Click Christiana | Geskiedenis: Die Christianase Hoërskool Vier Saam Fees

GESKIEDENIS: Artikels & Dokumente

Die Christianase Hoërskool Vier Saam Fees

Ons dorp Christiana vier vanjaar sy Eeufees. In die ou skooljoernaal staan geskryf dat op Woensdag, 9 Oktober 1918, die Hoërskool tot stand gekom het. Wanneer ons dorp se feesvierings dus in die week vanaf 5 tot 10 Oktober 1970 sy hoogtepunt bereik, is ons Hoërskool se wel en wee, reeds vir presies 52 jaar - meer as 'n halwe eeu - onafskeidbaar verbonde aan dié van ons dorp. Vir ons as huidige personeel en leerlinge en sekerlik ook vir die oudpersoneel en oudleerlinge van ons skool, hou hierdie gebeurtenis dus ook 'n besondere betekenis in.

Saam met ons dorp wil ons vanjaar feesvier en terugdink aan die tydperk van meer as 'n halfeeu wat vir ons skool in die besonder verby is en aan 'n eeu wat vir ons dorp, agter die rug is. Hoeveel leerlinge het nie in hierdie tyd deur ou Christianase Hoërskool gegaan nie en het daarna dwarsdeur ons land, hulle voetspore gaan afdruk op alle gebiede van die lewe? Vanjaar sal elkeen van hulle aan wie die nuus dat ons feesvier bekend is, terugdink aan ons ou dorpie langs die Vaalrivier en aan die rooibaksteen-gebou - ons Hoërskool - wat hoewel dit klein begin het, vandag fier uittoring by sy omgewing en vir myle reeds sigbaar is as 'n mens die dorp nader. Ons kan roem op 'n trotse verlede, ryk aan tradisie, waarop ons die hede grondves en die toekoms wil bou.

Mnr. W F de Jager
Mnr. W F de Jager

Die eerste leuse van die Christianase Hoërskool "WIL TEL" is 'n versinnebeelding van ons skool en ons dorp se wordingsjare, toe daar saam gestry is deur baie wat vandag miskien nie meer daar is nie, om deur opvoeding en volharding, 'n deeltjie by te dra tot die opheffing, groei en totstandkoming van 'n volk wat vandag met trots sy kop hoog kan hou. Hierdie leuse is later vervang deur 'n nuwe "VIR ONS TOEKOMS", wat vir ons die pad aandui, dat ons as opvoeders 'n plig het om hier in ons skool ook ons deel by te dra en ons seuns en dogters so te lei dat die toekoms met vertroue in hulle hande gelaat kan word. Mag ons in hierdie grootse taak wat aan ons toevertrou is, deur ons Skepper, die krag en die genade ontvang om nooit te faal nie maar in die kleinste dingetjie, ons roeping te vervul.

Saam met elke inwoner en oud inwoner van Christiana, is dit ons skool se innigste wens dat die tekens van bloei en ontwikkeling wat daar op verskillende gebiede in ons dorp reeds sigbaar is, tot volle wasdom sal kom in die dekades wat voorlê - dat ons in die toekoms trots sal wees op ons dorp en trots sal wees dat ons 'n inwoner of oud inwoner van Christiana genoem kan word. Alle sukses met die Eeufeesvierings.

W. F. DE JAGER

CHRISTIANASE HOËRSKOOL 1918-1970

Hogere School Christiana, Transvaal.

Deze school behoort tot die Hogere Scholen welke door een bezonder besluit van die Provinsiale Raad, aan het eind van 1917 genomen is. Den besluit word met April 1918 ten uitvoere gebracht. Het getal kinderen stand VI bygerekend moest met minder dan 75 wesen; maar in ons geval bleef St. 6 self in het gebouw der Lager School, en word door die staf de school onderwyzen. Tot het eind van het derde kwartaal ageerde mnr. J. H. Pienaar B.A. als hoof beider Scholen.

Woensdag die 9de Oktober 1918 word die School heropend. Die niewe Principaal Dr. H. Gutsche M.A. word begroet door die Voorsitter van de Raad, mnr. Joubert en door de Voorsitter van het komitee Dr. Pretorius V.D.M.

Dr. Gutsche dankte voor het vertrouwen in hem gesteld en noemd enige van de beginselen welke hy van plan was by het onderwys toe te passen.
C. L. Brink
D. A. L. Naude
J. A. Oosthuizen
Waren voltallig aanwesig.

Dr. H. Gutsche
Dr. H. Gutsche

ENKELE UITTREKSEL UIT DIE SKOOLJOERNAAL. (DIE BEGINJARE)

Die klassen de Hogere School worde gehouden in het oude Schoolgebouw opgericht ten tyde der Z.A. Republiek. Dit gebouw is zeer primitief en heel ondoelmatig. Er zijn 4 kamers van elkaar gescheiden door houten tussenscholen daar is ook een Science vertrek van dieselfde aard.

20/2/1919.
Die leden van die staf verschenen in die vergadering van die Schoolraad waar 'n klachte ingediend was dat de Duitse Taal aan die kinder- en opgedringen word, maar het Hoofd en de staf werden van alle blaam vrygesproke.

28/3/1919.
In die toekoms moeten alle kinder- en tot die laaste dag op school blywen daar deze dag biezonder belangrik is voor de karaktervorming van die scholieren. Vroue besluit maar moeilik om uit te voer. Perdesiekte die elfuur trein, die poskar, wat moes nie alles dien om die huistoe verlange te bedek nie?

