Die Nederduitse Gereformeerde Kerk... na Honderd Jaar!
Die leraars, kerkrade, pastorieë en die twee N. G. Gemeentes van Christiana wil graag langs hierdie weg hul hartlike gelukwense uitspreek teenoor die Stadsraad met ons dorp se honderdjarige bestaan en feesviering. Ons is saam met u bly en dankbaar!
Waar die N.G. Kerk slegs enkele jare nadat die dorp gestig is ook sy eerste gemeente hier gestig het, is dit begryplik dat die lief en leed van die verlede dikwels deur die plaaslike owerhede en die kerk saam gedra en gedeel is. Daar was dan ook altyd onderlinge en wedersydse begrip en hartlike samewerking.
Wat die toekoms betref, is dit ons bede dat die vergesigte en toekomsideale wat ons Stadsvaders vir die volgende skof beoog- met die hulp van Bo weldra verwenslik sal word. Soos in die verlede wil ons hulle ook verseker van die N.G. Kerk se samewerking en voorbidding in die toekoms.
HISTORIESE OORSIG
Hier volg nou 'n kort historiese oorsig van die twee N.G. gemeentes van Christiana.
Christiana (Moedergemeente)
Hierdie gemeente, op die wal van die Vaalrivier, lê aan die uiterste vingerpunt van Wes-Transvaal. Die gemeente is in werklikheid 'n paar jaar vroeër gestig, maar in 1898 herstig. Gegewens van die eerste stigting en wat aanleiding gegee het tot die herstigting ontbreek omdat al die stukke van die voorafgaande tydperk tydens die Anglo-Boereoorlog deur brand verlore geraak het.
Hoewel die gegewens omtrent die gemeente voor 1898 dus uiters skraal is, is dit wel bekend dat die eerste kerkgeboutjie 'n sinkgebou was, wat later deur 'n steengeboude kerksaal in Beststraat vervang is. Hierdie geboutjie is ook as skool gebruik, met as eerste onderwyseres 'n mej. König - die latere eggenote van die welbekende Genl. Beyers. Die hoeksteen van hierdie kerkgeboutjie met die datum 15 Januarie 1887 daarop, is tans nog in die veilige bewaring van die plaaslike Laerskool.
Die eerste leraar van die gemeente was ds. K. T. van den Heever, wat in 1898 van Bloemhof, die moedergemeente, na Christiana beroep is. Na hom het gevolg: Di. C. A. van der Merwe (1909-13). J. A. Koch (1914-16), dr. H. S. Pretorius (1916-25), di. A. W. de V. Esterhuysen (1926-29), H. A. de wet (1930- 41), J. L. Pretorius (1941-48), D. J. Streicher (1948-64), R. M. Britz (1953-54), as medeleraar), M. van de Wall (1965-68) en N. R. J. van Zijl (1969-hede). Eersgenoemde vier leraars is reeds oorlede.
Die Moedergemeente het moeilike tye beleef. Kort na die stigting moes die gemeente die vuurproef van die Tweede Vryheidsoorlog deurgaan. Engelse troepe was hier gestasioneer en weldra is die aarde omgedolwe op soek na diamante. Die na-oorlogse ellende en armoede het die mense alhier genoodsaak om ook hulle heil in die diamantdelwery te soek.
Die gemeente het egter met moed en durf voortgebeur en die armoede stadig maar seker afgeskud. Die hoeksteen van die huidige klipkerkgebou is op 9 April 1921 deur dr. H. S. Pretorius gelê. Dis die eerste kerkgebou wat deur die welbekende argitek, Gerard Moerdyk, ontwerp is.
Ongelukkig het die na-oorlogse depressie weer toegesak en kon die toring van die kerkgebou nie voltooi word nie en moes die gemeente 'n geweldige skuldelas dra. So swaar het die laste gedruk dat die Kerkraad noodgedwonge was om van die gemeente se dorpseiendom te verkoop. Met moed en taaie volharding kon die skuld eindelik gedelg word en die sierlike toring in 1948 sonder skuld voltooi word. Tydens die bediening van ds. M. van de Wall is die kerkgebou opgeknap en veral binnekant gemoderniseer.
Ondanks die heersende droogte verkeer hierdie gemeente tans finansieel op 'n gesonde basis. Tog is daar nog een groot leemte... wat deur die jare wat verby is nog maar altyd net 'n droom was: die behoefte aan 'n eie kerksaal! Met ons eie driekwart-eeufees net om die draai (1973) hoop ons dat hierdie langgevoelde behoefte spoedig verwesenlik sal word.
Die Gemeente Oor-Die-Vaal
In 1961 het interessante verwikkelinge plaasgevind toe 'n gedeelte van die lidmate van Hertzogville versoek het om by Christiana ingeskakel te word. (Hoewel hierdie boere aan die Vrystaatse kant van die Vaalrivier woon en administratief onder Hertzogville ressorteer, is hulle in werklikheid lede van die Christianase gemeenskap, in dié opsig dat hul kinders hier op skool is, hul besigheid word hier gedoen, hul pos- en ander geriewe is hier, en hulle vorm geografies tog maar deel van Christiana.)
Die kerkrade van Hertzogville en Christiana het toe ooreengekom en die saak is vir goedkeuring na die ringe van Boshof en Bloemhof verwys, wat dit op hulle beurt na die onderskeie sinodes van Oranje-Vrystaat en Transvaal verwys het. So het hierdie Vrystaters dan kerklik Transvalers geword!
Die gemeente van Christiana, self reeds al 'n groot gemeente van oor die 1,200 lidmate, moes nou op hierdie stadium planne beraam vir afstigting. 'n Nuwe gemeente, Oor-die-Vaal, (so genoem vanweë sy besondere ligging) is op 20 Junie 1962 gestig, met die Vaalrivier (in die distrik) en Robynstraat (in die dorp) as grens tussen die moeder- en dogtergemeentes. Onder die eerste 30 kerkraadslede noem ons graag met eerbied die salige nagedagtenis van wyle mnr. J. G. Hurter, onderwyser aan die Laerskool, en wyle mnr. J. H. Kemp, 'n boer. In 1963 is ds. Attie Botha as eerste leraar van die gemeente ontvang en bevestig. Tydens sy bediening alhier is die mooi pastorie (1964) en die sierlike kerkgebou (1965) in gebruik geneem. In 1966 het ds. Botha 'n beroep aanvaar na Pierneef (Pretoria) en is hy teen die einde van daardie jaar opgevolg deur ds. S. I. Strydom.
Tans gaan die gemeente gebuk onder 'n groot bouskuld veral vanweë die aanhoudende droogte, maar noemenswaardig is dat juis in hierdie eeufeesjaar die seën van die Here só met die gemeente was, dat die skuld met R12,000 verminder kon word.


