemeente in Christiana gewoon het, was ds PM Smith, wie se eerste gemeente dit was, na hy sy studies voltooi het. Dit was in 1944. Die pastorie was Robynstraat 69, wes van die kerk.

Die gemeente het oor jare by verskeie geleenthede ringsvergaderings ontvang. Tydens die laaste een in 2001 (14 Maart) is tente opgeslaan vir die verversings maar 'n nagtelike storm het alles onder water gelaat en moes die gaste maar onder die kareeboom en agter die kerk skuil teen die motreën. Van tyd tot tyd is ander vergaderings op ringsvlak daar gehou. Talle huwelike is in die gemeente deur predikante oor die jare bevestig en menige begrafnisstoet het van die kerkie op die hoek van Robynstraat en Eeufeesstraat (voorheen Engelschestraat) kerkhof toe vertrek. Dit was nooit moontlik om begrafnisgangers of selfs huweliksgaste te nooi vir verversings nie. Die gemeente het baie basaars aangebied. Gemeente-etes is gereeld gehou. Voor die oprigting van die saal is die laaste gemeente-ete onder die kareeboom wat, nagenoeg, gestaan het waar die braaiplek nou is, gehou. Kareeblaarslaai was vanselfsprekend op die spyskaart! By dié geleentheid is talle versugtinge vir 'n eie gerieflike saal gehoor. By elkeen van die geleenthede is die wens uitgespreek dat die gemeente eendag sy eie fasiliteite sal hê om gesellig verversings te kan geniet en beskut teen die elemente lekker te kan kuier. By al die geleenthede moes die susters óf die NG kerksaal, óf die stadsaal óf die Uit en Tuis dienssentrum se geriewe huur. Skottelgoed is aangery en baie moeite is gemaak om dit so keurig moontlik te doen op ander se voorstoepe. Tog is dit werklik opvallend hoeveel lidmate elke keer gemeentegesellighede, gemeente-etes en ander funksies bygewoon het al was dit dikwels onder dreigende weersomstandighede. Wie sal vergeet hoe ons al in die verlede met 'n lang vuurstert agter die bakkies aan na lidmate se motorhuise gejaag het met die brandende braaivleisvure agter op! Maar kuier het ons gekuier. Wie sal byvoorbeeld die uitbundige samesyn in 'n reënstorm langs die Vaal op Chris se vlot vergeet? Om die waarheid te sê, in 1988 het 'n groot klomp bakstene nog op die kerkwerf gelê - 'n stille herinnering van nog 'n poging om 'n eie saal te bou. Die stene is later weer verkoop. Basaars is gereeld gehou en later van tyd selfs twee keer per jaar. Vir die doel is aanvanklik tente opgeslaan en later is 'n opslaanbare staalstruktuur met groot spoorwegseile oorgetrek en daarin is basaars vir jare op die huidige parkeerterrein voor Spar gehou. Dit was nie altyd so aangenaam nie. Windstorms het stof en sand op die pannekoek en braaivleis gestrooi of reënbuie het uitgesak wat die mense enkeldiep in die water laat staan het. Of dit was vreeslik warm en soms vreeslik koud. Mens dink met heimweë aan veral die meer bejaarde ooms en tannies wat waarlik baie opgeoffer het om in uiterste omstandighede diensbaar te wees by basaartafels. Dit het aan ontbering gegrens. Maar die trots om Hervormer te wees en moedig by te dra tot die voortbestaan van die gemeente het in elk geval swaarder geweeg. Ons kan net maar dankie sê.

Notules sal duidelik aandui hoe daar verskeie kere op gemeentevegaderings besluit is om onverwyld met die bouery te begin en boukommissies is op die been gebring. Uit frustrasie is dan maar 'n doelmatige stoorkamer gebou of ander instandhouding gedoen. 'n Boufonds is gestig en die belegging is by die Raad van Finansies gedoen met die oog op die bou van 'n saal. Die fonds het aansienlik gegroei. Lidmate het begeesterd bly glo dat die ideaal verwesenlik sal word. Soms moes die gemeente egter weer by die fonds leen om die begroting te laat klop.