Op die 10de November 1910 verskyn die volgende in die Staatskoerant.

Proklamatie van Zyn Edelgestrenge De Administrateur van de Provincie Transvaal.

Nademaal in subartikel (2) van artikel seven en vyftig van wet no. 25 van 1907, zoals gewyzigd door artikel zes van wet no. 3 van 1909 bepaald is dat scholen kunnen worden toegevoegd aan de Derde Schedule van eerstgenoemde wet. En nademaal . . . . . ens.

Zo is het dat ik onder en krachtens de bevoegdheid aan my verleend, hier by verklaars proklameer en bekend maak dat de volgende Scholen hierby zullen zyn gevoegd, aan de Derde Schedule van wet no. 25 van 1907 met ingang van 10 November 1920.

Hogere School te Bethal
Hogere School te Christiana.

GOD BEHOEDE DE KONING

Gegeven onder myn hand te Pretoria deze vierde dag van November Een Duizend Negen Honderd en Twintig.

A. G. Robertson.
Administrateur van Transvaal

Ou Hoërskool, Christiana
Ou Hoërskool, Christiana

Vierdie Kwartaal 1920. Tot ons grote teleur-stelling moes ons verneem dat die nuwe gebouw eerst op die 1921 / 1922 begroting geplaats word.

Derde Kwartaal 1921. Die hostel toestande met die 2 sekse is absoluut onhoudbaar.

Eerste Kwartaal 1922. Eindelik word die seuns en meisies geskei. Mnr. Bouwer losieshuis word deur die Departement gehuur. Die regering het tenders gevraag. Ons hoop dat voor einde 1923 die gebouw opgetrek sal word. In Januarie 1923 is begin met die bouw van die nuwe gebouw.

MNR. J. H. PIENAAR Okt. 1915-1918 Okt.

Agter ons lê so oneindig veel wat werd is om in die herinnering terug te roep, en waar moet 'n mens begin?

Aan die begin van die twintigste eeu was die meeste hoofde van skole, Milner-benoemelinge en gevolglik dus Engelssprekend. So was daar op Christiana 'n sekere King aangestel, maar die ontevredenheid was so groot, dat ongeveer 1910 'n tweede hoof, meer bepaald vir die Afrikaanssprekende leerlinge, aangestel is. In 1915 is oorgegaan tot 'n parallel-mediumskool en het ek in Oktober 1915 die hoofskap oorgeneem.

Toe die dominee en ek die eerste môre die hek binnestap, is ons byna onder stof geloop deur 'n bende woestaards, wat nie eers gedink het om te groet nie! Die samelewing was destyds ook nog anders as vandag; die skeiding op politieke gebied was besonder skerp. Ek onthou nog goed hoe een van die stadsvaders my as volg welkom geheet het: "As jy 'n Sap is, smyt ons jou uit soos 'n vrot vel!"

Die groei van die skool vanaf 1915 was bo verwagting snel, sodat in 1918 besluit is om 'n hoërskool te stig. Vir ses maande was ek hoof van albei afdelings totdat dr. Gutsche in Oktober 1918 oorgeneem het as hoof van die hoër afdeling.

DR. H. GUTSCHE Okt. 1918-1923

Toe ek begin Oktober 1918 in Christiana gearriveer het, was die aantal skoliere in die Hoërskool 52. Die skoollokaal was die, in pres. Kruger se tyd gebou, skool naby die voor in Beststraat. Later is die ou kerkie bygehuur.

Dit was 'n swaar taak, maar ek het probeer om op allerhande maniere dinge heel te maak en na 'n nuwe en ongewone aard te skep. Mense met vertroue, en ook 'n aantal seuns en dogters het gehelp iets nuuts met 'n dubbel sterkte basis te laat ontstaan. Met die Here se hulp het dit ontstaan en geweldig gegroei!

Iets wat aan my hart lê, is die F.A.K. Sangbundel waartoe ek ook die voorreg gehad het om my beskeie deel te kon bydra en waaruit die leerlinge destyds lustig saamgesing het. Ek hoop dat die bundel in die toekoms nog veel vir ons jeug sal beteken.

Hoërskool 1931
Hoërskool 1931
Matriekklas 1931
Matriekklas 1931
Inwoners van Seunskoshuis, 1923
Inwoners van Seunskoshuis, 1923

Die leuse van die skool was eers: "Wil Tel", 'n leuse wat in baie tale gehoor word, byvoorbeeld: "Where there's a will, there's a way" of "Wo ein Willen ist, da ist auch ein Weg zu finden".

Aan die seuns en dogters van my ou skool, wil ek ook die woorde van my eertydse leermeester dr. Knorr, herhaal:

"Julle moet nie gewone mense wees nie. As die voorsienigheid julle goed uitgerus het na liggaam en geestekragte, vra jou dan elke dag die vraag af: Het ek die sware getakel, of het ek as miserabele vent weggekruip?"

Ook in die toekoms dus: vivant, crescent, floreant (lewe, groei en bloei) ons skool, ons leerlinge, ons onderwysers, ja ons hele Afrikaanse Volk.

MNR. W. D. BRINK Junie 1925-Junie 1943

In 1915 hier beland van Stellenbosch. Eerste vakke in die ou skoolgebou: Hoog-Hollands, Matesis, Geskiedenis, Engels, Latyn, Duits en Gesondheidsleer. Ja-nee, die hele lot, was my lot!

Was ek nie teleurgesteld toe ek na 'n jaar afwesigheid (1924) hier kom en sien die nuwe Hoërskool staan daar op die droë rooi bult nie!

