Groeteboodskappe aan die NG Gemeente Christiana met sy Eeufeesviering 1998
In alle opsigte is hierdie mooi dorp met sy yslike erwe 'n voorpos, as die hoofstad van mees suidelike en westelike van alle Transvaalse distrikte. Dié lê soos 'n lang, dun vinger tussen die Vrystaat en Noord-Kaapland. Dit was dan ook die bedoeling met die stigting van die dorp deur pres M W Pretorius: dit moes as voorpos help om Transvaal se aanspraak op die diamantvelde te verstewig. Die dorp is na die president se dogter vernoem.
In die beginjare was Christiana deel van die gemeente Bloemhof, in 1870 gestig. Dit was wel 'n kerkplek, en die konsulent, ds Faustmann van Schweizer-Reneke, het dikwels hier diens gehou en die sakramente bedien. Na enkele jare is daar gevoel dat Christiana moet afstig. Dit is gedoen, maar die tyd was nie ryp nie en die gemeente is terug na Bloemhof. Van al die omstandighede is ons nie seker nie, want die stukke in verband daarmee is alles gedurende die Tweede Vryheidsoorlog verbrand.
Die stigting van 1898 deur ds Jacob Strassheimer van Klerksdorp was dus die tweede stigting van die gemeente Christiana. Dit was die derde laaste afstigting in Transvaal voor die Tweede Vryheidsoorlog: nà Christiana was dit net nog Germiston en Belfast, toe breek die oorlog uit.
Gelukkig het Christiana reeds in 1898 'n troue herder gekry, ds K T van den Heever van Bloemhof, wat tien jaar daar bly. In die oorlog het hy nie traktement ontvang nie, en twee jaar daarna ook nog nie. Uit die Hulpbehoewende Gemeentefonds het hy ietsie gekry, maar moes verder aan die gang bly deur loseerders in te neem - vroeë tentmaker, dus!
Die oorlog het Christiana swaar getref. Die dorp was vol Engelse soldate en hulle het die hele wêreld omgedolwe, op soek na diamante. Na die oorlog was die lidmate so arm dat hulle verder gedelf het - tot onder die vloer van die ou sinkkerkie.
Met die bevestiging van dr H S Pretorius (later argivaris van die Transvaalse Kerk) in 1915 lyk dit of dit begin beter gaan. Die gemeente samel geld vir 'n kerk in. Die hoeksteen daarvan word op 9 April 1921 deur dr Pretorius gelê.
Sover bekend is dit die eerste kerkgebou wat deur Gerhard Moerdyk ontwerp is. Die kerk word voltooi, maar daar is nie geld vir die toring nie. Die Depressie kom in die jare dertig, en nie net die toring kan steeds nie gebou word nie, maar die kerkraad is genoodsaak om sy erwe op die dorp te verkoop om aan die gang te bly. Eers na die Tweede Wêreldoorlog in 1948, word die kerktoring feestelik in gebruik geneem, 27 jaar na die hoeksteenlegging, maar sonder skuld. En wat 'n wonderlike present vir die halfeeufees!
Christiana is nou 'n mooi dorp met sy warmwaterbron, sy wildtuin en - altyd - sy riviere. Die gemeente is 'n geëerde en gerespekteerde deel van die Sinode van Wes-Transvaal. Dit is dan my groot voorreg om namens myself en die Sinode van Wes-Transvaal, Christiana hartlik geluk te wens met sy eeufees. Mag hierdie gemeente wat die 19de eeu in Wes Transvaal afgesluit het, op die voorpos bly van die kerk se arbeid en stryd in die 21ste eeu!
Die Here seën u.
