Christiana: Die Tuindorp aan die Vaal!
Hierdie groeiende dorp is pragtig geleë aan die vrugbare oewers van die Vaalrivier, en vorm geografies feitlik die middelpunt van die Unie van Suid-Afrika.
Christiana is ideaal geleë op die Nasionale Pad van Kaapstad na Johannesburg, en aan die Hoofspoorlyn tussen die Suide en die Noorde, en reg in die lyn van enige uiteindelike plattelandse elektrifikasieskema, en Ghaapseberg, Vryburg en Wes-Transvaal. Ook is Christiana die aangewese lommeryke poort tot die goudvelde van die Vrystaat, want 'n pragtige 1,250 voet lange staalbrug oorspan hier die Vaalrivier, natuurlike grens tussen Vrystaat en Transvaal.
Gestig in 1870, het die dorpie vroeg in sy bestaan die waters van die vaalrivier uitgelei om die lewegewende krag te skenk aan die oewerbewoners, en 'n watervoor is aangelê om die dorpserwe te voorsien van 'n standhoudende, lopende watervoorraad, en bome is aangeplant.
In die loop van die wisselende jare het hierdie dorpie, ondanks epidemie, terugslag en teistering, gegroei tot 'n dorp van skoonheid en skone belofte. Vandag is Christiana waterryk, en sowat twee-derdes van die dorpserwe het, deur middel van 'n netwerk van uitkeervore, uit die Munisipale kanaal, lei-water, getrek uit die Vaalrivier deur eie swaartekrag. Die hoofkanaal sowat nege voet wyd en drie voet diep, word tans deur die Munisipale Raad met beton herbou - geen wonder dat 'n prospektiewe koper uit Bloemfontein afkomstig onlangs by die aanskouing van die kanaal gevra het: "En waar dan is die skuit om hier oor te steek?"Pragtige sierbome en vrugtebome omskep die dorp in 'n tuin. En vir diegene met 'n oog vir wat skoon is, verskaf die inwerking van die immer wisselende seisoene op die dorpsgewaad 'n nimmer eindigende suiwer fees, terwyl vir die fynproewer van vrugte en groente daar geur en smaak na hartelus in oorvloed is - van die ou bekende geel perske tot die jongste spog vrugte. In die voorjaar kan 'n mens dink dat Leipoldt in Christiana sy "Oktobermaand" geskryf het: "Perske, peer en appelkoos..." maar nog meer as wat hy genoem het is hier. Ja, soveel dat daar groot moontlikheid bestaan vir die oprigting van 'n konfyt-, inmaak-, of ontwateringsfabriek; die verwesinliking hiervan wag net op 'n ondernemende gees. Christiana en sy nabye omgewing - Vaalhartz, Warrenton en Barkly-Wes - sal meer as genoeg vrugte en groente kan verskaf vir so 'n onderneming indien die saak stelselmatig en met durf aangepak word. Die 2,500 inwoners van Christiana sal nie self alles kan verteer wat plaaslik geproduseer kan word nie.
Ook is planne vir 'n £20,000 Turbiene Besproeiings-skema reeds vir goedkeuring van die Administrateur voorgelê, en deur middel van hierdie skema sal aan die tans droë deel van die dorp besproeiingswater verskaf kan word, asook sowat 100 eenmorg landboupersele aangrensend aan die dorp, wat dan te koop aangebied sal word. Verder is die planne vir 'n 260-erf uitbreiding in Oostelike en Noordelike rigting reeds deur die landmeter opgestel, vir voorlegging aan die Administrateur vir goedkeuring. Sodra die bogenoemde waterskema goedgekeur is, word die verdere uitbreiding aangevra. Melding mag hier ook gemaak word van die feit dat die planne in verband met diamantslypery alhier, reeds by die raad ingedien is; ook dat die dorp se hoofstraat wat sowat twee myl lank is, van 'n beton blad voorsien gaan word.
Die dorp word voorsien van elektriese lig deur 'n kragstasie waarvan die enjins 'n kapasiteit het van sowat 275 k.w., en alle moontlike pogings word aangewend om aan elke inwoner wat daarom aansoek doen die fasiliteite van elektriese verligting te verskaf.
Die dorpsgronde is 11,000 morge groot en daar is 'n goud-opsie op hierdie gronde reeds toegestaan; die algemene verwagting is dat daar wel goud in hierdie dele te vind is, en 'n groot aantal van die plase in hierdie distrik is onder goud-opsies.
Die bou-aktiwiteite en die aankoop van eiendomme toon ook aan dat Christiana lewenskragtig is, en 'n gunsteling onder die dorpe geword het; want uit alle oorde kom kopers en nuwe inwoners aan en gedurigdeur kan bou-bedrywighede waargeneem word - belangrikste waarvan op die oomblik miskien die £4,000-voltooiingswerk aan die N.G. Kerkgebou is. Gedurende die boekjaar 1945/46 is bouplanne ter waarde van £20,065 deur die Raad goedgekeur, en gedurende die jaar 1946-47 is vir 'n groterbedrag planne goedgekeur. Die totale waarde van die dorp soos tydens die jongste waardasie vasgestel, beloop £437,270. Nieteenstaande is Christiana nog een van die dorpe met die laagste belasting.
Wat onderwys-fasiliteite betref, staan Christiana nie agter nie. In die dorp self is daar nie minder as drie opvoedingsinrigtings nie.