Vanaf Julie 1925 het ek ageer as hoof en dit 18 jaar lank volgehou tot 1943. Die aantal leerlinge was ongeveer 180 (van St. 7 tot 10).

Die beste op sportgebied gedurende die tyd was 'n voetbalfinaal op Potchefstroom en 'n krieketfinaal op Johannesburg, albei om die Administrateursbeker. Die krieketspan, wat tussen hakies, nogal in die Linton-hotel tuisgegaan het, het dit uitgeveg teen Stephen Eyssen se span van Heidelberg. Resultaat: Stilbly is ook 'n antwoord!

Geld en beurse was skaars, en die skool het 'n werkburo gestig met mnr. J. G. Marais as direkteur. Die tarief: drie pennies per uur! En die buro het floreer. Sakgeld, boekgeld, losiesgeld en selfs klere is in eie sweet verdien.

Op 20 Junie 1943 om 9.30 vm. stap ek vir oulaas deur die hekke van die Hoërskool as hoof, op weg na die nominasiehof om genomineer te word as H.N.P.-kandidaat, en dit na dertig jaar van onderwys.

Hoërskool van Christiana, "daar's 'n nasie te lei" op die voetspore van ons gevierde helde; met helder volksbewussyn, volkstrots en volksdiens. Laat "Vir ons Toekoms" gefundeer wees op "die wortel onzer volkshistorie".

MNR. N. G. ALANT Aug. 1943-Des. 1949

Met my besoek aan Christiana gedurende Mei-maand, was dit verblydend om die aanbousels aan die skool en die voltooide meisieskoshuis te besigtig. Ek wens die C.H.S. van harte geluk met die bereiking van 'n verdere mylpaal in die geskiedenis van hierdie volwaardige Hoërskool.

Die voltooiing van hierdie geboue bring onwillekeurig herinneringe mee uit my dienstyd as hoof van hierdie inrigting vanaf Augustus 1943 tot Desember 1949.

Waar die inskrywing gedurende hierdie vyftal jare van nagenoeg 200 tot 300 leerlinge gestyg het, het die akkommodasie-probleem meer en meer akuut geword. Dit was voorwaar "'n stryd om aanbousels en uitbreiding". Met die hartlike ondersteuning van die Beherende Liggaam is tydelike lokale opgerig, die skoolgebou uitgebrei, en die Handwerk- en Huishoudkundesentrums gebou. Intussen is daar van 'n lokaal in die pastorie gebruik gemaak en onder moeilike omstandighede in die vroeëre hout en sinkgeboue en die ou kerkie naby die watervoor, skoolgehou.

Die skoolterrein moes bewerk en uitgebrei word. 'n Swemdam en kleedkamers is opgerig. Twee aangrensende erwe is van die firma Senier en Seuns aangekoop en die rugbyveld en atletiekbaan is aangelê. Verfraaiing van die skoolterrein het aandag geniet, en dit alles was moontlik as gevolg van die spangees en samewerking van personeel en leerlinge.

Die aangenaamste herinneringe bly egter uit die skoollewe self. Die skoolbesoek moes bevorder word en dikwels is 'n aantal stokkiesdraaiers aan huis, of by die rivier per motor gehaal en veilig by die skool besorg. Dit was gelukkig van korte duur, want ongereelde skoolbesoek was later iets van die verlede. Die leerlinge is in twee spanne ingedeel, en dit was die instelling van die Duikers en die Springbokke. Die atletiekbyeenkoms was jaarliks 'n groot dag. Met so 'n geleentheid was ek eendag amper in die warm water toe, na die oorwinning van die Springbokspan, aangekondig is: "Die duikertjie het sagkens heengegaan."

Die personeel het uitgebrei en die aantal leerlinge wat die skoolloopbaan voltooi het, het geleidelik toegeneem.

Wenners van Kadetkompetisie te Potchefstroom, 1954
Wenners van Kadetkompetisie te Potchefstroom, 1954

In die koshuis het sake tred gehou. Plaasruimte het baie beperk geword, maar verligting in die inwoning van die personeel is egter gebring deur die oprigting van die Superintendentswoning.

Seuns en dogters van die C.H.S. neem vandag hulle plekke in op verskeie terreine van die volkslewe. Dit was my voorreg om mee te doen aan hulle vorming gedurende hulle Hoërskooljare. Mag hierdie onderwysinrigting met sy tans bestaande fasiliteite, steeds van krag tot krag gaan en getrou bly aan sy mooi leuse in belang van die opvoeding van die jeug.

MNR. A. I. M. VAN ROOYEN 1949-1956

Ons het pas bo-op 'n bergspits uitgespan om terug te kyk met die kronkelpad waarlangs ons die afgelope dertig jare getrek het. Deur die lang vaal vlaktes van volharding, deur groen vrugbare valleie van bemoediging, die steil opdraandes uit, lê die vaal streep en het ons wa voortgerol, soms gekraak en gesteun en gesukkel. Ons kyk verder . . . vorentoe waar nuwe horisonte aanlok en wink; maar voor ons inspan om verder te trek, vertoef ons 'n oomblik om te besin, die toekoms te sien in die lig, en teen die agtergrond van die verlede. Dis in hierdie gees dat die Christianase Hoërskool fees gevier het by die inwyding van skool en koshuis, en met hierdie gesindheid aan die begin van 'n nuwe era, dat ons hierdie uitgawe van "Blank en Blou" wy as 'n terugblik.