Ds J v W du Plessis
Voorsitter Sinodale Kommissie, Wes-Transvaal
Onder my versameling van portrette waaraan ek die meeste waarde heg, is een van die kerkraad van Christiana. As ek na die gesigte op die foto kyk, vermenigvuldig die gedagtes in my binneste. Dit is die Kerkraad wat deur die Hemelse Vader gelei is om my na Christiana te beroep. Voordat ek na die gemeente gekom het, was elkeen van Ds J L Pretorius hulle aan my onbekend, soos ek aan hulle onbekend was. Die beroep is in die geloof uitgebring en in die geloof aangeneem. As ek nou aan die beroep na Christiana dink, is ek die Hemelse Vader innig dankbaar dat ek my bediening saam met daardie kerkraad en in daardie gemeente kon begin. Die gasvryheid, die liefde, die verdraagsaamheid wat ek daar ondervind het, sal vir my altyd 'n baie kosbare herinnering bly.
As predikant in my eerste gemeente, wat nog so baie moes leer, was dit altyd 'n riem onder die hart om te weet dat daar troue en dierbare vriende is wat vir my en die gemeente bid. Die Hemelse Vader wat die Hoorder van die gebed is, het die seën geskenk op wat in swakheid vir Hom gedoen is. En dit was inderdaad 'n veeleisende taak wat volbring moes word. In daardie tyd was daar meer as 1 000 lidmate, waarvan 'n aansienlike deel bejaardes wat besondere aandag nodig gehad het. By Nagmaalsgeleenthede was daar 5 eredienste en 'n vroeë biduur. Gereelde buitedienste moes op 3 plekke in die distrik gehou word. Aan die begin van die oorlog was dit die reëling dat indien 'n soldaat op die slagveld sneuwel, die predikant van die familie daarvan in kennis gestel word en dit sy taak was om die naasbestaandes van die droewige gebeurtenis te verwittig. By alles moes ook nog gereeld jaarliks huisbesoek gedoen word. In die geheel dus 'n vol program van pligte wat nagekom moes word.
Dit was 'n tyd waarin daar veel droefheid in die gemeente ondervind is. 'n Taamlike aansienlike getal lidmate het by die leër aangesluit en sommige van hulle het nie weer van die slagveld teruggekeer nie. Die vloed wat die dorp getref het, het groot skade meegebring. 'n Aantal huise is heeltemal verwoes en die inwoners is dakloos gelaat. 'n Gees van hulpvaardigheid het in hierdie tyd in die gemeente vaardig geword. Familie, vriende en kennisse het 'n helpende hand uitgesteek sodat die dakloses versorg kon word. Vir diegene wat nie in huise van bevriendes opgeneem kon word nie, is 'n plekkie in die stadsaal ingerig. Meubels wat uit die verwoeste huise gered is, is in die saal só gepak dat dit 'n aantal klein hokkies gevorm het en in hierdie "skuilplekke" is die dakloses herberg gegee. In hulle uur van nood is die vloedgeteisterdes só toegevou in die liefde en medemenslikheid van die medegelowiges.
As ek terugdink aan die jare wat ek in die gemeente Christiana gewerk het, kom die dankbare belydenis van die digter van Ps 107: 1 in my gedagte: "Loof die Here, want Hy is goed; aan sy liefde is daar geen einde nie". In hierdie tyd van onsekerheid, waar die toekoms soms so somber lyk, is dit troosryk om terug te dink aan God se troue bewaring en om vir die toekoms, steeds te vertrou op Hom wat ons onveranderlike Hemelse Vader is.
Ds J L Pretorius
Oud-leraar
Hooggeagte en geliefde gemeente!
Van harte bid ek die seën van die Here af op u feesverrigtinge. 'n Fees wat getuig van diepe dankbaarheid. 'n Eeu wat deel uitmaak van 'n veel en fel bewoë tydperk in die geskiedenis van ons kerk en ook van ons volk. Die genade van die Here is inderdaad groot. Hy wat getrou aan sy Woord u en ons almal gedra en bewaar het; deur wêreldoorloë, depressie, droogtes...