Tot verlede jaar (Sep 2005) toe besluit is om nou daadwerklik tot die bou van 'n saal oor te gaan. Al sou dit beteken dat die projek oor 'n langer termyn van vyf tot tien jaar in fases afgehandel sal word. Die geloof het bestaan dat die Here ook in die behoefte sal voorsien en die poging sal seën. Ten tye van die drastiese besluit in die gemeentevergadering was die kassier se laaste opmerking dat daar nie geld is nie en dat sorg gedra moet word dat ons nie ons verpligtinge sal verwaarloos nie. Die voorsitter (die uwe) se opmerking was dat ons êrens die middele sal vind om die ideaal te verwesenlik. Op hierdie stadium is die res van die verhaal aan elke lidmaat en die hele gemeenskap bekend. Soos daar jare gelede sekerlik ook gehoop is op 'n eie kerkplekkie en dit op onverklaarbaar wonderbaarlike wyse waar geword het deur die skenking van die kerkgebou, net so het die wonderwerk hom in 2005 in die Gemeente Christiana herhaal. Hierdie enkele gebeurtenis in die lewe van Gemeente Christiana is nie mensewerk nie. Is God se werk - Hy hoor gebede en Hy laat hoop in aanskoue gaan al moet Hy mense so in sy diens intrek. So is ook die hele saal, soos dit daar staan, 'n onbeskryflike groot skenking deur broeder Hendrik en suster Christien Potgieter wat op die Sondag toe die gemeente besluit om nou tot bou oor te gaan vir die eerste keer as nuwe intrekkers in die erediens en by die gemeentevergadering teenwoordig was. Meer hoef hieroor nie gesê te word nie...

Uitnodiging
Uitnodiging
Uitnodiging
Uitnodiging
Uitnodiging
Program

Nou, 29 April 2006, neem die gemeente sy eie gerieflike saal in gebruik rondom die sewentigste herdenking van sy bestaan - sewentig jaar van seën!

Die Gemeente Christiana neem nie drasties in getalle toe nie. Eintlik is die kerkraad erg bekommerd oor die kleiner wordende kindertalle. Hoewel daar oor die laaste paar jaar en veral die afgelope jaar (2005) groei in getalle was, is die feit dat die platteland stelselmatig ontvolk 'n voortdurende kommer vir die gemeente. Tien of wat jaar gelede kon 'n jeugvereniging nog funksioneer maar getalle maak dit tans moeilik.

Teen 1990 is die NHSV wat rustend was herstig. Dit is een van die mees aktiewe NHSV-takke in die Ring van Maquassi. Bywoning van vergaderings is bo verwagting goed, as by elke vergadering telkens ten minste tien lede opdaag. Daarbenewens is al die susters in die gemeente ywerige helpers al woon hulle nie vergaderings gereeld by nie. Met die verloop van tyd het die susters deur verskeie pogings ook fondse ingevorder en telkens op kritieke tye skenkings aan die kerkraad gemaak vir die gemeentekas. Genoegsame waardering kan nie uitgespreek word aan die susters van die gemeente wat so toegewyd by verskeie funksies betrokke is en altyd net positiewe harde werk lewer. Hier dink mens veral ook aan die pragtige diens wat gereeld by die Uit en Tuis dienssentrum vir bejaardes gelewer word. Ons bede is werklik dat die NHSV nog vir jare diep spore in die gemeente- en gemeenskapslewe sal trap.

'n Werklike aanduiding van die absolute samehorigheid van lidmate onderling en die hoë waarde wat hulle aan samesyn heg, is duidelik in die bywoning van gemeentegesellighede. Dit vind gereeld plaas en oud en jonk is daardie dag gesellig saam. Die meerderheid lidmate is altyd lus vir die lekker samesyn.

Eredienste is die hartklop van enige gemeente. Vanuit die erediens en die geloof wat daardeur versterk word en om dankbare gehoorsaamheid roep, kom alle verdere dade, projekte en alledaagse optrede van elke lidmaat voort. Tog bly bevredigende gereelde erediensbywoning vir die kerkraad 'n probleem. Lidmate is in toenemende mate geneig om die kosbare kleinood gering te skat en dit gewoon te verwaarloos. Die huidige kerkraad het onderneem om die saak ernstig aan te pak.

Al is getalle nie altyd na wense nie is eredienste steeds 'n onvergeetlike gebeurtenis wat week na week plaasvind. Tydens eredienste is gemeentesang gewoonlik inspirerend. Die huidige orrel is in 1996 deur die gemeente in gebruik geneem by geleentheid van die viering van die sestigste bestaansjaar van die Gemeente op 17 November 1996. Mev E du Plooy, eggenote van ds JJ (Ogies) du Plooy, destyds van Makwassie, het die orrelspel en begeleiding behartig. Op daardie stadium het die gemeente nie 'n vaste orrelis gehad nie terwyl suster Nellie Prinsloo wat vir meer as veertig jaar die orrelis was vanwee artritis dit moeilik gevind het om die nuwe orrel met sy fermer aanslag te bespeel. Dis 'n orrel wat voorheen aan die gemeente Wolmaransstad behoort het en later aan Schweizer-Reneke wat dit as geskenk van Wolmaransstad ontvang het op die voorwaarde dat wanneer hulle 'n beter orrel bekom die orrel aan die gemeente in die ring geskenk sal word waar daar nie 'n orrel is nie of daar nie 'n voldoende orrel is nie. Die volledige geskiedenis van die orrel is in die eeufeesbundel van gemeente Wolmaransstad opgeneem. Aangesien ons orrel, om die minste te sê, behoorlik op die koffie was, was Christiana die logiese volgende keuse toe Schweizer-Reneke 'n nuwe orrel aangekoop het. Ons dank aan orreliste wat oor jare, eers met gebrekkige instrumente, oor die algemeen gratis diens gelewer het.