Ek is gevra om enkele herinneringe neer te skryf. Gebeurtenisse hier vlak by is nog te helder, te skril, te verwarrend. Dit mis die sagte, rustige glans wat die aandson om die veraf berge werp.

Ek weet nou net van innerlike verontwaardiging wat sommige van ons beetpak en ander moedeloos gemaak het, oor nalating wat gegrens het aan verontregting en berustende tevredenheid. Ek weet net van seuns en dogters wat met lee hande staan en pleit het vir beter opvoedingsgeriewe en meer geleenthede, en 'n aanswellende gloed van protes wat by ons sterker en sterker gegroei het.

Mag ek hier my persoonlike dankbaarheid betuig aan kamerade in die stryd: die Beheerraad met ds. D. J. Streicher, ons daadkragtige voorsitter, op die voorpunt, ons wakker L.P.R., mnr. P.W.R. Zerwick, my personeel wat deur lojaliteit geinspireer het, en aan manne wat reeds heengegaan het, mnr. Stoffberg ons eertydse Inspekteur van Onderwys en oom Coenie Hanekom. 'n Woord van opregte dank aan my onmiddellike voorganger mnr. N. G. Alant, vir die reguit voor waarmee hy 'n nuwe akker aangevoor het, vir sweet en swaarkry! Dis 'n hele lang storie, wat nie nou hier vertel kan word nie.

1936 — C.H.S. — DUNLOP NESER BEKER

1936 - C.H.S. - DUNLOP NESER BEKER

Staande: K. Wentzel, T. Tick, Nel, Jacobs, De Bruyn, Wepener, Sarel Hoff.

Sittende: Koster Lauwrence, v.d. Merwe, Piet Maree (Kapt.), mnr. Stapelberg, Du Plessis, Reyneke.

Voor: Goosen, Klopper, Johan Kok.

De Bruyn - skepper van die skoollied.

Ons beskik tans oor 'n volwaardige, volledige-toegeruste Hoërskool, met sy laboratoriums, huishoudkunde- en handwerksentrums, kunskamer en biblioteek. Waar leerlinge en onderwysers vir jare gesit en bibber het, word klaslokale weer na 20 jaar kunsmatig verhit in die winterkoue. Die dae van water aandra met roomkanne is gelukkig verby - 'n moderne waterskema bied 'n onbeperkte voorraad aan skole en koshuise. 'n Sierlike meisieskoshuis toegerus met die mees moderne toerusting, bied 'n tuiste en 'n huislike atmosfeer vir ons dogters. Meer as R206,000 is bestee aan nuwe opvoedkundige fasiliteite en geriewe. Ons dank ons Onderwysdepartement vir 'n simpatieke begrip van ons moeilikhede en die Transvaalse Administrasie vir bewilliging van die fondse en die uitvoering van die dienste.

Met vreugdegenot het ons fees gevier, ouers, leerlinge, en onderwysers, terwyl ons Direkteur van Onderwys en sy gade ons vereer het met hulle besoek. In stille ootmoed het ons die Heer gedank vir genade en milde gawes.

Die laaste strop is reeds vasgemaak, lê weer in die keep van die skei; - alles is gereed vir die volgende skof. Ons kyk verder . . . waar nuwe Horisonte wink . . . die Toekoms!

MNR. J. H. JOOSTE 1958-1960

Die Christianase Hoërskool is vanjaar 40 jaar oud. Dit is vir my 'n voorreg om as vyfde hoof van hierdie skool 'n woordjie van waardering te rig tot my voorgangers. Soos elke mens 'n eie karakter ontwikkel so word aan elke skool 'n onderskeidende tradisie geskep. Vir die afgelope 40 jaar is daar aan die vaste en mooi tradisie van die C.H.S. gebou. Mooi is hierdie gees, doel en strewe van die C.H.S. in die verlede weerspieël deur sy jaarblad, waarvan die agtiende uitgawe vanjaar verskyn. Mag "Blank en Blou" nie alleen bydra tot die uitbou van 'n gesonde gees nie, maar ook die saambindende middel wees tussen onderwysers, leerlinge en ouers, en die skakel bly met die oudleerlinge van die skool.

1958 sal seker 'n jaar in die Geskiedenis van ons skool bly wat nie ligtelik vergeet sal word nie. Dit was 'n jaar wat sy oomblikke van groot vreugde gehad het, maar daar was ook oomblikke van diepe smart en verbystering toe daar halt geroep is, aan ons daaglikse gang, en dit weer diep tot ons deurgedring het, dat ons hele bestaan maar slegs tydelik is. So 'n oomblik was die afsterwe van mnr. J. F. du Toit in lewe Vise Hoof.

"'n Seder van ons skool het geval, terwyl die grond nat en vrugbaar om sy stam was".

So snel die jare verby. Wanneer die tyd aanbreek om die skool se jaarblad weer die land in te stuur, besef jy dat die einde van 'n ander studie jaar aangebreek het.

Dit is met dank in die hart dat ons kan terugkyk op 'n jaar van gelukkige arbeid, waarin daar voortgebou kon word, en verdere hoogtepunte van groei en bloei bereik kon word.

Die skool is besig om te groei. Die getalle het die afgelope twee jaar met 24 persent gegroei. Twee onderwysers is bygekry. Hierdie uitbreiding het tot gevolg gehad dat T.O.D. reeds die aanbou van verdere lokale op vanjaar se noodprogram goedgekeur het. Planne vir 3 klaskamers is. goedgekeur en werksaamhede met die bouery sal nog vanjaar begin. Nuwe stoorkamers is by die pawiljoen gebou. Nuwe sentrums en 'n skoolsaal sal binne afsienbare tyd ook aangebou word.