Christiana! Nà 45 jaar kyk ek terug op die pad van my bediening wat hier begin het. By geleentheid het my troue vriend en kollega, prof Evert Kleynhans gesê: "'n Gemeente wat die geloofsmoed aan die dag lê om 'n proponent te beroep, verdien 'n monument!" Wyse woorde wat getuig van 'n diepe insig! O, die flaters en die kraters, die onnosele en onmoontlike stommiteite wat so 'n proponent in sy voortvarende jeugdigheid kan aanvang grens aan - ja! - die absurde. En dis net die gemeente van die Here wat in staat is om dit alles geduldig te verdra, te verwerk - somtyds met 'n glimlag, andersyds ook - tereg - met grimmigheid!
Die ses-en-twintigste dag van Januarie 1953 het u so 'n geloofsstap geneem. Die proponent was die uwe! Die agtiende dag van April 1953 (vier dae nà my 27ste verjaarsdag) is ek bevestig in die amp as herder en leraar. My ander getroue vriend, dr Sarel Eloff het die rede gehou en nog 'n ander ewe getroue vriend, ds Dawid Streicher, het die bevestiging waargeneem. Hy - die wyse man - het vir my ontsaglik veel beteken.
Christiana! Hier is ons oudste seun Rudolph gebore en gedoop en het hy leer loop! Later het nog vier kleine mensies bygekom - uiteindelik drie seuns en twee dogters. Tans is daar ses kleinkinders - kanse vir nog meer lyk goed!
Insidente wat uitstaan is daar heelwat! Christiana het indertyd nie lopende water gehad nie. Elke erf het maar 'n eie boorgat of put gehad met 'n windpomp of 'n wiphout... water moes per emmer aangedra word huis toe, 'n gebeure wat my andersins vrome skoonmoeder grimmig laat opmerk het: "Aan wat se soort man het ek my dogter toevertrou!" Skoonma moes naamlik by geleentheid self wiphout trek en emmer dra! Ek was uithuisig en die baba moes gebad word! Die "kyk" wat sy my gegee het toe ek later my opwagting maak, het my laat besluit: dit sou die verstandigste wees om verder huisbesoek te gaan doen!
Daar was mooi karakters. Mense met integriteit. Pilare in die koninkryk van die Here, mense wat maar net altyd daar was. Ook Koos van der Merwe, die koster met sy welige bypassende snor en vinnige stappie en verleë glimlaggie! Op sy erf had hy 'n melkkoei - en elke aand het hy 'n vrugtefles vol melk pastorie toe gebring vir "koffie, pap en die baba". Goeie, liewe oom Koos.
Daar was die waardige bruidegom wat die mooi gewoonte gehad het om my altyd met die hand te groet - waar ook al! En toe gaan hy hom in die huwelik begewe. Voor die kansel, penregop, met swaelstertmanel en pluiskeil en al, het hy pronkend langs sy bruid gestaan - gereed vir wat mag kom. En toe kom dit! Toe ek opstaan om die verrigtinge in te lei, onthou hy die handdruk! Plegtig druk hy sy pluiskuil in sy bruid se los hand met die woorde "Wag eers!" en ewe netjies en statig klim hy op die preekstoel tot langs my, steek sy hand uit en groet van harte: "Dag Dominee - hoe gaan dit met u en met Mevrou en die baba?" Net so statig het hy afgeklim, sy plek langs sy bruid ingeneem - hoed weer in die hand - en met 'n kopknik: "Raait Dominee".
Glimlagte en 'n amperse handeklap het nie ontbreek nie! Veral die arme orrelis. Sy het i p v die aangewese psalm sommer weer die troumars aangehef!
Hartseer tye het nie ontbreek nie. Daar was die sesjarige dogtertjie wat oogkanker gehad het. 'n Smartlike lyding wat ek nooit vergeet nie. Daar was soms tot vier begrafnisse per dag! Bejaarde mense. En... o, diamante! Mensig!
En so kan ek meer vertel. Die gereelde swem in die Vaalrivier saam met Kallie de Waal - douvoordag, want die gemeente mag nie die Dominee in sy baaikostuum sien nie! Genoeg!
Saam met my vrou, Sarah, en ons kinders groet ons u van harte. Christiana neem 'n besondere mooi plek in ons lewe in. Uitgebeitel en ingebeitel. Die meetsnoere van die Here het vir ons daar by u in mooi plekke geval!