Hier is 'n hoërskool wat aan seuns en dogters alle fasiliteite aanbied vir 'n doeltreffende Hoërskoolopleiding; so is daar 'n wye vakkeuse buiteskoolse aktiwiteite, en ruim sportvelde. Die personeel bestaan uit 16 goedgekwalifiseerde onderwysers met Mnr. N.G. Alant, B.A., H.O.D., aan die hoof. 'n Modern ingerigte koshuis, geleë naby die skool, kerk en spoorwegstasie, is aan die skool verbonde, en staan onder die bekwame direkte toesig van die hoof as superintendent.
Vir die dogters tussen 14 en 18 jaar, wie na Standerd VI in die huishoudkunde wil spesialiseer, is hier 'n netjiese goedtoegeruste reeks geboue wat die Hoër Huishoudskool uitmaak, geleë op 'n ruim terrein. Hier kan die toekomstige moeders en leidsters van ons volk, hulle deeglik toerus vir hul lewenstaak, sodat hulle hul plek waardiglik kan inneem in die samelewing. Behalwe gewone skoolwerk sluit die aangeleenthede nog in; sport, C.S.V., debatsverenigings, biblioteekgeriewe, koorsang in die kerk, konserte, e.d.m.
Besonder nuttige kursusse word hier aangebied. Daar is twee hostels, elk onder behoorlike toesig van inwonende staflede. 'n Goeie verskeidenheid van gesonde voedsel word verskaf, volgens 'n vasgestelde dieëtskaal deur die Departement goedgekeur. Die Hoër Huishoudskool staan onder die bekwame leiding van die prinsipale, Mej. S. L. van Heerden. In 'n mooi gebou, op ruim gronde geleë, word die Primêreskool gehuisves. Leerlinge word vanaf ses jaar toegelaat, vanaf Graad I tot Std. V, aan die begin van die eerste en derde kwartale. Gedurende die eerste en vierde kwartale ontvang alle leerlinge onderrig deur hulle klas onderwysers(esse) in die Munisipale swembad. Daar word 'n volle maaltyd verskaf, elke skooldag aan elke leerling, volgens die Nasionale Voedings-skema. Onderwys, boeke, skoolmateriaal en voeding is gratis. Van leerlinge word slegs 'n nominale Skoolfonds bydrae verwag, en hieruit word koste vereffen in verband met aankoop van biblioteeksboeke, opvoedkundige rolprente en nodige apparaat. Daar is 540 leerlinge tans ingeskrywe en 'n goedgekwalifiseerde staf van 16, onder leiding van die hoof, Mnr. R. F. Botha, B.A., B.Ed., Honneurs.
Ook die handelsgemeenskap het kragte saam gesnoer en hier bestaan 'n sterk Kamer van Koophandel, waarvan die volgende lede die bestuur uitmaak:
Voorsitter, Mnr. P. J. Smit.
Ondervoors., Mnr. J. J. van Rensburg.
Sekretaris, Mnr. H. J. Hanekom.
Tesourier, Mnr. G. Jacobs.
Non-offisiële lid, Mnr. J. Talmud.
Die distrik is geskik vir bees- en skaapboerdery, sowel as vir saaiery, en daar word gereëlde vee-vendusies alhier gehou met 'n omset van ongeveer £4,000 per maand. Ook bestaan hier 'n graanstoor van die S.W.T.K.L.V. waarheen die duisende sakke graan gereëld ingery word na die oes.
Maar hierdie aangeleenthede put nog nie al die voorbeelde uit wat Christiana aanbied nie. Bo en behalwe alles hierbo genoem is Christiana by uitstek 'n vakansie-, plesier-, en gesondheidsoord. Geleë aan die Vaalrivier, trek hy volle voordeel van 'n 22 myl lange watervlak wat soos 'n slang slinger tussen die pragtigste lommeryke oewers. Die onmiddelike nabyheid van die rivier is ook voorwaar die vakansieganger se elysium - visvang, sonbaddens, swem en roei of seil in seil-, roei-, of motorboot - en dit vir die grootste gedeelte van die jaar, wat die heerlike gemagtigde klimaat wat Christiana eie is, bewys.
Langs die oewers staan pragtige bome wat onweerstaanbaar die kampeerder lok om sy tent te gaan haal en te kom ontspan hier in die vrye natuur, en die afgewerkte liggaam of afgeblote gees te herstel.
En slegs 'n lekker wandeling uit Christiana, langs die grootpad na Bloemhof, lê die helende waters van die kruitbad van Christiana. Daar borrel die mineraalgelaaide waters diep uit die aarde se binneste uit, en dien as geneesmiddel vir volwassenes en kinders van pynlike kwale, en skenk nuwe lewenshoop en lewenslus aan die swaar beproefde lyers. Dit ly geen twyfel nie dat hierdie donker, onwelriekende bronwaters genesing deur die misterieuse krag wat hulle besit, geskenk het aan duisende lydende besoekers. Hierdie bron van waters behoort aan die Stadsraad, en daar word verwag dat die terrein eersdaags verfraai en die geriewe by die bron gemoderniseer sal word. 'n Onlangse amptelike ontleding van die geheimsinnige bronwaters het bewys gelewer dat die kruitwater van Christiana redelik swaar gemineraliseerde swawelwater is, wat ewe geneeskragtig behoort te wees as baie van die Europese badwaters wat geneeskundige krag sou besit.
Christiana vir die man met visie - vir die rustende boer - vir die afgetrede amptenaar.