Danksy die hartlike samewerking van ons ouers wat 24 vragmotors, trekkers en sleepwaens tot ons bekikking gestel het en gehelp het met die losmaak en aanry van gruis, kon ons 'n nuwe voetbalveld beplant met gras, en atletiekbaan aanlê. Aan die einde van 1959 het die skool gesluit met 307 leerlinge op die rol en op 15 Januarie 1960 heropen met 'n leerlingtal van 361 - nog twee onderwysers is bygekry.

Vanaf 2 Julie is die Graad van ons skool verhoog van HC tot HB.

Die aanbou van 3 klaskamers nader voltooiing. Fondse is op die 1960/61 bouprogram beskikbaar gestel vir die aanbou van 'n skoolsaal, huishoudkunde sentrum, omskepping van die ou huishoudkunde sentrum in 'n metaalwerk sentrum, 'n algemene doelende kamer, 'n kantoor, 'n tekenkamer en spoelstelsel vir die hele skool.

Die skoolterrein is besig om uit te brei. Twee erwe is reeds gekoop en die aankoop van verdere erwe geniet die Administrasie se aandag.

Sodra die opgaardam wat in aanbou is voltooi is, sal ons genoeg water vir die tuine by die skole en koshuise hê.

Verbetering en uitbreiding van die suiweringstelsel maak die gebrek aan gesuiwerde water iets van die verlede.

Ons skool koester reeds lank die ideaal om oor 'n eie swembad te beskik. Danksy die pragtige ondersteuning, samewerking en ywer van leerlinge, personeel en ouers kan ons in betreklike kort tyd die bedrag van R7000 byeenbring. Saam met die bydrae van die Administrasie kan ons nou 'n moderne swembad met filtreerstelsel oprig.

Werk aan die swembad is tydelik gestaak, in afwagting op nuwe bouplanne waaroor besluit moes word, nadat gevind is dat die onder laag 'n sterk konstruksie vereis. Die swembad is gedurende 1961 voltooi en gedurende September van dieselfde jaar amptelik in gebruik geneem.

Gedurende 1961 is die planne van reedsgenoemde geboue kompleks goedgekeur en teen die einde van die jaar is 'n begin met die bouery gemaak.

MNR. F. P. LOMBARD 1962-1967

Redaksioneel: "Die Redaksie wil graag langs hierdie weg mnr. F. P. Lombard as Hoof van die Hoërskool baie hartlik welkom heet. Mag u arbeid hier in Christiana baie vrugbaar wees. Mag ons u daarop wys dat die Vaalrivier se water anders smaak as die van die Nyl."

Leerlinge op die rol 359, met 19 onderwysers. 'n Groot bouprogram het hierdie jaar begin. Nuwe klaskamers, huishoudkundesentrum, metaalwerksentrum en 'n skoolsaal is in aanbou. Heelwat verbeteringe sal in die bestaande gebou plaasvind om nuwe kantore daar te stel.

Die aantal leerlinge gedurende 1963-1964 bly ongeveer konstant op 350 leerlinge per jaar.

Christiana Hoërskool, 1970
Christiana Hoërskool, 1970

Die groot bouprogram wat 2 ½ jaar geduur het is voltooi. Op 6 November 1964 sou Dr. A. H. du P. van Wyk die nuwe skoolsaal amptelik in gebruik neem. Weens sy skielike afsterwe kon dit nie gebeur nie, en die saal sal nou op 5 Februarie 1965 amptelik deur Mnr. A. J. Koen, Direkteur van Onderwys, in gebruik geneem word.

Die nuwe skoolsaal is op 5 Februarie 1965 amptelik deur die Direkteur van Onderwys, mnr. A. J. Koen in gebruik gestel. Ander gaste was die Inspekteur van Onderwys, mnr. P. G. Badenhorst en mev. Badenhorst, Prof. J. H. Jooste en gade, Kommandant en mev. A. J. Pretorius, die Burgemeester, mnr. A. Bands en sy eggenote.

Met die ywering toedoen van personeellede en 'n klompie gewillige seuns, is die tennisbaan van 'n teerblad voorsien.

Julie 1965 is Beyers Maré na 'n langdurige siekte, wat hom sy lewenslus stuksgewys ontneem het oorlede, en daarom is die jaarblad ook aan hom opgedra.

MNR. W. F. DE JAGER 1969-hede

Aan die begin van 1969 is mnr. De Jager verwelkom as die nuwe Hoof van die Hoërskool. Aanpassing en inpassing het gou geskied en baie gou was 'n jaar waarna die skool en almal wat daarby betrokke is met genoegdoening kan terugkyk, verby.

Die inskrywing was 350 waardeur die vermeerdering van een personeellid geskied.

Dit was vir die skool 'n groot voorreg om op 24 Mei 1969 ons geagte Eerste Minister en sy gade, Sy Edele, mnr. en mev. B. J. Vorster, asook die Minister van Polisie en sy gade, mnr. en mev. Muller by ons skool te kon ontvang, tydens die amptelike inwyding van die nuwe Polisiekantore.

PERSONEEL, 1970

PERSONEEL, 1970

Agter: Mej. S. van Rensburg, mej. A. Sipsma, mej. M. Viljoen, mnr. J. Barnard, mnr. A. Nieuwoudt, mnr. A. van der Merwe, mej. A. Smook, mev. V. Jooste, mev. D. Davel (Adm.).