'n Duitser het eenmaal gesê: "Ek het geen probleem met die lugpersoneel van die kerk nie, maar wel met die grondpersoneel!" Ons was... deel van die grondpersoneel van die koninkryk van die Here. Kom ons neem daaruit net mooi en goed en reg en waarheid. U verdien 'n monument!
tt in Christus
Tienie en Sarah Britz
Oud-leraarspaar
Op Christiana vertel die ou inwoners jou dikwels dat as jy eenmaal van die Vaalrivier se water gedrink het, jy altyd 'n hunkering na hulle dorp sal hê. Dit moet baie naby aan die waarheid wees, want Christiana sal altyd een van ons besondere liefdes bly.
Ek sal die Koning van die kerk altyd dankbaar bly dat ons pad deur die bediening ook deur Christiana geloop het, want daar is bande gesmee wat vandag nog bestaan.
Ek is as 32-jarige jong leraar op 13 Februarie 1965 daar bevestig as opvolger van ds David Streicher wat na 'n bediening van 16 jaar daar geëmeriteer het. Verskeie vorige beroepe o a dié op ds Willie Marais en prop Malan Nel, het nie geslaag nie. Die beroepsbrief wat deur tien ouderlinge en sewe diakens onderteken is, is nog in my besit. Ek besit ook nog die program van die gesellige ontvangs in die stadsaal en sien dat wyle oom Gert Victor as leierouderling namens die kerkraad gepraat het.
Die drie en 'n half jaar van ons bediening in Christiana was baie geseënd vir ons as gesin. Ons oudste seun, Marius het hier begin skoolgaan. Ons jongste, Wimpie, wat nou ook in die bediening is, het sy eerste tree in die gang van die pastorie gegee. Ons dogter Eslé het eendag weggeloop en byna in die watervoor beland.
Van die hoogtepunte was beslis die restourasie van die pragtige klipkerk, die eerste wat deur Gerhard Moerdyk beplan is. Dit het die vervanging van die houtvloere, die afskuur van die banke en die preekstoel, en die herstel van die dak behels, en het die totale bedrag van R11 ,000 beloop.
Dit sou gevaarlik wees om sommige lidmate uit te sonder. Miskien moet ek maar volstaan deur te sê dat die hartlike meelewing van die gemeente een van die dinge is wat 'n mens bybly. Daar was van die bejaarde ooms wat saans met hulle trapfietse en 'n flitsliggie kerk toe gekom het. Daar was sommige lidmate wat gereeld van 'n huurmotor gebruik gemaak het om kerk toe te kom.
Deur die jare heen het baie dinge in die gemeente verander, mense het gekom en gegaan. Tog het die Here van die kerk dieselfde gebly. Hy sal ook op die pad van die toekoms daar wees om sy kerk in stand te hou.
Namens ons hele gesin hartlik geluk met die eerste 100 jaar. Mag die Koning van die kerk in alle opsigte op die pad van die toekoms voorsien! Soli Deo Gloria.
Ds en mev M van de Wall
Oud-leraarspaar
Hartlik geluk met eeuwending!
Ons was bevoorreg om vanaf 11 April 1969 tot begin 1973 die herderstaf in die moedergemeente van Christiana te kon opneem. Inderdaad 'n voorreg om in die voetspore van 'n ou vriend, ds Marius van de Wall, te kon voortbou.
Elke gemeente het ook maar sy probleme, maar die mooi en soete herinneringe van ons werk in hierdie gemeente was baie meer as die teendeel. Die samewerking tussen leraar, kerkraad en gemeente was wonderlik en onvergeetlik. Ek en my eggenote, wat albei eers in die Onderwys gestaan het, het veral die werk onder die jeug van die destydse groter laer-, hoër- en huishoudkundeskole baie geniet. Ook die bejaardesorg - Christiana het 'n groot aantal senior burgers gehad - was 'n groot uitdaging en 'n besondere arbeidsveld. Besondere bande het dan ook ontstaan tusssen die pastorie en baie van hierdie bejaardes. So onthou ek vir wyle oom Dawid Nel, wat ook as afgevaardigde ouderling my moes vergesel na die Sinodesitting in Pretoria. Hy was besonder konserwatief en toe 'n jong dame een middag by ons losiesplek verbystap in 'n baie kort minirokkie, was sy opmerking: "Dominee, as ons oumense dit nou moes aanskou, staan hulle uit hul grafte op". Ek kon die versoeking nie weerstaan om vir die oom die teenvraag te stel nie: "Oom Dawid en sê nou hulle weier om weer te gaan rus?"