Sondae wanneer die koster die klok lui, dink niemand waar die klok vandaan kom nie. Van die geskiedenis van die klok is aan my niks bekend nie. Tans word die klok verskuif na die voorkant van die kerkgebou. Dit gaan ook aan dié deel van die gemeente se gebruik om die klok gereeld te gebruik, besondere betekenis verleen na dit vir jare agter die gebou half versteek gestaan het. Mag meer en meer mense op sy gelui reageer.

Die gemeente is erg trots op sy mooi groot terrein. Oor jare was daar verskeie lidmate wat hulle hand aan die groot taak as koster gewaag het. Tans ontvang die gemeente gereeld komplimente vir die keurige versorging van die terrein en die skoon geboue en dit is te danke aan ons ywerige koster, oudl Japie Jacobs.

Ek mag nie nalaat om elke lidmaat wat gedurende die laaste agtien jaar in dié gemeente die pad saam geloop het, te bedank vir al u liefde, opregte belangstelling in my en my gesin se wel en weë en onbaatsugtige diensbaarheid in ons geliefde gemeentetjie nie. Telkens wanneer ek aan u, die Gemeente Christiana dink, voel ek u warme liefde en opregte besorgdheid vir die gemeente en vir mekaar, asof met my eie sintuie aan, al is ek nie elke dag op Christiana by u nie.

By my ontvangs die dag in Oktober van 1988 het ek baie gesê. Een ding onthou ek en dit is dat ons nie groot in getalle hoef te wees om kerk te wees nie. Kerkwees is nie net daar waar die groot getalle mense is nie maar daar waar Jesus Christus in die harte van mense leef. Mag dit altyd van Christiana waar wees en meer en meer waar word.

In die tye wat verbygegaan het, het ons baie groot vreugdes en hoogtepunte beleef waaraan nie een vir een aandag gegee kan word nie. Daarvoor is ons baie dankbaar en ons bede is dat die Here ons steeds daarmee sal bederf. Net so is ons saam met talle lidmate en gesinne deur donker dieptes en ook daaraan kan ons nie een vir een aandag gee nie. Ook wanneer ons hieraan dink, is ons dankbaar want ons is daar deur - nie in eie krag nie maar deur die krag wat die Here ons gegee het toe ons platgeslaan, moedeloos, bedroef of angsbevange was. Mag die Here ons steeds in die toekoms met daardie krag omvou.

Graag sluit ek die kort skrywe met 'n oproep uit die Woord af: Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie. Prediker 11:4 (Gedenksteen by die saal). Laat ons hand dus doen wat ons hand vind om te doen terwyl ons oog op die Here is. Dankie, dankie, dankie.

FEESVIERINGS

Op 3 Januarie 1982 het prof HG van der Westhuizen sy 20-jarige ampsjubileum op Christiana gevier. Dit was net die gewone erediens, sonder die teenwoordigheid van enige ander predikant - net die volle Van der Westhuizen gesin.