Voor: Mnr. J. P. Pretorius, mnr. F. Coetsee, mnr. N. Uys, mnr. J. A. Pretorius, mnr. W. de Jager (Hoof), mnr. M. Prinsloo (Vise-Hoof), mnr. V. Jooste, mnr. J. Fouche, mnr. P. Ellis, nmr. P. Krüger.

Op 30 Mei is 'n Ouer-Onderwysersvereniging gestig bestaande uit 14 lede, wat verteenwoordigend is van die Ouers van die Transvaalse, Vrystaatse en Noordkaapse voedingsgebiede van ons skool. In samewerking met die vereniging het ons kermis dan ook die mooi bedrag van R4,100 opgelewer (Vergelyk van £300 in 1943). Twee pawiljoene teen 'n koste van R3,150.00 is opgerig, bome is uitgehaal en nuwes is geplant, en die skool wag vir die beplanning van die res van die skoolterrein. 'n Verversingshuis is aan die begin van 1970 voltooi. Een van die pawiljoene is verander dat dit as pakkamer gebruik kan word, terwyl daar besig is met die oprigting van volledige toegeruste kleedkamers. Die beplanning van 'n nuwe seunskoshuis is ver gevorder, en die hoop en verwagting is dat eersdaags met die bouwerk begin sal word.

1970 is nog nie verby nie, en voor ons wink die onbekende maar doelgerig "VIR ONS TOEKOMS".

OP SPORTGEBIED - TOE EN NOU!

Hoër, Verder, Sterker. Met hierdie drie woorde kan 'n mens die vooruitgang van Christiana op sportgebied beskryf. Vanaf 'n nikswerd delwergehuggie tot 'n toonaangewende dorp op sportgebied in die Wes-Transvaal.

Veral op die volgende gebiede het Christiana uitgemunt:

RUGBY:

Gedurende 1923 speel S. Burger se span die eerste rugby-wedstryd in die geskiedenis teen die Hoërskool Hertzogville. Die Vrystaters het in wit hemde en broeke en met gewone swart skoene gespeel. Dit was glo vir Christiana se seuns 'n groot grap om so veel as moontlik hemde te probeer skeur. Die manne van die C.H.S. was nie aan so 'n groot sportgebeurtenis gewoond nie en gedurende rustyd wat ongeveer halfuur geduur het, is melktert, gebraaide hoender, slaaie, koffie en tee aan die spelers bedien.

Die rugbyveld was geleë waar die rolbalbane vandag is. Dit was nog daardie dae net sandvelde en die nerwe het gewaai as 'n mens hard gelak is.

'n "Karakter" uit die 'twintigs wat sy rugby (en ook elke speler), deur en deur geken het, was Dawid ('n Indiër) wat eers Bean's kafee besit het. Dabud, soos die seuns hom genoem het, het met elke wedstryd met sy mandjie vol verpotte lemoene by die veld aangekom en gedurende rustyd het hy die lemoene uitgedeel (en bewaar die een se siel wat gryp of kieskeurig is!). Hy het goed geweet dat die seuns na die wedstryd by sy kafee sou kom limonade drink. Na die wedstryd is die kafee dan tot oorlopens toe vol en soos seuns maar is, het hulle somtyds nie betaal nie. Eendag word Dabud kwaad en voeg die seuns toe: "You buy for 6d and make l/- trouble!"

MATRIKULANTE, 1970

MATRIKULANTE, 1970

Agter: N. Maré, W. van Zyl, G. Veldman, J. Jordaan, J. Jonker, J. Verschoor, A. Swart, J. Nel, W. Bester, I. Mahne, C. Snyders, A. Snyders, W. van Tonder.

Tweede ry: J. Combrinck, S. van Zyl, F. Jordaan, J. v.d. Watt, A. Terblanche, C. Visser, M. Keyser, N. Erasmus, C. Olivier, A. Human, J. van Wyk, A. Scheun, F. Botha.

Eerste ry: J. Becker, G. Nieuwoudt, L. Cloete, J. Barkhuizen, van Deventer, v.d. Bank, G. Jacobs, J. Barnard, J. Conradie, A. Stoltz, Z. Meyer, N. Uys, E. du Plessis, C. Swanepoel, S. v.d. Walt.

Sittende: Mnr. P. Krüger, W. Pretorius, E de Waal, A. Spamer, P. Jooste, mnre. J. Pretorius en W. de Jager (Hoof), M. Olivier, C. Knoesen, C. Pretorius, mnr. V. Jooste. Voor: N. de Jager, P. Labuschagne.

Gedurende 1930 het die C.H.S. 'n besondere sterk span gehad onder aanvoering van Willie Smith. Hy was glo so sterk soos 'n bees en het glo man alleen lusern met die ou balers gebaal. Die span het tot die eindronde van die administrateursbeker deurgedring en is net-net deur Volksrust verslaan. In die span was ook Flip Geel wat ondanks sy 36 somers in 1949 as slot in die derde toets teen die All Blacks uitgedraf het en hulle met 9-3 kaf gedraf het. Flip was ook lank kaptein van Noord-Transvaal, (die destydse Curriebekerkampioene).

