Click Christiana | Geskiedenis: Ons Lang Pad, Mev. D.E. Buys

GESKIEDENIS: Artikels & Dokumente

Ons Lang Pad, Mev. D.E. Buys

Nou ja!
Waar sal ons begin? Heel voor?
Of 'n endjie verder weg?
Vanaf die stigting van die delwersgehuggie in 1870 tot 1885 was daar nog geen skole in die streek nie.

Die behoefte aan onderwys was egter groot, maar geen geriewe het daarvoor bestaan nie. Reeds in 1882 het landdros J.J. Uys die Superintendent van Onderwys daarop gewys, dat 'n skool hier dringend nodig was. Tot dusver was dit steeds die ouers en veral die moeders, wat hulle kinders die elementêre begrip van onderwys moes gee, met die groot vereiste, dat 'n kind so gou as moontlik die Bybel moes kon lees.

Nog jare het verby gegaan sonder skoolgeriewe. Op 9 Mei 1888 het prokureur P. Ludorf die Sup. Genl. van Onderwys in kennis gestel, dat hier 'n skooltjie gestig is onder die leiding van Mej. König - sy was later Mev. Genl. Beyers. Daar was 18 leerlinge - haar salaris R10.00 per maand.

Dit was in die kerkgebou gehuisves, wat in 1887 gebou is. Omstreeks 1890 is die eerste skooltjie gebou - langs die kerkie in Best Straat.

Die onderwys moes maar op wankelbene groei, want in 1889 het die skool eers in Junie begin, omdat daar geen onderwyser beskikbaar was nie. Aan begin 1890 het dit sover as 'n tweemanskool gevorder met Mnr. D.J.J. Conradie as hoof.

Vanaf begin 1892 staan die skool weer gesluit omdat daar geen onderwyser was nie, totdat dit in 1893 heropen is onder Mnr. A.L.C. van Bergen.

In 1893 vind die eerste inspeksie plaas en die inskrywing was 21 leerlinge. So het die skool hier dan net met tussenposes bestaan, soms net vir 'n paar maande aaneen. Boeke was skaars en haas onbekombaar. In 1897 styg die inskrywing tot 62. 'n Nuwe skooltjie is gebou met 5 klaskamers.

Tot kort voor die Engelse-oorlog styg die inskrywing steeds tot sowat 125 en ons kon destyds spog met die enigste werklike skoolgebou in die hele area. Toe volg die oorlogsjare. Ook Christiana het in die hande van die vyand geval.

Armoede en ellende het hooggety gevier. Van georganiseerde onderwys was daar geen sprake nie. Engelssprekendes het hulle kinders elders heen gestuur vir skoolopleiding. By die heropening van die skool in die vredesjaar styg die inskrywing egter na sowat 230.

In 1906, toe die groter skool ook gebou is, is Mnr. J. King 'n Engelssprekende aangestel as hoof van die skool. Daar ontstaan wrywing omdat 'n Engelssprekende Hoof aan die spits van 'n Afr Med. Skool moes staan. Nou volg 'n stryd van jare deur die ouers, Raad en Kommissie om die saak van die eentalige hoof opgelos te kry.

Eindelik het 'n versoekskrif van die ouers van 269 skoolgaande kinders by die owerhede geëis, dat Mnr. King voor die einde van die derde kwartaal 1912, verplaas moes word.

Die Direkteur van Onderwys het die Raad daarop laat weet, dat die skool in twee verdeel moes word, om so die groot probleem opgelos te kry en aan almal hulle sin te gee. Mnr. King word hoof van die Engelse afdeling - die Publieke skool en Mnr. C.L.N. Brink die Hoof van die Afrikaanse afdeling - Uitkomstskool. Die skole word in dieselfde gebou gehuisves.

Die saal is in die middel met 'n plankmuur verdeel en elke skool kry 'n deel saam met die klaskamers aan sy betrokke kant.

Hierop volg seker die onaangenaamste deel van ons dorp se geskiedenis. Onverdraagsaamheid, selfs vyandigheid van leerlinge en onderwysers, ja selfs spot en uittarting, het samewerking onmoontlik gemaak.

