Click Christiana | Geskiedenis: Delwerye en Persoonlikhede Uit die Vroeë Jare

GESKIEDENIS: Artikels & Dokumente

Delwerye en Persoonlikhede Uit die Vroeë Jare

Diamant delwerye by Christiana in die vroeë jare.
Diamant delwerye by Christiana in die vroeë jare.

In Oktober 1870 moes daar al heelwat delwers op die dorpsgronde besig gewees het, want Landdros Best het dit toe nodig geag om die Regering in verband met die vasstelling en insameling van lisensiegelde te raadpleeg. Op 6 Julie 1871 stuur hy vir goedkeuring aan die Regering die "Delvers Regulatien" vir Christiana wat deur 'n plaaslike Delwers-komitee opgetrek is. Die regulasies is met 'n paar verwysings en aanvullings deur die Uitvoerende Raad op 22 Julie 1871 goedgekeur.

Ten spyte van hierdie vroeë bedrywighede i.v.m. die nasporing van diamante te Christiana, het die Republiekeinse Regering dit nooit nodig gevind om die dorpsgrond tot 'n openbare delwery te proklameer nie. Eers op 3 Oktober 1904 is die dorpsgrond van Christiana tot openbare delwery geproklameer.

In 1906 was daar ongeveer 200 delwers op die dorpsgrond en dit is bereken dat hulle opbrengste aan diamante toe gemiddeld meer as R2,000 per maand bedra het.

Die delwersgemeenskap moes ook sy vermaak hê en dit is bekend dat daar in 1873 'n perdewedren gereël is, nl. die Christiana Plate. Vir daardie dae was die prysgeld van £50 (R100) nogal aansienlik.

Gedurende die eerste dekade van die dorp se bestaan was ene Matthew Smith een van die interessantste karakters. Hy en sy vrou en hul nege kinders het op die rivieroewer in 'n hout "cabin" gewoon. Smith was blykbaar lief vir dobbel en het dikwels probleme gehad met skuldeisers. So word dan ook vertel dat Robert Barron, die destydse "Sheriff", 'n Iasbrief op Smith gedien het in Albert Wichelhausen se winkel. Smith het hom vererg en hy het Barron sodanig afgeransel dat daar groot skade aangerig is, nie alleen ten opsigte van die negosieware nie, maar ook die sinkgeboutjie self! Dit moes voor 1875 gebeur het, want Wichelhausen is gedurende Oktober 1873 op 32-jarige leeftyd oorlede.

Hierna is Smith gevonnis tot gevangenisstraf en daar moet afgelei word dat daar toe reeds 'n verligte rehabilitasiebeleid in die Gevangeniswese was, omdat die gevangenes toegelaat was om met hoenders te boer. Gereeld is Smith en sy mede-gevangenis na 'n hotel gemarsjeer, aan die kroegrelings vasgeboei, vanwaar hulle lustig eiers en hoenders verruil het vir drankies.

Gedurende die negentiende eeu was daar vier hotelle in Christiana, te wete, die Queens (nou die herboude puik Vaal Hotel), die Imperial (later 'n meisieskoshuis, en waar mnr. Koos van Heerden nou in Forsmanstraat woon), die Central (in Beststraat, min of meer agter die huidige Barclays Bank gebou), en die President.

Voordat die Munisipaliteit bouregulasies ingestel het, het sommige inwoners van die dorp van redelik informele huisvesting gebruik gemaak. Die mees vindingryke persoon was ene Coxon, 'n vryskut skrynwerker. Naby die teenswoordige hospitaal het Coxon 'n gat gegrawe, dit met hout belyn, 'n deur bo-op ge- sit, 'n leer langs die een muur af, en sy gesin daaronder gehuisves.

Mooi perde was daar in Christiana; en waar mooi perde was, was ook Gerald George St. Leger Gordon, die Skotse edelman wat eintlik meer bekend was as Scotty Smith en wie se hoofkwartier vir 'n geruime tyd by Diewedraai aan die Hartsrivier naby Amalia was. Veral voor Uniewording was Christiana vir hom 'n ideale dorp omdat daar soveel verskillende grense en verskillende regerings byderhand was. Daar is die verhaal van hoe hy die ZARP's (Zuid-Afrikaanse Republiek Polisie) by Christiana ontglip het. Hulle het hom een aand gevang met 'n vrag gesmokkelde goedere, gearresteer en sy wa en osse gekonfiskeer. Hy het egter gou 'n plan bedink. Sy bewakers is op brandewyn getrakteer tot laat in die aand. Toe hy seker was dat hulle rustig slaap, het hy die osse stilletjies so 'n halfmyl weggedryf, die wa daarheen getrek, ingespan en die Kaapse grens oorgesteek.

Alhoewel Smith 'n berugte perdedief was, het hy die reputasie van 'n gentleman-skurk gehad en was hy beskou as Robin Hood se Suid-Afrikaanse eweknie. Volgens oorlewering het hy een aand laat op die plaas van ene Van Zyl aangekom. Alhoewel haar man weg was, het mev. Van Zyl, soos die gebruik destyds was, huisvesting aan die vreemdeling gebied. In die loop van die aand het sy aan Smith verduidelik dat haar man, weens die heersende knellende droogte weg was om weiding te soek en dat dit bitter swaar met hulle gaan. Sy het ook gemeld dat al goeie diere wat hulle gehad het twee perde was en sy was verontrus omdat sy gehoor het dat Scotty Smith in die geweste was. Die volgende oggend het sy 'n bedankingsbriefie en £10 in note op Smith se bed gekry. Die perde was veilig.

Sommige van Christiana se inwoners van 1948 sal nie maklik vergeet van Reverend Selby en sy vrou se besoek aan Christiana nie. Die Reverend het vertel dat sy oom, die Earl of Connaught, vir hulle gestuur het om 'n stukkie grond vir hom te soek in die omgewing van Christiana. Omdat die Earl kwansuis probleme gehad het om geld uit Engeland na Christiana te stuur, het beïndrukte plaaslike mense gretig geld geleen aan Rev. Selby. 'n Wakker konstabel, Clarence van Rooyen, het egter onraad bemerk en vasgestel dat die Reverend Selby eintlik 'n vrou was - Jacqueline Fine, berugte swendelares van Johannesburg.

Quick links:

Articles:
Please note - articles have not been translated.
Documents:
Please note - documents have not been translated.
Photos from the past:
Support local businesses and events:

Latest additions:

Articles:


Calendar Photo Competition 2020 - Results Calendar Photo Competition - click the beautiful around you and enter. Entries close: 30 September 2019 at midnight. The results of our first photo competition are here!


Modern Christiana Photo Gallery Modern Christiana Photo Gallery


Christiana Noordwes Provinsie / North West Province:
Christiana Noordwes Provinsie / North West Province

Support Local Businesses and Events - Business Directory & Calendar





CHRISTIANA WEATHER