Die vervoer was daardie jare beroerd. Die volgende staaltjie tipeer die stelling: Die 1913-span vertrek om 8-uur nm. met die trein na Wolmaransstad. Op Makwassie is daar niemand om hulle te ontmoet nie. Die seuns gaan soek kole en maak 'n vuurtjie en so bring hulle die nag in die wagkamer deur. Die volgende dag daag daar nog niemand op nie. Een van die onderwysers loop toe 'n Omie raak wat teen sy prys die span na Wolmaransstad per donkiekar en terug sal vervoer. Om 2 uur land die span by die veld aan (nog steeds in hul rugbymondering geklee). Die klomp het maar sleg gelyk toe hulle Sondag weer in hulle tuisdorp aangekom het!

Gedurende die dertigs is daar teen Schweizer, Wolmaransstad en die Ambagskool aldaar meegeding om die Dunlop Neser-beker. Ook het Christiana teen Warrenton, Kimberley en Boshoff meegeding. Laasgenoemde skool was gedurende daardie jare baie sterk en Christiana is gereeld ge-"Murrayfield".

Die kaptein van hierdie spanne Piet (Bottels) Maree het baie oulike taktiek in die lynstane toegepas. Sodra die bal ingegooi word, skree hy: "Los my, ek het nie die bal nie!" en as jy weer sien, bars hy met die bal onder sy blad weg!

Gedurende 1955 het die kweperlaning by die ou veld weer dividend afgewerp met die keuse van Johan Claassen tot Springbok teen die besoekende Leeus.

Johan het met groot onderskeiding die groen trui 57 keer oor die kop getrek, in 28 toetse en in 9 as kaptein. Die suksesvolle afrigter van die 'Bokke teen die All Blacks word allerweë beskou as die beste slot wat die wêreld nog gesien het.

ATLETIEK (NOORDELIKES)

ATLETIEK (NOORDELIKES)

Voor: T. Mahne, B. Combrinck, A. Spamer, C. Visser, mnr. N. Uys (Afrigter), E. van Breda, I. Theron, A. Brümmer, W. Victor.

Agter: P. Hugo, H. Victor, C. Bezuidenhout, J. Combrinck, J. Pretorius, J. Kok, G. Magnus, J. Smith en M. Visser. Griekwa Jnr.: A. Brümmer.

EERSTE VOETBALSPAN

EERSTE VOETBALSPAN

Agter: P. Hugo, H. Victor, S. Erasmus, W. Fraser, C. van Heerden, A. Snyders, N. Snyders, J. Kok.

Voor: Mnr. J. A. Pretorius (Afrigter), W. van Tonder, F. Conradie, de Jager (Hoof), W. Pretorius (O-Kapt.), G. Jordaan, T. S. van der Walt, P. Versveld, W. Victor (Kapt.), mnr. W. F. Mahne, mnr. A. J. Nieuwoudt (Afrigter).

Noordeliks: W. Victor, W. Pretorius, W. Fraser en W. v. Tonder.

Hier volg 'n lys van die manne van die C.H.S. wat ook provinsiale kleure in rugby behaal het:

  1. Ernst Claassen (slot) Wes-Transvaal, Gasel en Junior Springbok.
  2. Wilhelm Claassen - Wes-Transvaal.
  3. Kootjie Kok (senter) - Transvaal.
  4. S. Maré (agsteman) - Griekwas en Noordoos-Vrystaat.
  5. Louis Theron (slot) - Noord-Transvaal.
  6. Hennie van Zyl (losskakel) - Wes-Transvaal.
  7. Hennie Jacobs (vleuel) - Noord-Transvaal.
  8. Johan Visagie (vleuel) - Noord-Vrystaat, Paul Roos-span.
  9. V. Borcherds - Wes-Transvaal.
  10. P. du Plooy (agsteman) - Transvaal.

Griekwa-skolespanspelers gedurende afgelope paar jaar:

  1. B. Loots.
  2. P. Pretorius.
  3. N. Roodt.
  4. H. Jacobs.
  5. K. Koetzer.

KRIEKET:

Ook op hierdie gebied het Christiana nie laat slaplê nie. Gedurende die seisoen 1932 - 1933 het Christiana onder leiding van wyle Willie Brink die span van Klerksdorp gestonk en in die semifinaal van die Administrateursbeker is hulle 'n pakslae deur die span van Ermelo op die Wanderers in Johannesburg toegedien. Die span (onder andere Stoffel Schoeman (paaltjiewagter), Beyers Maré en Hartley) is glo so deur die groot skare geaffekteer dat hulle nie hul beste kon lewer nie.

Ook in die krieket-wêreld het Christiana reg om sy bors ver uit te stoot. Peter, seun van Hjalmar Carlstein het 1957 Springbok geword. Hy speel in 8 toetse en teken 190 lopies aan en benut 6 vangkanse. Omrede sy 219 lopies vir Transvaal teen die Kaveliers, word hy in 1962 as "Krieketspeler van die Jaar" aangewys.

ATLETIEK:

Gedurende die dertigs is hier nie veel van die kant van die onderwysers vir atletiek gedoen nie. Die leerlinge het maar self die organisasie waargeneem sodat die byeenkomste later as "sports" bekendgestaan het.

Gedurende so 'n "sports"-byeenkoms op die ou rugbyveld, is daar na hartelus gebaljaar. Skielik kom die aankondiging dat die inspekteur by die skool aangekom het en gereed was vir die mondelinge eksamen van die matrieks! Mnr. Willie Brink het glo die matrieks (nog met hul sportdrag aan) soos sardientjies in sy ou tjorrie geprop en in aller yl na die skool vertrek!