Wanordelikhede op speelgronde verplig die Raad om ook hier 'n hoë skeidingsmuur van sinkplate aan te bring. Skelname tussen leerleerlinge was "gomtorre" - vir ons destyds 'n erenaam.

Ons het ook nie geskroom om ons kentekens te dra nie - dié was eenvoudige klein lekkergoedbrakkies wat ons by ou Tannie Ainslee se bakkerswinkeltjie gekoop het. Die ander seksie was die "weerluise". Hulle was nie so gretig om hulle kentekens te dra nie. Ons het dit self vir hulle vasgestel. Dit was dieselfde lekkergoedjies by dieselfde winkeltjie, maar het die vorm van een of ander gogga gehad.

Selfs die sinkskeidings buite het ons nie gestuit nie. Ek onthou nog goed hoe ons van ons koskardoese sandbomme gemaak het en dit dan oor die sinkplaatmuur geslinger het in die hoop dat dit wel elke keer 'n skyf sou tref. Die sand was aan ons kant volop, soos die Westewinde dit vir ons daar in duine vasgewaai het.

Mnr. J.G. de Vos was die eerste permanente Hoof van die Afrikaanse skool van 1913. In 1914 volg die eerste Wêreldoorlog, wat sy rimpelings ook tot in ons ou dorpie laat dein het. Dit het die strydvraag ter plaatse weer opnuut laat opvlam, en gevoelens loop weer die hoogte in. In 1915 word deur die Owerheid besluit dat verspilling van vloerruimte en leerkragte moes eindig. Skole is herenig en is nou die Verenigde Skool.

In Oktober 1915 neem Mnr. J.H. Pienaar oor as Hoof van die skool. Hy dien tot Julie 1934 in die hoedanigheid, sodat ek, wat toe 'n St. III leerling was, my eerste onderwysjaar onder hom kon dien; terloops ook met 'n St. II klas voor my.

Die skool moes vergroot word, want inskrywing styg steeds. Daar volg weer die donker dae van die Griepepidemie in 1918 toe die skool weereens vir byna 'n hele kwartaal moes sluit. Eers vanaf 1919 word Afrikaans as taal geleer - vroeër moes ons maar verlief neem met Hollands.

In Okt. 1918 het die Hoërskool werklikheid geword en ons ou eerste skooltjie in Best Straat word ook ons eerste Hoërskool.

In 1925 word weereens by die Laerskool aangebou. Die vraagstuk van huisvesting word vir die derde keer verlig toe St. VI klasse in 1944 na die Hoërskool oorgeplaas is.

Van georganiseerde skoolsport en atletiek was daar in daardie verre vroeë dae geen sprake nie. Dit was die luukse voorreg van grootmense.

Na die aftrede van Mnr. Pienaar in 1934 neem Mnr. J.G. v.d. Merwe waar as Hoof totdat Mnr. C. Grové Steyn die amp in 1935 aanvaar. Na hom was Dr. T. le Roux hoof vanaf April 1936 tot Julie 1942 toe Mnr. R. F. Botha, as hoof aangestel was tot 31.12.1965. Daarna is Mnr. G.S. Nieuwoudt, ons huidige Hoof, aangestel.

Soveel moes die jeug van iets meer as halwe eeu gelede ontbeer. Soveel het die jeug vandag aan voorregte alle gebiede tot hulle beskikking.

Geniet dit! Gebruik dit ten beste! Waardeer dit! Vertroetel dit soos 'n kleinood, kosbaarder vér bo edelgesteentes.

Quick links:

Articles:
Please note - articles have not been translated.
Documents:
Please note - documents have not been translated.
Photos from the past:
Support local businesses and events:

Latest additions:

Articles:


Calendar Photo Competition 2020 - Results Calendar Photo Competition - click the beautiful around you and enter. Entries close: 30 September 2019 at midnight. The results of our first photo competition are here!


Modern Christiana Photo Gallery Modern Christiana Photo Gallery


Christiana Noordwes Provinsie / North West Province:
Christiana Noordwes Provinsie / North West Province

Support Local Businesses and Events - Business Directory & Calendar





CHRISTIANA WEATHER