Ouderling Izak du Plessis, intussen oorlede, die kerkraad en ds en mev Dupper was so vriendelik om prof Van der Westhuizen uit te nooi om sy 40-jarige ampsjubileum ook in Christiana te vier. Dit het presies op 6 Januarie 2002, 40 jaar ná ordening, plaasgevind. Die prediking was oor Openbaring 12:4: Maar aan die vrou is twee groot arendsvlerke gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek toe, kon vlieg. Die Skriflesing was 1 Korintiërs 10:1-6 en Eksodus 40:34-38. Hierna is 'n pragtige geraamde adres deur die kerkraad oorhandig, met as teks Handelinge 28:31: Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige hindering. Ouderling Hans Koekemoer van Wolmaransstad het felisitasies van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oorgebring. Met die bedanking het prof Van der Westhuizen daarop gewys dat hy in 1962 die graf van mev Van der Hoff-Otterloo in die ou begraafplaas langs die rivier op Christiana gefotografeer het. Vroeg die oggend van die jubileumdiens het hy en mev Van der Westhuizen, reeds met swart pak en kerkklere aan, tussen die doringstruike en kakiebos weer die graf opgespoor. Hy het die kerkraad gevra om die graf in ere te hou, en selfs beduie hoe om die graf tussen die gras te vind. Daarna het die susters van die gemeente 'n heerlike ete vir almal in die stadsaal aangebied. Gewese dominee Peet van Jaarsveld, wat ook 40 jaar vantevore by die ordening was, het spesiaal van Pretoria af uit die ouetehuis gekom. Verder was daar ook ds Schalk Kok van Vaalharts en ds Nic Brayshaw en mev Henriëtta Brayshaw, 'n vorige voorsitster van die NHSV-Hoofbestuur. Ook lidmate uit Vaalharts Gemeente van 40 jaar vantevore was daar soos Sanna van Zyl, Dries en Rita Herbst (eerste troupaar van ds Van der Westhuizen). In die kerk is 'n familiefoto van die Van der Westhuizens geneem. Die enigste wat ooit van al ses kinders en ses skoonkinders en 17 kleinkinders saam met prof en mev Van der Westhuizen geneem sal wees, totaal 31. Toe hulle op Christiana gekom het, was hulle 3. Na 40 jaar is daar 'n 1 by!

Mev Hybrecht Dupper-Combrink is die eerste predikantsvrou van Christiana wat as ouderling van Bloemhof op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verkies is op die 67ste vergadering. Sy was op Sannieshof in die koshuis 'n katkisant van dr HG van der Westhuizen.

Daar was nooit iets geweldigs in die Gemeente Christiana nie - behalwe natuurlik die klank van die Woord van God!

Nadat die kerkgebou gebou en ingewy is, is dit oor die loop van die jare opgeknap. Die enigste groot bouwerk daarna is die saal wat nou met die 70-jarige fees in gebruik geneem word.

Omdat daar na 70 jaar nog geen notuleboek van die gemeente of kerkraad in ons kerkargief in Pretoria geplaas is nie, kon ons tot dusver baie dinge nie navors nie, byvoorbeeld: wanneer en van wie die kerkgrond verkry is; onder wie se leiding die kerk ingewy is en wanneer; die name van kerkraadslede wat nie meer in die Almanak verskyn nie, kan alleen maar in die notuleboeke nagespeur word; ander verwikkelinge in die gemeente asook die motiewe van gebeure kon nie nagespeur word nie; waar die preekstoel, banke, voorleserkateder, doopvont, Nagmaalstafel, klok, musiekinstrumente en so meer, vandaan kom.

Ds. BM Dupper Groeteboodskap
Ds. BM Dupper Groeteboodskap

Miskien moet die kerkraad van nou totdat die gemeente sy driekwarteeufees vier in 2011 'n volledige geskiedenis begin opstel, met die historiese foto's daarby. Geen vorige notules, voor 1977 kon ook in die konsistorie of boekery van die gemeente opgespoor word nie; ook nie by vorige skribas nie. Sommige is ook reeds oorlede - soos oom Lou Geldenhuys. Sy enigste oorlewende gesinslid, Alta (of Lettie) Snyders, sê dat die kas waarin haar pa die kerkboeke gebêre het, leeg was toe die plaas, Skoonheid, verkoop is. Die boeke is dus verwyder - maar waarheen of by wie dit nou is weet niemand nie. By navrae aan suster Anna van Staden wat 'n leidende rol in die gemeente gespeel het en nou in Namibië woon, het sy vermeld dat sy voor haar vertrek wel boeke van die gemeente aan ds Dupper oorhandig het. Ons kon nog nie kontroleer of dit finansiële boeke of notule boeke is nie. Sy sê wel dat die jaartal 1937 daarin voorgekom het.

So was hierdie gemeente weens langdurige toewyding soms die Rosenblatt Kerk genoem, later weer die Streep Kerk en miskien kan dit nou die Dupper Kerk genoem word (nie Dopperkerk of Doperkerk nie)! Maar dit bly die kerk van Christus.

Quick links:

Articles:
Please note - articles have not been translated.
Documents:
Please note - documents have not been translated.
Photos from the past:
Support local businesses and events:

Latest additions:

Articles:


Calendar Photo Competition 2020 - Results Calendar Photo Competition - click the beautiful around you and enter. Entries close: 30 September 2019 at midnight. The results of our first photo competition are here!


Modern Christiana Photo Gallery Modern Christiana Photo Gallery


Christiana Noordwes Provinsie / North West Province:
Christiana Noordwes Provinsie / North West Province

Support Local Businesses and Events - Business Directory & Calendar





CHRISTIANA WEATHER