Atletiek het egter met verdrag sy regmatige plek op skool verkry, sodat daar vanaf 1935 aan die Suidwes-Transvaalse Interskole Atletiekbyeenkomste deelgeneem is. Daar is ook silwer en brons medaljes vir eerste en tweede plekke onderskeidelik toegeken.

Daar is daardie jare na Schweizer met fietse gery om aan die byeenkomste deel te neem. Ondanks die vermoeiende reis van 60 myl op 'n grond pad, het Koster Lauwrence, die man wat sulke vreeslike krampe gekry het, wanneer daar per oop vragmotor gereis is, silwer medaljes vir die 100 tree, 220, 440, hoogspring, verspring en paalspring verower. Voorwaar 'n uitstekende sportman!

Ook het Christiana die volgende atlete gelewer wat Junior Griekwakleure verwerf het:

  1. Wyle John Nelson wie se 215 voet 6 dm. met die senior spies (behaal as 'n junior) in 1963 vir hom die 15de plek op die ranglys van beste spiesgooiers van alle tye in S.A. laat behaal het.
  2. Hennie van Niekerk wat die 3de plek in die hoogspring op die Suid-Afrikaanse Juniorkampioenskappe in 1967 behaal het.
  3. Nico Roodt
  4. Gert Albertse
  5. William Smith
  6. Johan Brink
  7. Johan Cronje
  8. Christo Pienaar
  9. Helgaard Prinsloo
  10. Edwin Nelson
  11. J. J. van Vuuren
  12. Wanda Uys
  13. A. du Toit
  14. J. Victor
  15. Annetjie Brummer

Ook behaal 'n ou ingesetene van ons dorp naamlik J. Swanepoel in 1969 die tweede plek (as junior) by die Suid-Afrikaanse Spele. Met 'n hoogte van 14 voet het hy talle seniors stof in die oë geskop in die paalspringnommer. Hoe jammer is dit dat hy die prestasie as 'n leerling van Wolmaransstadse Hoërskool en nie as 'n leerling van die C.H.S. behaal het nie.

Mnr. Chris Kruger en ook Wouter Uys het in die middelafstande en Marathon onderskeidelik die vaandel van die Universiteit van Potchefstroom met eer gedra.

Die President van die Suid-Afrikaanse Atletiek-Unie, naamlik mnr. Matt Maré het ook in 1923 aan die Christiana Hoërskool sy matriekeksamen afgelê.

NETBAL:

EERSTE NETBALSPAN

EERSTE NETBALSPAN

Agter (v.l.n.r.): M. Olivier, C. Visser, D. de Waal, I. de Waal, P. Jooste.

Voor: H. Barkhuizen (kapt.), mej. M. Viljoen, mnr. W. de Jager (Hoof), A. Brümmer.

Die volgende dogters het vir die Noordelike-Skole Netbal-subunie gespeel:
C. Visser, D. de Waal, I. de Waal, H. Barkhuizen, A. Brümmer.

Drie van die dogters het Griekwa-kleure behaal, nl.: A. Brümmer, C. Visser, D. de Waal. Antionette Brümmer her verder presteer en is gedurende die S.A. Skole Netbaltoernooi te Mosselbaai, gekies as een van die 28 beste speelsters.

Trofeë:
(l) Die P. Homantrofee verower te Klerksdorp.
(2) Trofee vir groep in eie skool wat beste sportprestasie gelewer het (P. de la Rey).
(3) Steyn en Stelzner trofee - skolenetbal-Noordelikeliga.

Daar is ook eers laat in die dertigerjare met korfbal aan die Hoërskool begin.

Die speelsters van vroeër het egter nog hare op hulle tande gehad. Hulle het naamlik gereeld in oop goederetrokke gereis (in die nag) om teen Wolmaransstad te gaan speel.

Gedurende die eeufeesjaar het die eerste netbalspan egter alle rekordboeke laat oorskryf met hul skitterspel. Met 'n toernooi te Klerksdorp buit ons span die beker met skitterspel - welgedaan! Hierdie prestasie word 'n week later herhaal op 'n byeenkoms van die Noordelike Subunie Skole. Christiana lewer ook die volgende Griekwaspeelsters gedurende die voorafgaande paar jare op:
1. Antionette Brummer
2. Corrie Visser
3. Dalena de Waal
4. Anna Kapp
5. Ellen Brink
6. F. Swart

En nou die toekoms. Met soveel trots waarmee ons dié dekade afsluit, kyk ons in die toekoms en weet ons dat Christiana weer sulke sportmanne en sportvroue sal oplewer waarop nie net die gemeenskap van Christiana trots kan wees nie, maar ook die hele Republiek van Suid-Afrika.

Ons dank aan die volgende persone, sonder wie se leiding en hulp hierdie artikel nie bewaarheid sou kon word nie.
Mnr. Stoffel Schoeman
Mnr. Piet Maree
Mnr. Koster Lauwrence
Mnr. Dick Maré
Mnr. S. Maré

NIEL MARÉ

Quick links:

Articles:
Please note - articles have not been translated.
Documents:
Please note - documents have not been translated.
Photos from the past:
Support local businesses and events:

Latest additions:

Articles:


Calendar Photo Competition 2020 - Results Calendar Photo Competition - click the beautiful around you and enter. Entries close: 30 September 2019 at midnight. The results of our first photo competition are here!


Modern Christiana Photo Gallery Modern Christiana Photo Gallery


Christiana Noordwes Provinsie / North West Province:
Christiana Noordwes Provinsie / North West Province

Support Local Businesses and Events - Business Directory & Calendar





CHRISTIANA WEATHER