Laerskool Christiana
Laerskool Christiana vertel ook sy eie verhaal van stryd en deursettingsvermoë. Die dorp is in 1870 gestig en na president M. W. Pretorius se dogter vernoem.
Op 9 Mei 1888 het mnr. F. Ludorf, 'n plaaslike prokureur, die superintendent van onderwys in kennis gestel dat 'n skool onder die leiding van mej. M. König op 8 Mei geopen is. Die Hollandse taal sou die voertaal wees en een van die pligte was die sing van psalms en gesange.
Aanvanklik is in die kerkgebou skoolgehou, maar in April 1890 skryf Ludorf aan die superintendent dat die Skoolkommissie 'n skoolgebou laat oprig het.
In April 1897 was die inskrywing slegs 35, maar gedurende 1898 het die delwerye geweldig uitgebrei sodat Christiana se inwonertal én die kindertal baie gestyg het.
Met die uitbreek van die oorlog in Oktober 1899 het die delwerye tot stilstand gekom en het groot armoede geheers. Die Staat moes selfs voedsel voorsien. Omdat hier nie 'n konsentrasiekamp was nie, is die vroue en kinders na elders geneem en moes die skool tot ná die oorlog sluit.
'n Gebeurtenis wat in die skool se geskiedenis uitstaan, is die taalkwessie. Dit was só 'n verdelende faktor dat daar in 1912 op 'n verdeling van die skool in dieselfde gebou besluit is. So het die "Public School" en die "Uitkomstskool" ontstaan. Die saal is met 'n plankmuur verdeel en elke skool het sy eie deel met klaskamers gekry.
Onverdraagsaamheid - selfs vyandigheid - het dit naderhand noodsaaklik gemaak om 'n hoë skeidingsmuur van sinkplate op te rig. Vanaf 1915 het die skole egter weer herenig as die Verenigde Skool.

'n Interessante uitstalling van ou foto's by Laerskool Christiana. In die middel bo is mnr. R. F. Botha, wat vir 23 jaar Hoof was.
In 1921 was die skool se leerlingtal meer as 600 en het 'n chroniese tekort aan klaskamers met die skool saamgeloop tot in 1944, toe st. 6-leerlinge na die hoërskool oorgeplaas is.
Mnr. R. F. Botha, Hoof van 1942 - 1965, skryf in 1963 oor die skoolleuse in die joernaal: "Die woord 'Aanhouer kom Oorkant' is afkomstig van my jongste seun, Pik, wat dit teenoor my gebesig het toe ons oor die Vaalrivier na die Vrystaat geswem het." (Hierdie Pik, self 'n oud-leerling, is die huidige Minister van Buitelandse Sake.)
In 1954 het bouwerk aan die nuwe skool begin en in 1959 is die skoolsaal in gebruik geneem. Eers in 1965 is die huidige doelmatige, voltooide skoolgebou ingewy.
In die 100 jaar van die skool se bestaan was daar 20 hoofde, maar dit is belangrik om by te sê dat mnre. J. H. Pienaar en R. F. Botha saam 45 van die 100 jaar diens gelewer het.

Vier oud-hoofde saam met dr. Bredenkamp: mnr. E. W. Uys (1972-1975), mnr. P. M. Kotzé (1982-1985), mnr. G. S. Nieuwoudt (1965-1971), mnr. J.H. Groenewald (1986-1989).
Oor die naweek van 2-5 November 1989 het die eeufeesvieringe plaasgevind. Op 2 en 3 November is 'n revue aangebied, en op 4 November het oud-leerlinge, oud-personeel en eregaste (waaronder die Direkteur van Onderwys) vir 'n ontbyt bymekaargekom. Die verrigtinge is op Sondag, 5 November, afgesluit met 'n kerkdiens wat deur 'n oud-leerling, ds. R. Hunter, gelei is.