Die behoefte aan 'n eie kerksaal is gou geidentifiseer en was 'n saak na aan ons hart. Geld was maar skaars, maar ons het al ons kragte saamgesnoer, gebid en gewerk... en weldra het ons begin bou en is die saal sonder 'n sent skuld ingewy en in gebruik geneem. 'n Lang gekoesterde ideaal is verwesenlik!
Waar die gemeente vanjaar terugkyk op 'n afgelegde skof van 100 jaar, kyk ons saam met u terug en is ons saam met u dankbaar vir die mylpale wat u kon bereik. Baie hartlik geluk!
Wat die toekomspad betref, herinner ons u as leraar, kerkraad en gemeente graag aan Paulus se woorde in 1 Kor. 3:9 en 11: "Ons is medewerkers van God, die akker van God; die gebou van God is julle... niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus". Ons bid u die seën van Bo toe op u feesprogram en vir die jare wat voorlê. U is deel van die strydende kerk van Christus; mag u ook altyd deel wees van sy tromferende kerk.
Ds en mev Nico van Zyl
Oud-leraarspaar
Honderd genadejare met Christus. Dit het die Eeufeeskommissie heel gepas besluit sou die feestema wees van Christiana-gemeente se feesjaar.
Die Here het beskik dat op 7 Mei 1898 hier 'n gemeente langs die Vaalrivier gestig sou word. Dit is in 'n gemeenskap waar lidmate oorwegend 'n bestaan gemaak het uit die landbou en delwery. Die lidmate moes met taaie volharding onder moeilike omstandighede 'n bestaan maak. Ons glo dat dit die Here se wil was dat sy Kerk hier tot stand moes kom, dat sy Koninkryk hier gevestig moes word, dat sy kinders hier in hulle geloof gebou moes word, dat sy Koninkryk hier gebou moes word en dat sy Naam bo alles verheerlik moes word.
Ek is op 25 Januarie 1973 na twee gemeentes as proponent beroep: Hofmeyr in die Oos-Kaap en Christiana. Dit was op daardie stadium in my lewe vir my 'n redelike krisis. Ek was bewus van 'n predikantetekort in ons kerk, maar ek kry nie 'n beroep nie. Toe op een dag het ek twee beroepe gekry - 'n maand na Kersfees. Iemand het tereg gesê my Kersgeskenk was 'n maand laat. Ek glo dat ek gelei is om hierheen te kom en op 17 Maart 1973 is ek deur ds H S Havenga hier bevestig. Ds W A Burger, toe leraar van Hansvallei het die bevestigingsrede gelewer.
Op 17 Maart 1998 sal ek 25 jaar leraar van die gemeente wees. Ek is met ander woorde bevoorreg om vyf-en-twintig van die Honderd Genadejare met Christus met die gemeente te deel. Behalwe my vrou en ons dogter het ek binne 'n radius van 'n hele paar honderd kilometer geen familie nie, maar, en ek het dit al gesê, my gemeentelede het my broers en my susters geword. Ek is bevoorreg om vir vyf-en-twintig jaar reeds die evangelie te bring in hierdie gemeente. Ek het baie lief en leed reeds al hier kon deel. Ek was by met die driekwarteeufees in 1973. Ek was weer by met die honderdjarige feesvieringe. Dis My bede vir die gemeente vir wie ek baie lief is, is Paulus se bede vir sy gemeente Filippi (1:9-11): "Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer."
Ds en mev J W Strümpher
Huidige leraarspaar





