R3M Projek vir Christiana Kom
CHRISTIANA: Die loodsfabriek om PUG-materiaal, die nuwe uitvindsel van mnr. Gert Uys, te vervaardig, sal R3 miljoen plus, kos en sal, volgens die ooreenkoms met die bouers, einde Januarie voltooi wees.

Mnr. Gert Uys beduie hier op die ingewikkelde bouplanne van die loodsfabriek waar die eerste PUG gemaak gaan word.
Hierdie koste sluit die prys van die aanvanklike masjiene en rekenaars in en dit sal ook nog 'n tyd duur voordat die installasie daarvan voltooi sal wees.
Die gebou word op 'n terrein van tien erwe opgerig. Die erwe sal nie in die stadium ten volle gebruik word nie, maar die bouplanne is so opgetrek dat die uitbreidings na wilkeur aangebring kan word met die minimum koste.
Die loodsfabriek sal die hoofkantoor huisves. Aanbouings sal net die uitbreiding aan die fabriek gedeelte behels en dus goedkoper ook wees.
Mnr. Uys het ook reeds planne met ander grond wat later benodig sal word. Dit is noodsaaklik dat voorsiening vir genoeg nywerheidsgrond gemaak word, veral gesien in die lig van nuwe deurbrake wat gemaak is en nog gemaak sal word.
Die nuutste deurbraak hou verband met die geweldige hoë isolasie vermoë van nagenoeg 23 900 volts op 'n milimeter dikte materiaal - 'n vermoë wat moontlik nog heelwat hoër kan staan en waarvoor moontlike fabrieke net vir daardie doel opgerig sal word, baie groot.
Mnr. Uys is egter vasberade om te keer dat geen fabrikant van materiale wat tans in gebruik is skade ly nie. Planne om dit te voorkom is reeds ingebou in die hele stelsel van bemarking. Monopolitiese toestande gaan met alle mag bestry word.